Rooi golf tref ekonomie
Dertien uit die 18 sektore in Namibië se ekonomie het die afgelope kwartaal negatiewe groeisyfers aangeteken.
Jo-Maré Duddy – Namibië se ekonomie het in die eerste kwartaal van vanjaar na minder as N$32 miljard in reële terme gekrimp, die kleinste nóg sedert die begin van 2013.
Data wat gister deur die Namibië Statistiekagentskap (NSA) vrygestel is, toon die land se reële bruto binnelandse produk (BBP) die afgelope kwartaal was bykans N$3,3 miljard kleiner as dié van die vorige drie maande en sowat N$2,2 miljard minder as dié van die eerste kwartaal van 2020.
In nominale terme was Namibië se BBP die afgelope kwartaal sowat N$45,85 miljard, ‘n afname van ongeveer N$600 miljoen vergeleke dieselfde drie maande in 2020.
Die land se kwartaallikse reële BBP het die afgelope agt jaar nog net drie keer onder N$32 miljard getuimel.
In die eerste kwartaal van 2013 was dit N$31,576 miljard, in die derde kwartaal van 2020 het dit N$31,944 miljard beloop en in die afgelope kwartaal het die BBP op N$31,939 miljard te staan gekom. In teenstelling daarmee het Namibië ‘n reële BBP van meer as N$37,4 miljard in die laaste kwartaal van 2019 aangeteken, die hoogste sedert die begin van 2013.
Gemeet op ‘n jaargrondslag het die algehele ekonomie die afgelope kwartaal met -6,5% in reële terme gegroei. Dit is die swakste vertoning in ‘n eerste kwartaal op die NSA se hersiene databasis sedert 2014. Dit is ook die derde ergste kwartaallikse inkrimping sedert die begin van die huidige resessiegolf in 2016.
Op ‘n jaargrondslag het Namibië se ekonomie in reële terme in 14 van die afgelope 21 kwartale ingekrimp.
SEKTORE
Die jongste syfers toon vervaardiging en konstruksie was die grootste slagoffers die afgelope kwartaal. Jaar-op-jaar (j/j) het konstruksie groei van -23,9% aangeteken, vergeleke met -2,3% in die ooreenstemmende tydperk in 2020. Vervaardiging het met -22,3% j/j gegroei teenoor -7,8% in die eerste kwartaal verlede jaar.
In reële terme het vervaardiging skaars N$3 miljard tot die afgelope kwartaal se BBP bygedra, die swakste vertoning op die NSA se databasis wat tot 2013 terugstrek. Die sektor se BBP-bydrae het met bykans N$860 miljoen teenoor ‘n jaar gelede geval. Dit is die vyfde opeenvolgende kwartaal van negatiewe groei vir vervaardiging.
Konstruksie het ook sy swakste kwartaal agter die rug en het net N$538 miljoen tot die reële BBP bygedra, bykans N$170 miljoen minder j/j. Dié sektor kon sedert die begin van 2016 nog net twee kwartale van positiewe groei behaal.
Mynbou het sy tiende opeenvolgende kwartaal in die rooi deurgebring deur met 19% in te krimp. Die sektor se BBP-bydrae in reële terme het met sowat N$697 miljoen j/j tot bykans N$2,98 miljard geval.
Hotelle en restaurante, ‘n maatstaf vir toerisme, het sy kleinste inkrimping in vyf kwartale beleef. Die sektor het j/j met -12% gegroei en sowat N$501 miljoen tot die BBP bygedra – sowat N$68 miljoen minder as in die eerste kwartaal van 2020.
Met -8,2% j/j, het groot- en kleinhandel nou 11 opeenvolgende kwartale van negatiewe groei agter die blad. Die sektor het in 17 van die afgelope 21 kwartale ingekrimp. Sy BBP-bydrae die afgelope kwartaal was net minder as N$3 miljard, ‘n afname van sowat N$267 miljoen j/j.
COVID-POSITIEF
Volgens die NSA groei die vraag na datadienste en internetkonnektiwiteit steeds bestendig namate die Covid-19-pandemie “onverpoos voortduur”. Die inligting- en kommunikasiesektor het die afgelope kwartaal met 17,6% j/j gegroei. Dit het N$803 miljoen tot die BBP bygedra, N$120 miljoen meer as ‘n jaar gelede.
Die toename in Covid-19-gevalle het tot ‘n hoë vraag na gesondheidswerkers gelei waarby die gesondheidsektor gebaat het, aldus die NSA.
Dié sektor het die afgelope kwartaal met 12,8% j/j gegroei en sy BBP-bydrae het met N$204 miljoen na sowat N$1,8 miljard verhoog. Dit is dié sektor se grootste kwartaallikse BBP-bydrae sedert die begin van 2013, toon beskikbare NSA-rekords.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie