Roman ’n skalpel wat kundig en klinies tot op been sny
Jonathan Amid - In sy onlangse resensie van Isa Konrad se Doodsake op Karibib opper Riaan Grobler as slotgedagte die beswaar dat daar ’n “ooraanbod” in die genre is. Grobler noem nie spesifiek enige subgenres nie, maar ’n mens stem maklik voor die voet met hom saam oor die volgehoue, verbysterende gewildheid van krimi’s, wêreldwyd.
Sou ons ’n soort wêreldkaart optrek, sou die Skandinawiërs, Britte en Amerikaners sweerlik die meeste verteenwoordiging geniet. Dog word ook met mening misdaadfiksie geskep in uiteenlopende samelewings soos Noord- en Suid Korea, Spanje, Brasilië, en nader aan ons eie grense in Kenia en Nigerië.
Wat ’n plaaslike “ooraanbod” betref, is die prentjie nog opvallender: Die meeste nuwe krimi’s wat in Engels verskyn, word deur uitgewers soos Penguin uitgegee, en is inderdaad vertalings van oorspronklik Afrikaanse romans wat gewoonlik gelyktydig uitgereik word.
Dít terwyl daar gesonde wedywering is om munt te slaan uit plaaslike lesers se onversadigde honger vir nuwe Afrikaanse misdaadfiksie, waar opwindende nuwe stemme soos Beyers de Vos omgaan met hardebaarde soos Deon Meyer, Chris Karsten en Rudie van Rensburg en die deurwinterde Chanette Paul.
Die idee van ’n ooraanbod in die konteks van die Afrikaanse krimi kan beslis van nut wees soos ons besin oor die algehele standaard van romans wat verskyn, subgenres wat uittroon in gewildheid, en ons bestekopname doen van skrywers wat die reeksformaat omarm: Madelein Rust is een so ’n skrywer.
Met Lam ter slagting word die fiktiewe Noagsgemeente geskep om gesprek te voer met die leser rondom verskillende vorms van fundamentalisme, die rol van godsdiens en obsessie, en die rol wat stories in ons samelewing speel.
Die Vrymesselaars kom daarteenoor onder die loep met ’n weldeurdagte strategiese skuif wat dit moontlik maak om ’n netwerk van korrupsie en morele kontaminasie rondom ’n herkenbaar gefragmenteerde polisiediens oop te krap.
Hierdie vierde aflewering in die Renata Malan-reeks, met ’n nommerpas titel, is noemenswaardig om ’n paar redes. Eerstens is dit klinkklare bewys dat die skrywer steeds met gevestigde karakters, en ’n oortuigend gesketste ruimte, haar getroue lesers dadelik te midde van intrigerende aksie en handeling kan plaas.
Hierdie roman is ’n skalpel wat kundig en klinies tot in die verrotting van ’n herkenbare samelewing sny, dog gerusstellend gemaklik in geregsdienaars en wetsverydelaars se koppe kan klim.
Rust se romans gaan behendig te werk om die indrukwekkende navorsing wat met elke boek se skryf gedoen word, só aan te wend dat lesers werklik ’n dieper insig in die psiges van geweldenaars en geregsdienaars kry.
Voeg daarby die komplekse werks- en liefdesverhouding tussen die hoofkarakter, die profileerder dr. Malan, en haar regterhand, Stefan Coetsee, en lesers het ’n beproefde formule wat afnemende opbrengs gemaklik die hoof bied.
Prysenswaardig is dat Rust met elke boek oortuigend, soms selfs bloedstollend, vir lesers belig presies hoe weerloos vroue, kinders en armes in die hedendaagse Suid-Afrika is.
Rust en die uitgewerspan agter die skerms by Lapa weet alte goed dat dit oorwegend vroue is wat spanningsfiksie lees. Daarom kan met vrymoedigheid met elke aflewering in die reeks genoegsame aandag aan die Malan-Coetsee-verhouding gegee word om dit as ’n sentrale bron van innerlike konflik vir die hoofkarakters te ontgin. En dit werk.
Rust-aanhangers sal weet dat die skrywer haar hand waag aan onderwerpe en temas wat selfs die mees geharde misdaadfiksieslawe bleek om die kiewe sal laat: die binnewerkinge van ’n kultus; uiterste geweld teenoor vroue en kinders; die intieme en onrusbarende verhouding tussen mag, hebsug en moorddadigheid; die aandadigheid van dié wat oënskynlik teen hul sin betrek word, en waar slagoffers ver wyer strek as dié wat direk geraak word.
Rust is dodelik wanneer sy haar blik rig op die teelaarde van boosheid en onmenslikheid, maar verstaan ook dat broosheid en feilbaarheid – menslike swakheid – nie van die gesprek rondom misdaad durf onttrek word nie.
Lam ter slagting is hoogs leesbaar: ’n daadwerklike poging skemer deur wat betref humor, afwisseling, en die skep van ’n ligter leeservaring. Rust se woorde wip en byt soos ’n chili popper.
Monstersaad is hierdie skrywer se lywigste, gewigtigste fiksiebydrae tot die gesprek rondom die rol van oorerwing en opvoeding in die ontstaan van boosheid.
Lam ter slagting bewys om die beurt dat Rust haar nie slegs tot Thor se Mjölnir hoef te wend nie. Dalk is die Toledo-dolk net so doeltreffend.
Jonathan Amid is ’n vryskutresensent van Stellenbosch.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie