Rooies-sage stoom voort
Rooies-sage stoom voort

Rooies-sage stoom voort

'n Halfjaar nadat 'n lasbrief bekom is vir 'n oudlanddros wat met beweerde onderduimse eiendomstransaksies en ver­blyfpermitte verbind word, is dié man steeds op vrye voet.
Denver Kisting
Denver Kisting



Pogings om die voortvlugtende oudlanddros mnr. Rooies Mostert terug in Namibië te kry, is weer op dreef.

Dít kom nadat die Suid-Afrikaanse owerhede gevra het Namibië moet 'n aantal tegniese kwessies rondom die versoek om uitlewering uitpluis.

Me. Gladice Pickering, die adjunk- uitvoerende direkteur van justisie, het laat verlede week gesê: “Die ministerie van justisie bevestig alle kwessies wat ons Suid-­Afrikaanse eweknieë in die 'Rooies Mostert-saak' uitgewys het, is in same­werking met die kantoor van die aanklaer-generaal aangespreek .”

Pickering het by navraag gesê die bygewerkte versoek om uitlewering sal na verwagting vandeesweek reeds “deur diplomatieke kanale” teruggestuur word na die buurland.

Teen Donderdagmiddag was die bygewerkte versoek in 'n gevorderde stadium, het sy gesê. “Dit word tans bestudeer vir finale goedkeuring.”

Die internasionale polisiewaghondliggaam, Interpol, is ook by die hoëvlakgesprekke betrokke om Mostert veilig in die hande van die Teenkorrupsiekommissie (ACC) te besorg.

Mnr. Nelius Becker, die ACC se hoof van ondersoeke, het vroeër gesê Mostert, ook 'n bekende in rugby­kringe, word gesoek weens beweerde korrupsie, bedrog, afpersing, poging tot regsverydeling én oortredings onder die immigrasiewet.

Die bewerings teen hom hou verband met talle skeefgeloopte eien­domstransaksies.

Hy het glo verskeie mense met etlike bedrae geld ingeloop.

Mostert het vantevore teenoor Republikein toegegee hy skuld mense geld, maar hy het deurgaans volgehou hy hardloop nie weg van die gereg nie.

Toe die koerant hom Vrydag­oggend skakel, was hy aanvanklik opgeruimd tot hy gehoor het wie praat. Toe het hy gesê: “Bel my later. Ek is net besig.”

Tydens die gesprek later – om 12:00 en wat net minder as vyf minute geduur het – het Mostert beweer die ACC weet presies waar hy hom bevind.

Trouens, sê hy, hy het al talle e-posse aan Becker gerig. “Hulle weet waar ek is. Ek sit elke keer (wanneer ek vir hulle 'n e-pos stuur) vir hulle my woonadres en telefoonnommer in rooi.”

Hy sê hy sal terugkeer Namibië toe wanneer hy wil. “Julle is nie die reg nie. Laat die reg sy gang gaan. Jy is mos lastig. Jy verlekker jou in die situasie.”

Mostert het Vrydag gesê hy is op Stellenbosch in die Wes-Kaap.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!