Rooisprinkaan vernietig nóg 4 500 hektaar

Van sy gewone broeiplekke in die Okavango-delta, Chobe-vleilande en die Zambezi-vlaktes het die pes vanjaar na nuwe weivelde versprei.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die plaag rooi treksprinkane in die Zambezistreek het in minder as ’n maand ’n bykomende 4 500 hektaar (ha) se weiding verwoes.

Tog het die pes skynbaar steeds nie wyer versprei as die sowat 400 200 ha waarin dit voorgekom het nie.

Die adjunkminister van landbou, water en grondhervorming, me. Anna Shiweda, het die afgelope Vrydag (16 Okt) tydens die herdenking van Wêreldvoedseldag in die Oshikango-kiesafdeling in die Ohangwenastreek dié jongste syfers bekend gemaak.

Sy het gesê die pes het van sy gewone broeiplek in die Okavango-delta, Chobe-vleilande en die Zambezi-vlaktes vanjaar na nuwe plekke versprei en altesaam “400 216 ha binnegedring en tot 5 000 ha se weiding verwoes”.

“Met inagneming van die grootte van die gebied, asook die erns van die uitbreking, maak die regering van lugbespuitingsmetodes gebruik,” het sy gesê.

Dit volg nadat minister Calle Schlettwein op 24 September in die parlement gesê het die pes het toe, sedert 12 Augustus vanjaar, 4 002 km2 (dus 400 200 ha) in die streek binnegedring en 500 ha se weiding vernietig.

Dit is aanvanklik in Februarie vanjaar in die gebied opgemerk, voor dit ’n tweede keer in Augustus langs die Choberivier en die Zambezi-vlaktes opgemerk is, waarna dit ook in ander dele van die streek gevind is.

Sy sê die ministerie het ook reeds spanne uitgestuur wat die rooisprinkaan met gifspuite op die grond bestry.

“Die groeiende aantal sprinkaan-brandpunte en hul verspreiding, is ’n ernstige bron van kommer, gegewe die bedreiging wat dit vir gewasse tydens die plantseisoen kan inhou,” het sy gesê.

“Die uitbreking van die rooisprinkaan vererger die ekonomiese uitdagings wat Namibië reeds in die gesig staar, wat insluit tekorte aan hulpbronne wat deur die Covid-19-pandemie meegebring is.

“Die afgelope jare het Namibië die uitbreking van 'n aantal oorgrenspeste en -siektes ervaar, met die herfskommandowurm wat die land in 2017 getref het en nou weer die rooisprinkaan.

“Klimaatsverandering, of so word daar geglo, is die grootste dryfveer van die nuwe uitbrekings as gevolg van veranderinge in weerpatrone wat ’n gunstige omgewing vir die verspreiding hiervan skep,” het Shiweda gesê.

Die tema van vanjaar se Wêreldvoedseldag was “Groei, voed, handhaaf, tesame. Ons aksies is ons toekoms.”

Shiweda het gesê twee miljoen mense het in 2019, wêreldwyd, nie toegang tot genoegsame, veilige en voedsame kos gehad nie.

“Daar is genoegsame bewyse om te bevestig die Covid-19-pandemie het ’n beduidende uitwerking op die landbou- en voedselwaardeketting gehad, wat die vraag na voedsel en gevolglik voedselsekuriteit raak. Dit het die grootste impak op die mees kwesbare bevolkings.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!