Robvrektes: Voedseltekort gewis één van die oorsake
Terwyl die massa aborsies en -vrektes onder robbe reeds internasionale aandag getrek het, hoop wetenskaplikes om binne weke meer antwoorde oor die oorsaak te hê.
Elvira Hattingh – Navorsers is dit eens dat 'n gebrek aan genoeg kos een van die faktore is wat bydra tot die huidige massa-aborsies en vrektes onder die Kaapse pelsrobbe teen die Namibiese kus.
Dr. Simon Elwen, direkteur van navorsing by die Namibiese Dolfynprojek (NDP), sê egter die uitermate hoë aantal aborsies onder die robbe, veral by Pelikaanpunt, oor die laaste paar dae het afgeneem. Tog duur dit steeds voort, wel teen 'n stadiger pas.
Hy sê verder weg van die groot kolonies, noord teen die kuslyn op, is groot getalle ouer robbe ook dood gevind. Onder hulle tel veral jaaroue robbetjies wat hul moeders verlaat en op hul eie begin jag het.
“Wetenskaplikes is redelik seker dat voedingstres, of 'n gebrek aan kos, 'n bydraende faktor tot die gebeurtenis is. Tog verwag mens nie dat voedingstres tegelykertyd tot soveel vrektes sal lei nie,” het hy gister aan Republikein gesê.
Elwen sê dis moeilik om 'n aanduiding te gee van hoeveel robbe reeds gevrek het, juis omdat hulle verspreid voorkom en dooie robbe vanaf Lüderitz tot verby Hentiesbaai opgemerk is. Hy het bygevoeg dat die robbe by Kaapkruis baie gesonder voorkom en daar minder vrektes as by Pelikaanpunt te bespeur is.
Voorheen is gereken dat ongeveer 5 000 aborsies by Pelikaanpunt alleen getel is.
NAMIBIESE PROBLEEM
Die rob, wat endemies aan Suider-Afrika se kus is en vanaf die suidelike Angolese kus tot so ver as Algoabaai voorkom, blyk nie dieselfde lot elders te hê nie.
“Die vrektes blyk 'n Namibiese probleem te wees,” het hy gesê.
“Dit gaan ook 'n beduidende uitwerking op hierdie jaar se paarseisoen hê wat binnekort opnuut sou begin, buiten daarvoor dat talle welpies wat vanaf November gebore moes word, reeds geaborteer is.”
Op die vraag oor wanneer daar 'n antwoord sal wees oor watter ander faktore tot die robvrektes bydra, sê Elwen dat hulle hoop om oor bietjie meer as 'n week uitslae vanaf laboratoriums te ontvang.
Hy sê alhoewel die vrektes as 'n natuurlike verskynsel beskou kan word, is dit nodig om die oorsake daarvan vas te stel en so ook die aandeel wat menslike aktiwiteite, soos oorbevissing, daarin kon hê.
Hoewel daar nie tans veel aan die tragedie gedoen kan word nie, kan dié inligting dalk help om bedrywighede in die toekoms beter te bestuur en so 'n tragedie te voorkom, het hy gesê.
UITERSTES
Lüderitz Marine Research sê oor die afgelope drie dekades het massa-aborsies onder robbe voorgekom in jare wanneer daar uiterste voedseltekorte was, wat verbind is met anomaliteite in oseanografiese toestande, soos lae suurstofvlakke in die water of 'n Benguela Niño-gebeurtenis.
Ocean Conservation Namibia se mnr. Naudé Dreyer, wat die eerste was om die massa-aborsies aan te meld, het intussen met 'n geldinsameling begin om vas te stel wat die vrektes veroorsaak. Dit omdat die versameling van monsters van dooie robbe privaat befonds word. Meer oor dié inisiatief kan by gogetfunding.com/babyseals gevind word.
Namibië se robvrektes het intussen internasionale nuus gehaal, wat insluit die nuuskanaal Al Jazeera, asook Britse en Suid-Afrikaanse nuuskanale.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie