Rooi Bulle kry swaar teen Wanderers-masjien
Andrew Poolman - Ondersteuners van FNB Wanderers sal waarskynlik meer geneig wees om die nuwe werkweek met ’n glimlag te begin as wat met Trustco United die geval sal wees.
Beide spanne het Saterdag op hul tuisveld gespeel, maar terwyl Wanderers met 87-0 bo-oor Rehoboth gestorm het, het die Filistyne gestotter om net ’n verloor-bonuspunt teen Kudus te kon byvoeg.
“Ons is gister vernietig deur Wanderers,” het Rehoboth se spanbestuurder Marschell Diergaardt ná hul besoek aan die voorlopers in die NRU premierliga gesê.
“Ter versagting kan ek egter sê dat net Nathan van Wyk, Chase Diergaardt, Hilian Beukes, Paulus Hangula, Eugene Forbes en Godwin Goaseb gereelde eerstespanspelers was. Die res was uit met beserings, siekte, troues en werkverpligtinge.
“Ek is nietemin tevrede met hoe ons klein mannetjies manmoedig tot die einde probeer het om die reuse van Wanderers te keer. Drie tot vier van hulle moes soms aan ’n Wanderers-voorspeler hang. Die wedstryd was steeds in ’n baie goeie gees gespeel en ons wil die Wanderers-spelers bedank dat daar geen geniepsige of vuilspel was nie. (Skeidsregter) Jacky Husselmann het ook die wedstryd baie goed hanteer.”
Met ’n driekuns aan drieë het die regtervleuel Deselvano Beukes, vantevore ’n speler van Rehoboth en Reho Falcon, hom in sy eerste tuiswedstryd aan die ondersteuners van die Wit Hingste bekendgestel.
Beukes het tevore aan die koerant gesê hy sien uit na groot dinge in die Wanderers-trui – ondanks die gesonde kompetisie vir plekke in die agterlyn.
“Reho Falcon was die span wat my loopbaan op sy voete gekry het en ek sal hulle altyd in my gedagtes hou. Wanderers is die beste klub in die land en ek het nie gehuiwer om by hulle aan te sluit nie want hul spelpatroon pas my,” het Beukes gesê.
Linkervleuel Zaynor Platt, ook ’n nuwe gesig by Wanderers, is vars uit die skoolbanke by Windhoek Hoërskool en het ook die naweek ’n drie gedruk. Die ander driedrukkers was senter Janneman Breedt, skrumskakel Enem Kritzinger (2), agtsteman Alberto Engelbrecht (2) en flank Stef Botha, asook die plaasvervangers Wikus Jacobs en Tershwin Raubenheimer (2).
Heelagter Riaan van Zyl was vreemd genoeg afwesig op die lys van driedrukkers, maar tien van sy doelskoppe het deur die pale geseil.
KUDUS KLOP UNITED WEER
Kudus, die besoekers uit Walvisbaai, het vir 80 minute ingeklim om hul wegwedstryd teen United met 18-16 te beklink.
Al die punte in die wedstryd is in die eerste helfte aangeteken.
Toe United ná nege minute met 10-0 voor was, sou die Filistyne waarskynlik gereken het hulle is op koers na ’n oorwinning. In ’n dwarswind wat heeldag gewaai het, het kaptein Winmar Rust eers ’n strafdoel oorgeklits en ook die drie van Martin Cronjé verdoel. Die binnesenter het vanaf ’n vyfmeterskrum ’n vlak aangee van agtsteman Naudé Neethling gevat om tussen die duikvatters deur die doellyn te haal.
Stelselmatig het Kudus egter hul pad terug gewerk totdat hulle op die halfuurmerk die voorsprong met 13-10 geneem het. Twee strafdoele deur hul losskakel Ulratio Lawrence was sekuur, voordat binnesenter Anthony Jevu op ’n kragtige lopie twee verdedigers ingesuig het om die skrumskakel Rayton Paulse met ’n binneaangee los deur te stuur.
Lawrence, wat agterna deur sy afrigter Callie van Wyk geprys is dat hy ondanks sy jeugdigheid reeds die spel takties begin dikteer, het benewens die doelskop ook strafdoele met Rust uitgeruil om die rustydtelling 16-13 te maak.
United, wat sy slot Jandré Lamprecht ná 23 minute met ’n kniebesering verloor het, was weerskante van rustyd ook vir tien minute sonder losskakel Robbie Dickson (geel kaart). Hierdie voordeel is egter later uitgekanselleer toe Kudus se agtsteman Ngumee Nguaiko ook koelkas toe gestuur is.
Met sowat 12 minute oor het United se haker Niël van Vuuren omgedraf pale toe ná ’n binne-aangee van vleuel Nandi Karuuombe, maar die skeidsregter het beslis dit was vorentoe.
Jood Opperman se manne het in die tweede periode met drie of meer strafskoppe binne trefafstand nie daarin geslaag om minstens ’n gelykoptelling af te dwing nie.
Eers het Kudus ’n kosbare lynstaan gesteel; daarna het Rust ’n maklike poging misgeskop en met speeltyd verby het Niël van Vuuren ’n tikskop geneem en vorentoe gestorm, waarvan ook niks gekom het nie.
• Kudus het in April sy tuiswedstryd teen United ook met 14-10 deurgehaak.
SUBURBS BLY OP KOERS
FNB Western Suburbs het hul wegwedstryd teen Walvisbaai met 71-26 beklink en het elf drieë teen vier gedruk.
Met drieë deur Japhet Tjinho (3), Darryl Vries (3), Shanic Saban (2), Egon Cloete, JC Winkler en Linford Oosthuizen het die groen-en-wit streeptruie behoorlik baljaar.
Doelskoppe van Tjinho (5), Saban, Winkler en Roderique Victor het deur die pale geseil.
Afrigter Sergio de la Harpe se span het met dié uitslag in die derde posisie bo United ingeskuif. Beide spanne het 48 ligapunte, maar die Khomasdallers se punteverskil is beter. Heel bo is Wanderers (70) en FNB Unam, wat ná sy afnaweek op 56 bly.
Reho Falcon is vyfde (40), terwyl Kudus in die sesde plek (35) reeds vrede gemaak het dat hy nie soos verlede jaar in die semifinale betrokke gaan wees nie.
• Dolphin het voor die naweek uit sy tuiswedstryd teen Reho Falcon onttrek en die Swakopmunders sal ook nie hul laaste wegwedstryd teen Unam kan nakom nie, het woordvoerders van die klub intussen bevestig.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie