Rooivleis: Pryse gaan in Augustus skerp styg
Vida Booysen
Die uitwerking van die droogte op die prys van rooivleis word nog nie in die mark gevoel nie. Dit sal eers teen Augustus of September vanjaar begin deurwerk.
Só sê Connie Janse van Vuuren, president van die voerkraal- en vleisverwerkingsgroep Beefmaster SA. Hy was een van die deelnemers aan die gespreksreeks “Nasie in gesprek” by die Nampo-oesdag in Bothaville in die Vrystaat. Die span het oor die landbouwaardeketting in Suid-Afrika gepraat, met die tema “Van plaas tot tafel, volhoubaar”.
“Daar is nog te veel aanteeldiere wat tans geslag word, maar as die nuwe seisoen begin en die boere besef die aanteeldiere is grootliks uitgeslag, dán sal die verbruiker die uitwerking eers voel; dis nog nie in die mark verdiskonteer nie.”
Meer as 80% van die land se hoërgraad vleis word in voerkrale geproduseer, wat met die verswakking van die rand geleenthede geskep het om hierdie vleis as ontbeende snitte oorsee te bemark. Daar is egter tans heelwat vleis van laer gehalte wat weens die droogte in die plaaslike mark inkom en die prys afhou, het Francois Strydom, uitvoerende hoof van Senwes, in die bespreking gesê.
Janse van Vuuren sê daar is ’n groeiende vraag na rooivleis en die bedryf kan sien dat die Suid-Afrikaanse bevolking meer welaf word met duurder agterkwartsnitte wat al hoe groter aftrek kry.
Mielies vs. rys
Strydom het uitgewys dat die prys van mielies sedert die droogte omtrent verdubbel het, maar dat dit steeds goed vergelyk met ander styselprodukte wanneer sy waarde as energiebron vir die liggaam in ag geneem word.
“Elke kossoort se energie en koste moet vergelyk word. Ten spyte van alles, is mieliemeel steeds die mees bekostigbare bron van energie, en nie rys soos wat mense dikwels aanvaar nie.”
Hoenders en eiers
Waar die droogte geneig is om die prys van rooivleis af te druk, het dit weer ’n heel ander uitwerking op die hoenderbedryf, sê Kevin Lovell, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa).
“Wanneer dit droog is, styg die prys van voer dramaties en sedert 2014 het twee opeenvolgende droogtes die lêbedryf en die hoenderbedryf ’n geskatte R4,5 miljard ekstra gekos – net aan mielies alleen.”
Dit het veroorsaak dat heelparty familieboere wat met eiers geboer het, uit die bedryf getree het omdat hulle nie meer die duur voer kan bekostig nie, het Lovell gesê.
Die enigste manier om sulke kostedruk te verwerk, ook in die res van die landbousektor, is om deel van die waardeketting te word. “Die waardeketting is eintlik ’n sirkel, nie ’n lyn nie, en die doelwit is om al die geld, tyd, arbeid en koste wat in ’n bepaalde produk ingaan, in die sirkel te hou sodat dit nie vermors word nie,” verduidelik Lovell.
Hy het as voorbeeld genoem dat by proteïen soos hoender of rooivleis selfs die dele wat nie vir menslike gebruik geskik is nie, tot honde- of katkos verwerk word sodat geen vermorsing plaasvind nie.
Waardeketting
In Suid-Afrika is verbruikers baie nader aan produsente as oorsee, en die waardeketting is baie korter – wat ’n voordeel vir albei groepe is, sê Kobus Pienaar, bestuurder van Woolworths Foods se Good Business Journey.
“Hoe langer die ketting, hoe groter maak dit die deur oop vir sogenaamde voedselbedrog, waar daar nie deursigtigheid is oor waarvoor verbruikers werklik betaal nie.”
-Volksblad/Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie