Roman skep, verwoes en onthul soos water
Roman skep, verwoes en onthul soos water

Roman skep, verwoes en onthul soos water

Lloyd Zandberg
Donnay Torr - Dit is die jaar 1934, en die toekoms wink vir elkeen van Manhattan Beach se hoofkarakters ten spyte van die Groot Depressie.

Die 11-jarige Anna vergesel haar pa, Eddie, op ’n besoek aan Dexter Sykes, ’n sjarmante rampokker wat dalk Eddie (en sy gesin) se lewe met ’n werk kan verbeter.

Die trio drentel op Manhattan- strand, voor Sykes se herehuis. Hy kniel voor Anna en bespeur ’n veerkrag in die jong meisie se oë wat hom laat besluit om Eddie wel ’n kans te gee.

Van daar spring die verhaal na 1942 – die Tweede Wêreldoorlog is in volle gang.

Anna is nou 19 jaar oud. Eddie het reeds vyf jaar gelede spoorloos verdwyn. Sykes is steeds aan die stuur van die nagklubs en aktiwiteite wat New York se onderwêreld voer.

Bedags meet en pas Anna piepklein onderdele in die Brooklyn-skeepswerf; snags help sy haar ma om Anna se gestremde suster, Lydia, te versorg.

Anna is op die oog af ’n “goeie meisie”. Maar stille waters diepe grond . . .

Sy wil ’n skubaduiker word en onder water aan die oorlogskepe werk – ongehoord vir ’n vrou. En sy wil uitvind wat van haar pa geword het. Dan herontmoet Anna Sykes in een van sy nagklubs, en ’n plan kry gestalte.

Die Pulitzer-pryswenner Jennifer Egan se nuutste verhaal word saamgeweef uit die verskillende hoofkarakters se perspektiewe.

Elkeen ervaar en verstaan net ’n deel van die prentjie, maar saam skep hulle ’n ryk, komplekse landskap gekarakteriseer deur die invloed van oorlog, die gereguleerde wêreld waarin vroue destyds moes beweeg, die verskille tussen ras en klas, en die kontras tussen wellus, geweld en eindelose tederheid.

Egan se prosa vloei, kronkel en roer, soms presies en puntenerig, meestal melodies. Nou en dan verval dit in geluide en lettergrepe: Soms is taal net nie opgewasse teen emosie nie. Dié idee kry gestalte op verskeie plekke, veral wanneer ’n belese randkarakter weens skok sy vermoë om te praat verloor. Dit is egter nie die kerntema van die verhaal nie: eerder verlies. Maar in oorlogstye is verlies iets waarmee mense leer om saam te leef . . .

Die digter E.E. Cummings som Egan se nuutste vir my op: “For whatever we lose (like a you or a me) it’s always ourselves we find in the sea.” Die oseaan speel ’n belangrike rol in Manhattan Beach, en word as ’t ware ’n ekstra karakter.

Water skep, verwoes, versteek en onthul – en sleur die karakters meedoënloos mee.

*Donnay Torr is ’n vryskutjoernalis van Sydney, Australië.

- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer