Rommelstatus beteken welvaartsverliese vir boere
Duur brandstof gaan oeskoste verhoog
Dr. Kobus Laubscher
Die afgradering van Suid-Afrika se beleggingstatus sal na verwagting 'n negatiewe impak hê op die landbousektor se vermoë om lewe te blaas in 'n pap ekonomie. In Februarie vanjaar was daar al goeie nuus met 'n redelike skerp daling in die kosinflasie vanaf 11,4% in Januarie, na die 9,9% in Februarie met 'n verwagte verdere daling in Maart.
Algemene inflasie het ook tekens van verlangsaming getoon en daar was goeie rede om te glo dat dit binne die volgende twee kwartale binne die Suid-Afrikaanse Reserwebank se boonste inflasieteikens sou inbeweeg.
Van die vernaamste redes was die verdere verlangsaming in die vraag na goedere en dienste, welke tendens selfs aanleiding gegee het tot sterk argumente ten gunste van 'n daling in die rentekoers. Onlangse politieke verwikkelinge het veroorsaak dat Suid-Afrika 'n belangrike toets gedruip het en die land se beleggingstatus is vervolgens afgegradeer. Hoewel ekonome en kommentators dit as 'n ooglopende uitkoms uitgewys het, sou die politiek nie stabiliseer nie, is daar kommer dat juis dié politici nie die volle omvang van die ontwrigting verstaan het nie.
Landbou sal bepaald ook negatief beïnvloed word. Hoewel 'n verswakkende geldeenheid die verwagte uitvoere van 'n surplus mielie-oes prysgewys kan bevoordeel, is die impak van 'n verswakkende geldeenheid op invoere kommerwekkend.
Duur brandstof
Daar is reeds aanduidings van enorme stygings in die prys van brandstof wat al so vroeg as oestyd sy winsverterende tande kan inslaan en plaashek-inkomste verminder. Graanboere gaan reeds sukkel om hul somme te laat klop met 'n veel laer prys as verlede jaar, en in baie gevalle sal die verhoogde aanbod nie voldoende inkomste kan genereer om alle boerderye se finansiële beweegruimte te herstel tot die vlak van vóór die droogte nie.
Net so gaan die koste van kapitaal styg en dit kan besteebare inkomste verminder, met prysneerdrukkende gevolge. Dit kan die Suid-Afrikaanse ekonomie spoedig in 'n resessie dompel.
Die staatskas sal verdere terugslae verduur, want verminderde belastinginkomste en gevolglike groter afhanklikheid van lenings sal die koste van geleende kapitaal verhoog.
Hoër koste om besigheid te doen, sal investering ontmoedig en die matige toename in sakevertroue onder veral die uitvoerende hoofde van agri-besighede knou.
Op plaasvlak sal veral stygende energiekoste (ingevoerde brandstof) en ingevoerde komponente van byvoorbeeld kunsmis, beslis negatief inwerk op die volhoubaarheid van graanverbouing. Die logistiek om vir verdere verwerking graan te oes, sal koste ook verhoog, maar met verskillende impakte op die boer en die verbruiker.
Ekonomiese wetmatigheid bepaal dat, sou die koste van bemarkingsfunksies styg, sal die grootste deel daarvan van die boer verhaal word. Verhoogde stroop- en vervoerkoste van graan gaan vir boere se rekening. Van die stygende koste sal die verbruiker met verloop van tyd raak deur duurder kos.
Verbruiker
Die besteevermoë van die verbruiker is ook onder druk as die jongste syfers oor verbruiksbesteding van Statistiek Suid-Afrika ontleed word. Verbruiksbesteding dra tot twee derdes van die ekonomie by en dalende verbruiksbesteding sedert die begin van die jaar dui op minder diskresionêre vermoë van die verbruiker.
Hulle word toenemend verplig om geld uit te gee op wat noodsaaklik is, maar in 'n toenemende mate is daar selfs nie meer genoeg geld daarvoor nie en daarom styg skuld. Dit is veral die toename in onversekerde skuld wat kommer wek.
Kortom: Die afgradering tot rommelstatus gaan die ekonomie oor 'n wye boeg benadeel. Waar die landbousektor graag sou wou staatmaak op verhoogde vraag na voedsel en die dalende tendens van inflasie-ekonomiteit wou bevoordeel, moet die rieme nou nóg dunner gesny word.
Die verwagte sikliese toename in veegetalle op plase ná die gedwonge likwidasie tydens die langdurige droogte, kan nou laer pryse op plaasvlak tot gevolg hê omdat die vraag na vleis kontra-siklies kan verander.
Sou dit gebeur, behoort die bedryf strategies te herposisioneer met dalk groter klem op die uitvoermark.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie