Rolprentmaker Linda De Jager - Talent onbeperk
Die Namibies gebore vervaardiger, regisseur en skrywer Linda de Jager is op die oomblik in die land vir die vrystelling van haar nuwe animasiereeks /Gasa.
Haar roeping is om Afrika-stories met integriteit en passie te vertel. Sy is ook betrokke by ’n opwindende landkunsprojek vir bewaring in die Suide.
Waar is jy gebore? Vertel ons van jou kinder- en jeugjare.
Ek het grootgeword in Walvisbaai, Namibië - ’n pragtige plekkie omring met duine, see en natuurskoon.
Ek het in ‘n redelik geïsoleerde, baie beskermde omgewing grootgeword. Dit het voor- en nadele.
Het jy ’n geliefkoosde herinnering aan jou kinderjare?
My mooiste herinneringe is my oorlede pa, Christo de Jager, se plaas Rostock waar ons gaan kuier het as kind.
Daar is amper niks, net klippe, ‘n intense barheid, skerpioene en pragtige horisonne– en dan my oom Lothar Wilhelm se plaas Kanambo naby Kalkfeld, vakansies wat gekenmerk is deur piekniek-hou in die rivier en “mittagkafee” met gebak onder koeltebome en mooi stories oor my komiese Duitse oupa se doen en late op die familieplaas. Ek het hier reeds toe my tyd verwyl deur vir my niggies en nefies, Britta, Margit en Martin, kinderstories te vertel wat ek self opgedis het. Ek dink hulle was my eerste en enigste waarderende “audience”.
Jy is ’n vervaardiger, regisseur en skrywer. Watter een lê vir jou die naaste aan die hart?
In terme van my CV is ek ’n vervaardiger en regisseur.
My mees onlangse projek was die regie van Coenie de Villiers se reeks, ’n Ander Wêreld met Coenie, vir M-Net. Ek werk al die afgelope vyftien jaar in Johannesburg in die TV-wêreld. Maar ek is eintlik ’n verskuilde skrywer. Ek skryf die heeltyd idees op servette en op los stukke papier neer en verloor alles dan weer. Ek het nou weer kreatief begin skryf met die Namibiese animasie /Gasa, die gedeeltes wat nie tradisionele stories is nie.
Ek skryf ook baie resensies. My mees onlangse resensie, op versoek van prof. Etienne van Heerden, was oor Sluipmoordenaar van die Staat, die boek oor Eugene de Kock se lewensverhaal. My resensies is meestal akademies gerig, maar ek is stadig maar seker besig om terug te keer na kreatiewe skryfwerk.
Hoe het jou belangstelling in die rolprentbedryf begin?
Ruda Landman van Carte Blanche-faam het by Hoërskool Walvisbaai ’n toespraak gehou.
Ek was aangetrek deur haar intellek, en ’n definisie van vrouwees wat onderskryf word deur wat jy het om te bied as mens en nie jou geslag en ’n voorgeskrewe rol nie. Ek het haar gekies as my rolmodel en my voorgeneem om eendag saam met haar te werk.
Ek het vyftien jaar ná die eerste ontmoeting begin om insetsels vir Carte Blanche te vervaardig en mettertyd met haar begin werk. Volgende jaar neem ek die kreatiewe deel, regie en medevervaardiging van die program wat sy tans aanbied oor naamlik, Vir Ander Dinge, onder die Bright Rock-vaandel.
Jy was die regisseur en vervaardiger van Grensoorlog en het daardeur ’n belangrike tyd in Namibië se geskiedenis gedokumenteer. Min dinge kan dit oortref. Vertel die storie – hoekom jy, en hoe het dit gevoel om te weet dat jy geskiedenis dokumenteer?
Die reeks het oor my pad gekom omdat die persoon wat dit moes doen, radiopersoonlikheid Derrich Gardener, nie beskikbaar was nie en hy my nader gehark het.
Ek het ’n yslike verantwoordelikheid geërf. Seker "destiny". My tuisdorp het ’n groot militêre basis gehad.
Grensoorlog was ’n interessante en bittere uitdaging. Ek wou graag ’n gebalanseerde reeks daarstel. Ek het toe begin onderhoude doen met ’n wye spektrum van Swapo-kaders, Russiese veterane tot by die destydse SANW-veterane. Ek het baie geleer en geweldige respek onwikkel vir soldate aan beide kante.
Wat wou jy met hierdie reeks oordra?
Ek het geen agenda gehad nie.
Ek wou historiese gegewe dokumenteer van beide kante af binne ’n baie beperkte begroting en ek het my bes probeer om presies dit te doen al was dit vir ’n redelike klein, konserwatiewe Afrikaansgesinde platform. Grensoorlog is intussen in Engels vertaal as Bush War en dit bly een van M-Net se topverkopers.
Watter impak het die reeks gehad?
Ten spyte van die fel kritiek wat die reeks aanvanklik gekry het, het ek briewe en e-posse na drie maande van eerste vertonings begin kry van mense oor die hele wêreld wat die reeks wil aankoop en dit vir hul familielede wil aankoop. Toe het ek besef dat ek miskien iets gedokumenteer het (met die hulp van my medewerkers) wat die toets van die tyd deurstaan het en ’n gebalanseerde perspektief bied op ’n intense era.
Ek dink dit het ’n baie genesende krag gehad en dis hoe ek dit sou wou gehad het.
Wat was sommige van die uitdagings met die maak van hierdie reeks?
Om die historiese gegewe in ’n konteks te verweef, was ’n reusetaak, so ek moes baie navorsing doen en lees.
Ek het ook medewerkers gehad wat uitstekende werk gedoen het. Maar die groot uitdaging was iets wat ek nie kon voorsien nie: Om die emosionele lading te hanteer - want mense vertel vir jou goed “off-camera” en jy is skielik gebombardeer met baie grafiese details van oorlogsones.
Ek raak na dese tranerig as ek die Namibiese volkslied sing en die woorde, “blood watered our freedom,” kan ek glad nie saamsing nie, ek besef maar te goed daar is werklike mense met werklike pyn agter hierdie sinsnede aan beide kante. Ek bly dus maar stil as die deel van die lied gesing moet word - en stuur steeds ’n skietgebed op vir diegene wat my pad in die reeks gekruis het. Soldate wat wel bly leef het, maar nooit die emosionele skrapnel kon verwerk nie.
Die nuwe animasieprent /Gasa – vertel meer daarvan? Wat het gelei tot die maak van dié animasie?
Die animasie het onstaan omdat ek graag ’n bydrae wou maak tot die gesprek van bewaring in Namibië en ’n stem wou gee aan iets wat my diep kwel, naamlik stroping en die onwettige handel in wildleweprodukte – en die tsunami wat van Noord-Afrika af oorspoel na ons toe help stuit.
Die FNB Trust en Pupkewitz-stigting het die ontwikkeling van die projek finansieel ondersteun. Ek wou iets skep wat gemeenskappe in afgeleë gebiede kon raak wat weerloos staan teen kriminele sindikate wat hul armoede uitbuit. Ek wou ’n ikoontjie skep in die San-karakter /Gasa met sy verbeeldingsmaatjie, mnr. Gecko, wat kinders roer en raak.
Einstein se aanhaling “imagination is more important than knowledge” was my uitgangspunt. Ek wou iets skep om kinders se verbeelding aan te gryp sodat hulle vrywilligers vir ’n saak sal word - en die intrinsieke waarde van wilde diere te eer en sodoende hopelik te veg vir hul voortbestaan. Dit is reeds in vyf Namibiese tale vertaal - met die hulp van die Namibiese Rolprentkommissie. Die tale is Nama/Damara, Rukwangali, Silozi, Kwanyama en Otjiherero. En /Gasa sal mettertyd in strokiesprentformaat die lig sien.
Weens ’n geheime ondersoek wat ek in Mosambiek gedoen het oor renosterstroping, het ek eerstehands insig gekry in die omvang van die probleem. Die eindresultaat is te siene op youtube www.rhinokiller.co.za. Ek het besef die aangeleentheid raak almal. Ons is ’n generasie wat moet besluit of ons die voortbestaan van wilde diere deel van ’n daaglikse nasionale gesprek gaan maak. Wat ek het om te bied as mens - hoe minimaal dit ookal is - wil ek veral in Namibië doen, nie in Suid-Afrika nie. Ek glo gewone mense soos ek kan nog ’n verskil maak hier - as ons saamstaan met ander mense wat dieselfde voel.
En ek hoop om so spoedig as moontlik weer voltyds hier te kan kom bly – en my kontrakwerk in Johannesburg voort te sit deur te pendel.
Het jy vantevore 'n ander karakter geskep?
Ek het as student die Dowwe Dolla-karakter gepen en vertolk wat Margit Meyer-Rödenbeck tot haar reg laat kom het, ontwikkel het en beroemd gemaak het. /Gasa is ligjare verwyder van Dowwe Dolla, maar daar is tog raakpunte in die sin dat die karakter oënskynlik skadeloos is, maar tog ernstige sosiale kommentaar lewer."
Is daar raakpunte tussen /Gasa en jou vroeëre werk, en waar pas dit in die evolusie van jou onderskeie style?
Ek het begin in die teateromgewing.
Ek het kabarette en toneelstukke geskryf. Ek het ’n BA-graad in drama en ’n honneursgraad in joernalistiek. Ek het ook kabarette opgevoer. My werk het gegroei, want my belangstellingsveld het gegroei. Ek het gegaan van daardie skeppende wêreld tot by ondersoekende joernalistiek en toe militêre geskiedenis waarvoor ek ’n suiwer belangstelling ontwikkel het - en nou “full circle” gekom. Ek is terug by suiwer kreatiewe werk waarby ek graag wil uitkom.
Wat behels die landkunsprojek waarby jy tans betrokke is?
Die projek se naam is Namib Land Art - Conversations about Conservation en die John Muafangejo-kunssentrum sal werkswinkels fasiliteer, want ons wil graag Namibiese kunstenaars en bewaringsgesindes betrek. Ek het die projek begin op Namtib Biopshere Reserve saam met die huidige eienaars (die Theile-familie) en die wêreldberoemde en bekroonde landskunstenaar Strijdom van der Merwe wat die 26ste Oktober die eerste “recce” kom doen.
Die omgewingsadviseur op die projek is dr. Telane Greyling van die wilde perde-faam. Fase twee sal op Klein Aus Vista naby Aus plaasvind met die hulp van die Swiegers-familie - en sal ook landkuns insluit wat op hul plaas sal vergestalt. Ek hoop Strijdom se werk en indrukwekkende profiel sal help om gesprekke oor bewaring in Namibië aan te wakker - en dat ons mettertyd genoeg borge sal naderhark - om met ’n unieke perspektief lewe in ’n belangrike gesprek oor ons natuurlike hulpbronne te blaas.
Wat vir my ’n belangrike dryfveer bly, is hoe ek kan help - hoe ek my netwerk, vaardighede en perspektief kan inspan om asem in te blaas in iets waarvoor ek diep omgee. Ek het deur “silent forests” in Mosambiek gery en gedog my hart gaan staan toe die realiteit van waar stroping in Namibië kan eindig tot my deurbring. Die woord “gestroop” sê dit in geen onduidelik terme nie.
Wat is jou geliefkoosde flieks?
Tans is dit die Japannese 2008-fliek Departures deur Yojiro Takita.
Immergroen ook is Black Hawk Down, die 2002-oorlogfliek van die regisseur Ridly Scott. En dan die onvergeetlike minireeks Band of Brothers deur Steven Spielberg en Tom Hanks
Maar ek het ook ’n swak plek vir sinnelose B-gehalte aksieflieks waar karre mekaar in sirkels jaag en die hele mengsel mettertyd in rook opgaan. Pure “escapism”.
En as Jason Statham aan die stuur is, dan gaan dit sommer baie goed met my.
Wat inspireer jou kreatiewe werk?
Ek neem myself ook nie so ernstig op nie.
Ek doen maar net wat ek moet doen en werp myself in die onmiddellike eise van elke dag. Ek raak egter wakker met gemiddeld drie nuwe idees ’n dag. En as iets my diep raak en ek glo daarin, dan ontaard ek in ’n totale “warrior”. Maar die teenoorgestelde is ook waar. As ek nie in iets glo nie, dan kan jy niks met my uitrig nie, soos hulle sê: Jy kan ’n donkie na die water bring, maar jy kan hom nie laat drink nie.
Watter projek sou jy as die hoogtepunt in jou loopbaan beskou?
Dit was ongelooflik om die werk van die Suid-Afrikaans gebore Space X-entrepreneur, Elon Musk, in Los Angeles te dokumenteer.
Hy het sy drome verwesenlik, net soos ons eie prof. Japie van Zyl van Nasa by wie ek ook besoek afgelê het. En dan die Grensoorlog-reeks en dan natuurlik van my programme saam met Coenie op ’n Ander Wêreld was vir my spesiaal omdat dit die heroïese energie in gewone mense se lewens toegelig het - soos die storie oor mense wat met Down-sindroom leef.
Watter raad kan jy aan aspirant-rolprentmakers gee?
My raad aan aspirant-rolprentmakers is: “Luister, moenie droom nie.
Doen net. Maak jou hande vuil. Gaan werk met iemand. Kry ’n rolmodel. Gaan stap in hul voetspore. Dra die kameras, dra vir die belangrike mense tee aan.” Kyk wat werk vir jou. ’n Groot ding is wat mense nie kommunikeer nie is dat temperament baie belangrik is. There is no romance about it. Dit is brutaal harde werk.
Wat is die belangrikste ding in jou lewe?
Ek kan nou lank praat en filosofiese raak of ek kan vir jou sê Tracy Chapman het ’n liedjie geskryf, “All that you have is your soul”. En dit som my ware noord op. ’n “Clear conscience en clean hands”, is nie ’n eenmalige keuse nie, jy kies elke dag weer daarvoor, ook in jou daaglikse omgang met mense in jou persoonlike lewe.
Wat is jou grootste professionele uitdaging
As jy ’n ekstreme introvert is, is dinge vir jou moeilik as jy heeltyd in ’n omgewing beweeg waar dit gaan oor mense en uitgesproke wees.
Ek noem dit die “toon-boor-in-die-sandsindroom”. Dit is ’n persoonlike uitdaging wat ek dalk leer bestuur het, maar nie oorwin het nie. Maar hierdie ingebore skugterheid het my ook ’n beter insig gegee in mense wat sukkel om die beste te maak van die stel kaarte wat die lewe vir hulle uitgedeel het. Mens kan jou basiese bedrading nie werklik verander nie, jy kan net daarmee probeer saamleef. En as jy geduldig raak met jouself, kan jy met ander mense ook wees.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie