Rockwell se filiale in sakeredding geplaas
Rockwell se filiale in sakeredding geplaas

Rockwell se filiale in sakeredding geplaas

Rockwell Diamonds se drie filiale gaan nie gelikwideer word nie, nadat die maatskappy se aansoek om sakeredding goedgekeur is.

’n Voorlopige likwidasiebevel is op 23 Maart in Kimberley teen die Kanadese diamantmaatskappy se drie Suid-Afrikaanse filiale, Rockwell RSA, HC van Wyk Diamonds en Saxendrift Mine, uitgereik.

C-Rock Mining (CML), een van Rockwell se kontrakteurs, het die aansoek om die filiale te likwideer, ingedien.

CML se aansoek het daarop berus dat hy ’n ooreenkoms vir kontrakmynwerk by die bedrywighede gehad het, dat Rockwell onderneem het om CML te vergoed vir sekere belastingboetes en die rente daarop en dat Rockwell sekere skuld van Saxendrift sou betaal.

Rockwell sê in ’n verklaring die feit dat die hooggeregshof in Kimberley sy aansoek om sakeredding op 18 Mei goedgekeur het, dui daarop dat daar “ ’n redelike vooruitsig bestaan om die filiale te red en hul winsgewendheid op die lang termyn te herstel”.

Louwressè Specht, prokureur by Molenaar & Griffiths wat CML verteenwoordig, het voorheen gesê “as die hof die aansoek om sakeredding goedkeur, neem ’n sakeredder beheer van die maatskappye en bestuur dit volgens ’n plan wat deur die krediteure goedgekeur is.

“In dié geval sal die verhoor vir finale likwidasie dan nie op 22 Junie aangehoor word nie en sal dit vir ’n latere datum op die hofrol geplaas word.”

Peter van den Steen en Trevor Murgatroyd van Metis Strategic Advisors is as tussentydse sakeredders aangestel. Hul aanstelling moet deur die krediteure bekragtig word, waarna hulle met die maatskappy sal saamwerk om die sakeplan te verfyn en terugvoering oor die vordering aan die krediteure sal gee.

Rockwell sê in sy verklaring hy gaan voortgaan met kriminele en siviele eise teen CML en individue wat by CML betrokke is.

Die maatskappy het voorheen in ’n verklaring gesê ’n forensiese ondersoek wat hy laat doen het, het talle ongerymdhede blootgelê ten opsigte van beweerde ooreenkomste met CML.

Verhandeling in die maatskappy se aandele op sowel die Toronto-beurs as die JSE is vantevore opgeskort weens die onsekerheid oor die likwidasie-aansoek. Rockwell het intussen ook aansoek gedoen om van Toronto se hoofaandelebeurs te denoteer en om eerder op die waagkapitaalbeurs te noteer. Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer