Rondings net mooi vir diu00e9 rooikop
Rondings net mooi vir diu00e9 rooikop

Rondings net mooi vir dié rooikop

Lloyd Zandberg
Sy staan alombekend as die rooikop met die rondings op hierdie seisoen van The Bachelor SA wat Donderdagaande op M-Net (101) uitgesaai word, en tog is die 24-jarige Andeline Wieland gemaklik in haar eie lyf en baie trots op haar kurwes.

“Die ander deelnemers in die reeks het al snedige goed oor my dik dye te sê gehad, so asof ek kan help hoe my lyf gevorm is,” sê Wieland. “Ek dink glad nie ek het ’n perfekte lyf nie en daar is baie goed wat ek sou verander het as ek kon, maar ek leef gesond en ek het geleer om myself te aanvaar en lief te hê soos ek is.”

Om vir ’n realiteitsreeks soos The Bachelor in te skryf, is nie iets wat sommer net spontaan vir Wieland (oorspronklik van Namibië) gekom het nie.

“Ek is maar ’n tipiese Afrikaanse meisie wat nie op plekke uithang om ’n man te vang nie. Ek was vier jaar lank in ’n vaste verhouding en gereed om te trou, maar my ou het koue voete gekry. Dit was ’n harde slag vir my,” sê sy.

Haar ma het bly kla sy moet uitgaan en ander mans ontmoet, en haar pa het selfs begin skimp dat sy op Tinder, die app vir enkellopendes gaan.

“Ek is maar ’n tipiese Afrikaanse meisie wat nie op plekke uithang om ’n man te vang nie.

“Toe ek die advertensie vir The Bachelor op Facebook sien, het ek maar besluit om die kans te waag en in te skryf,” sê sy.

Sy moes haar studies in bemarking aan die Universiteit Stellenbosch opskort om deel te neem, maar het besluit die ondervinding wat sy in die Bachelor-huis sou opdoen, is meer vir haar werd. Sy was in 2012 gekroon as Mej. Tiener in Namibië en in 2016 die eerste prinses in die Mej. Namibië-skoonheidskompetisie. Later is daar vir haar gesê sy het nie gewen nie omdat die ander meisie ’n beter lyf as sy gehad het.

“Om vir byna twee maande in ’n huis saam met ’n klomp ander vroue afgesonder te leef, is byna soos om in rehabilitasie te wees. Dit was baie erg, maar ook ’n baie goeie ervaring en leerskool vir myself. Ek onthou gelukkig glad nie meer al die drama wat daarbinne afgespeel het nie, en net die goeie tye wat ek gehad het,” se Wieland.

Die grootste les wat sy geleer het in die huis is dat sy nie hoef terug te staan vir enige ander vrou nie, al het die katnaels soms tussen die vroue uitgekom.

Sy en Marisia, die spraakterapeut van Klerksdorp, het lekker oor die weg gekom en Wieland vertel dis die een persoon met wie sy maklik vriendinne sal wees.

Al dra sy ’n nommer tien rok, is sy steeds beskou as een van die groter meisies in die reeks.

“Ek oefen vier keer ’n week in die gimnasium, dis nou maar eenmaal hoe my lyf lyk,” se Wieland. “Ek is glad nie skaam om in my bikini op die strand te stap nie en vir my gaan dit daaroor om die lewe hier en nou te geniet.”

Of sy ware liefde gevind het in die tweede seisoen van hierdie realiteitsreeks is Wieland uiters geheimsinnig.

“Ek mag nie sê nie!” lag sy hard, maar sê tog dat sy baie van Marc Buchner gehou het.

“Gewoonlik sukkel ek om ’n man te kry wat langer as ek is, so Marc het in daardie opsig die paal gehaal” sê sy. Sy is 1.76 meter lank.

Wieland is openlik oor die feit dat sy aan ligte depressie ly.

“Ek het geleer om werklik te besef wat my gelukkig maak en om na my geestesgesondheid om te sien. Op 24 weet ek wat my waardes in die lewe is en wat vir my belangrik is. Ek is byvoorbeeld fanaties oor gesinstyd en ek hou van ’n man wat weet hoe om sy emosies te wys,” sê sy.

Sy is gereed om te trou en om haarself te vestig en is nie meer lus om in die bondel te vry nie.

“Ek is nou gereed vir daardie vervelige gesprekke oor die alledaagse goed in die lewe,” glimlag sy. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!