Rooisprinkaan tref Grootfontein-gebied
Die ministerie van landbou het dadelik ‘n span uitgestuur om met bespuiting te begin ná gister bevestig is dat ‘n swerm rooisprinkane by Mururani gesien is.
Elvira Hattingh - Boere in die Grootfontein-omgewing wat digby die grens teen die Okavangostreek se Mururani-hek boer, moes sedert Dinsdag bontstaan toe ‘n groot swerm rooisprinkane op hul plase toegesak het.
Volgens ooggetuies was die swerm enigiets tussen 4 en 5 km lank.
Terselfdertyd het die ministerie van landbou, water en grondhervorming ‘n span uitgestuur om die situasie te monitor en met bespuiting in die geraakte gebiede te begin.
Dit omdat dié pes ‘n ernstige bedreiging vir wintergewasse en weiding kan inhou.
Dr. Gerhard Verdoorn van CropLife SA het die sprinkaan op foto’s “as sonder twyfel” die rooisprinkaan geïdentifiseer en gesê die uitbreking hiervan is “baie slegte nuus”.
Hy meen dit is ongewoon dat die rooisprinkaan in wintermaande voorkom, maar dat die láát somer en temperature wat lank warm gebly het, waarskynlik tot hul voordeel strek.
EERSTE SIEN
Mnr. en me. Duppie en Andrea du Plessis se plaaswerkers was die eerste om die swerm Dinsdag omstreeks 14:00 op hul plaas Na-oes op te merk.
“Ons stroop op die oomblik en was rustig by die huis. Net so ná 14:00 toe bel die werkers en sê Duppie moet kom, daar is groot probleme. Hulle het gesê daar is springwurms,” vertel Andrea.
“Duppie jaag toe lande toe en kom op die swerm sprinkane af wat vlieg en op die grond sit. Hy en die werkers het geraas begin maak, geskree en op die kar se toeter gelê, wat die swerm weer aan die vlieg gekry het.
“Ons het werklik eers gesien hoeveel daar was toe ons begin geraas maak het.
“Toe die swerm opvlieg, het hulle dit donker gemaak – ‘n mens kon nie die son sien nie. Triljoene by biljoene en nog ‘n bietjie,” sê Andrea.
Sy sê hulle het vanaf 14:00 tot 17:00 gespook om die sprinkane te verjaag. Die swerm het aanvanklik noordoos tot op die teerpad getrek, waarna die geraas van motors en lorries hulle verjaag het en hulle suid beweeg het.
NOG MIN SKADE
Mnr. Ben van Wyk, wat naby die Du Plessis’s op die plaas Die End boer, sê hy en sy plaaswerkers het die sprinkane gisteroggend op sy plaas aangetref. Van Wyk sê die swerm was sowat 500 m breed en 3 tot 4 km lank.
“As die swerm bo jou vlieg, klink dit soos die see en jy voel die wind van hul vlerke,” het hy gesê.
Hy was tot nog omstreeks 11:00 doenig om hulle te verjaag.
Van Wyk sê die sprinkane het nie ernstige skade aan sy weiding veroorsaak nie en gister omstreeks 15:00 na ‘n volgende plaas beweeg – die plaas Toevlug.
“Buiten dat hulle van die blare van huilbome en sekelbosse geëet het, sien ek nie dat hulle werklik skade aan die gras aangerig het nie,” het Van Wyk gesê.
BEDREIGING
Die ministerie van landbou, water en grondhervorming het gistermiddag in ‘n mediaverklaring die uitbreking by Mururani bevestig en gesê dit is dieselfde soort sprinkaan wat vroeër vanjaar op die Zambezistreek toegesak het.
“Alhoewel die gewasseisoen tot ‘n einde gekom het, bly dié pes ‘n ernstige bedreiging vir wintergewasse soos koring en weiding,” het mnr. Percy Misika, die ministerie se uitvoerende direkteur, in die verklaring gesê.
Misika meen die plaag is in Februarie suksesvol tot die Zambezistreek bekamp, maar dat sprinkaanplae baie ver kan vlieg en daar voortdurend swerms van buurlande kom en die gebied besmet.
Misika het ‘n versoek aan boere gerig om dit by hul naaste landbou-ontwikkelingsentrums aan te meld as hulle swerms sprinkane teëkom. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie