Rommelstatus of nie in Suid-Afrika?
Rommelstatus of nie in Suid-Afrika?

Rommelstatus of nie in Suid-Afrika?

Die Suid-Afrikaanse president, mnr. Cyril Ramaphosa, het die beste voetjie voorgesit toe hy verteenwoordigers van Moody's ontmoet het.
Hoop, vernuwing, werkskepping en ekonomiese groei.

Dít is die rooskleurige prentjie van Suid-Afrika wat pres. Cyril Ramaphosa vir die graderingsagentskap Moody’s skets.

Ramaphosa het Woensdag vir die eerste keer sedert hy op 15 Februarie as staatspresident beëdig is met Moody’s by Tuynhuys in Kaapstad ontmoet.

Die graderingsagentskap sal op 23 Maart sy gewysigde ekonomiese uitkyk vir Suid-Afrika bekend maak.

Suid-Afrikaners wag intussen op hete kole om te hoor of die agentskap die land tot volslae rommelstatus sal afgradeer of nie.

Ramaphosa het die geleentheid gebruik om Moody’s in te lig oor verskeie inisiatiewe wat daarop gemik is om ekonomiese groei en werkskepping aan te wakker.

“Pres. Ramaphosa het die nuwe bui van hoop, vernuwing en eenheid in Suid-Afrika en die geesdrif van landsburgers beskryf om tot verandering en ontwikkeling by te dra,” sê Tyrone Seale, Ramaphosa se waarnemende woordvoerder.

Volgens Ramaphosa anker die nuwe bui van geesdrif die land en is dit sentraal tot sy bedeling se benadering oor hoe om die uitdagings aan te spreek wat Suid-Afrika in die gesig staar.

Dit sluit regeringsinisiatiewe in om beleggersvertroue te verhoog en beleid- en regulatoriese onsekerheid te verminder.

Ramaphosa het klem gelê op vars konsultasies oor die Mynbouhandves, onlangse maatreëls om die kabinet te versterk, veranderinge in die direksie en bestuur van Eskom en die regering se ondersoek na staatskaping.

Ramaphosa sê dit vorm alles deel van Suid-Afrika se uitnodiging aan beleggers om na die land te kom.

Seale sê Ramaphosa het die regering se vasberadenheid onderstreep om samewerking tussen die regering, georganiseerde arbeid, die sakewêreld en burgerlike organisasies te bevorder.

Die president glo dit sal tot die voordeel van belegging, werkskepping onder die jeug en gemeenskapsontwikkeling wees.

Ramaphosa het dit duidelik gestel dat die regering se planne vir versnelde grondhervorming binne ’n “duidelike wetlike raamwerk” sal geskied.

Hy sê die grondhervormingsplanne sal nie ’n negatiewe impak op ekonomiese groei, landbouproduksie of voedselsekerheid hê nie.

Volgens Ramaphosa is werkskepping die Suid-Afrikaanse regering se topprioriteit.

Moody’s is die enigste kredietgradeerder wat staatskuld nog op beleggingsgraad gradeer. ’n Gradeerder het drie tot ses maande om ’n hersiening af te handel, maar die meeste mense het verwag dat Moody’s kort ná die begrotingsrede op 21 Februarie sy besluit sou aankondig.

Die ander groot gradeerders, S&P Global Ratings en Fitch Ratings, het Suid-Afrika in 2017 tot rommelstatus afgegradeer. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer