Rommelstrooiers laat my rooi sien
Rommelstrooiers laat my rooi sien

Rommelstrooiers laat my rooi sien

Francoise Steynberg
Dit gebeur al hoe meer: Ek ry agter 'n kar/bakkie/taxi/minibus en woeps, daar trek 'n bottel of blik of plastieksak by die venster uit.

Rommel word net doodluiters neergegooi en rondgestrooi.

My bloeddruk styg, my are swel, my kop begin klop en my humeur se "revs" is hoër as my kar s'n. Ek toet verwoed vir die rommelstrooier. Rommelstrooier kyk my skeef aan asof ék al 10 gebooie oortree het. "Wat is fout met jóú?" vra die kwaai oë wat my aangluur.

Dan styg my bloeddruk nog hoër, 'n aar wil in my kop bars en ek moet na my hart gryp. Ek moet myself kalmeer om nie te stop om die taxi/kar/bakkie/minibus se deur oop te gooi, 'n rommelstrooier uit te pluk en dié se kop teen die teer te klap nie. Ek wil nie van aanranding of poging tot moord of selfs moord aangekla word nie.

Ek haal diep asem, tel tot 120, probeer in 'n beter bui kom, draai die radio se volumeknoppie op en sing kliphard saam.

Verlede week vat ek vir Mamma hospitaal toe vir haar oogoperasie. Voor die ingangsdeur het iemand sy polistireenbakkie opgeskeur en net daar in flenters neergegooi. Net langs die deur staan 'n asdrom. Is dit nie minder moeite om net die bakkie in die asdrom te gooi as om dit in honderde stukkies op te skeur nie? Dit was juis op die dag dat oudpres. George W. Bush die hospitaal besoek het.

Wat is fout met rommelstrooiers? 'n Gebrek aan dissipline of selfrespek? 'n Gebrek aan trots op jou land wees? Die nuwe mode van traak-my-nie-agtigheid of die nuutste mode van "daar is altyd iemand anders wat mos agter my gaan skoonmaak"?

Ek snap dit nie. My pa sou my boude aan die brand slaan as ek sou durf waag om enigiets behalwe 'n appelstronk (vir die bobbejane) uit 'n karvenster te gooi.

Eens op 'n tyd was Windhoek die skoonste stad in Afrika. Nou het Rwanda se hoofstad Kigali vir Windhoek verbygesteek. Plastieksakke is in Rwanda verbied. Sommige dorpe in Namibië lyk soos ashope. My ou tuisdorp en voormalige tuisdorp, Okahandja, steek my dwars in die krop, en Rundu is 'n rommelhoop!

Ek kon altyd by buitelandse toeriste spog oor hoe silwerskoon Namibië is. Dit is nie meer die geval nie, en ek voel soos 'n volstruis wat my kop in die naaste gat wil druk. Die adjunkminister van die omgewing en toerisme, mnr. Tommy Nambahu, deel my mening oor rommelstrooiery en hy het al hoeveel skoonmaakveldtogte van stapel gestuur.

Soms verlang ek na die asdromlorries van Taiwan. Elke oggend en aand op presies dieselfde tyd kom die asdromlorrie luidkeels aangery. Luidkeels, bedoelende daar blêr 'n liedjie oor 'n luidspreker uit om almal te waarsku dis tyd om jou vuilgoed weg te gooi. My asdromlorrie se kasset het getrek en Für Elise het vals geklink.

Daar is twee lorries: 'n gewone asdromlorrie waarin al die vullis kom en 'n lorrie vir herwinning. Op die asdromlorrie is daar tot 'n houer waarin jy jou afvalkos gooi wat varkplase toe gaan. Op die herwinningslorrie kom jou aparte sakke met blikke, papier, bottels en plastiek. In my woonstelblok het ou tannies en ooms gestry om jou herwinningsakke by jou te kry, want hulle het 'n inkomste uit herwinningsmateriaal gekry.

Dit is elke liewe ouer se plig om hul kinders te leer om nie rommel te strooi nie. Dit is elke Namibiër se plig om ons land skoon te hou. Met toeriste wat na ons land stroom, is dit tyd dat Namibië as die mooiste én skoonste land in die wêreld bekend staan.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!