Robwerkers betoog oor visserye-besluit

Seal Products se werknemers is ontevrede omdat die Swapo Jeugliga glo eers 40% rob-kwotas moet ontvang, voordat hul werkgewer enige kan kry.
Adolf Kaure
Adolf Kaure op Hentiesbaai – Sowat vyftig werknemers van ’n rob-oesmaatskappy, Seal Products, het Saterdag ’n vreedsame betoging gehou om hul ontevredenheid uit te druk oor ’n onlangse besluit deur dr. Albert Kawana, minister van visserye en mariene hulpbronne, wat die groep vir maande lank werkloos laat.

Kawana het glo onlangs ’n brief aan die bestuurder van Seal Products, mnr. Gys Cilliers, geskryf. In die brief is ’n voorwaarde gestel dat Seal Products slegs kwotas sal ontvang sodra 40% daarvan aan die Swapo Jeugliga (SPYL) toegeken is.

Die woordvoerder vir Seal Products se werknemers, mnr. Mario Katjau, het ’n petisie aan die voorsitter van Hentiesbaai-stadsraad se besturende komitee, mnr. Michael Skini, oorhandig.

“Ons word geraak deur die besluit deur jou kantoor (verwysend na die ministerie van visserye). Ons tyd vir die oes van robbe is vertraag en talle mense word werkloos gelaat.

“Vir 20 jaar was Seal Products nog nooit in so ’n situasie nie, slegs vanjaar,” het Katjau gesê. Hy het ook gevra dat die ministerie die oestydperk vir robbe tot 30 November verleng.

“Ons wil hê die nuwe kwota moet 12 000 bulle in Februarie wees, wat die werknemers van Seal Products sal toelaat om ’n jaar lank te werk.

“Ons vra dat u kantoor genoeg robbe aan die Hentiesbaai-gemeenskap verskaf sodat ons na ons behoeftes kan omsien.

Skini het gesê: “As leiers is ons bewus van jul probleem en is reeds daarvan in kennis gestel van die viskowatas wat Seal Products nie ontvang het nie.

“Ons ontvang die nuus met gemengde gevoelens. Ons as leiers is ewe bekommerd as wat julle is.

“Ek het die petisie ontvang as die leier wat verantwoordelik is vir die gemeenskap van Hentiesbaai. Ek sal eerste ding Maandagoggend hierdie nuus aan ons burgemeester oordra sodat aandag hieraan gegee kan word.”

Volgens Skini sal die petisie prioriteit by die dorpsraad geniet, sodat dit aan die relevante minister aangestuur kan word sodat hy die saak kan opvolg en die gemeenskap se besware kan hanteer.

Meer as 150 werknemers van Seal Products is sedert November 2019 werkloos.

Een van hulle is die 60-jarige mnr. Eliaser Kweyo. Hy het sewe kinders tussen die ouderdomme van 20 en 24 jaar oud, asook ’n werklose vrou.

Sedert hy nie meer ’n inkomste het nie, moet hy ander maniere vind om geld te verdien. “Ek gaan vang dikwels vis en verkoop dit. Dit help my met ’n bietjie geld waarmee ek vir my familie kan sorg en rekeninge betaal,” het hy gesê.

Me. Sandy Ganuses (27) is ’n enkelmoeder van drie kinders. Haar oudste, wat nou agt jaar oud is, bly by haar om te kan skoolgaan.

“Tans maak ons staat op kosskenkings deur die regering om te kan oorleef,” het sy gesê.

Kawana sal na verwagting glo op 7 Oktober ’n aankondiging in die parlement oor spesifiek Seal Products se klagte maak.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!