Rowers slaan toe op transitovoertuig

Verskeie Namibiese mans is die afgelope naweek met dwelms betrap.
Sanet de Waal
'n Groep verdagtes het Saterdag omstreeks 08:30 probeer om 'n transitovoertuig agter Checkers in Werner Liststraat in Windhoek te beroof.

Die sekuriteitswagte kon die aanval afweer.

'n Verdagte het glo sy vuurwapen agtergelaat toe hy in 'n wegkomvoertuig op die vlug geslaan het.

Drie verdagtes van onderskeidelik 32, 37 en 45 jaar oud, almal Namibiese mans, is in hegtenis geneem en die polisieondersoek duur voort.

'n Saak van gewapende roof met verswarende omstandighede is aanhangig gemaak.

Die verdagtes word beskou as gewoontemisdadigers wat in verband met verskeie ernstige sake gesoek word.



DIEFSTAL

Luidens die polisie se misdaadverslag het twee onbekende verdagtes Saterdagoggend tussen 02:45 en 03:15 by 'n huis in Abraham Nyambalistraat op Ongwediva ingebreek.

Hulle het die hangslot by 'n kamervenster gebreek en items ter waarde van N$33 583 gesteel.

Geen gesteelde eiendom is tot dusver teruggevind nie en niemand is in hegtenis geneem nie.

• Twee Namibiese mans (25 en 52 jaar oud) is Vrydag omstreeks 04:00 op Farm !Auros in die Outjo-distrik in hegtenis geneem nadat hulle glo 'n skaap ter waarde van N$1 200 sonder toestemming geslag het.

Die vleis is nie teruggevind nie. Hulle sou na verwagting gister in die landdroshof op Outjo verskyn.



STERFTES

Die verbrande liggaam van 'n vrou wat alleen op Schlip woon, is Sondag ontdek nadat die polisie omstreeks 00:30 na 'n brand ontbied is.

Die oorsaak van die brand is onbekend en die oorledene se naasbestaandes is nog nie van haar dood in kennis gestel nie. Die polisieondersoek duur voort.

• In die Oshanastreek is die 96-jarige mnr. Sakaria Indyala Vrydag onherkenbaar verbrand ná sy hut in die Omagongati-nedersetting aan die brand geslaan het.

• Die buurman van 'n 78-jarige pensioenaris, mnr. Mateus Nelenge Samuel, het hom Vrydag glo dood in sy bed aangetref. Samuel het in die Oniiwe-nedersetting in die Oshikotostreek gewoon.

• Familielede van mnr. Edward Fillemon (54) het hom Saterdag glo leweloos aangetref en hom na die ongevalle-afdeling van die Onandjokwe-staatshospitaal geneem. Fillemon, 'n inwoner van Oangiganga, was na bewering vir 'n geruime tyd siek.



DWELMS

Vrydag omstreeks 15:30 is 'n verdagte in Oluno buite Ondangwa in hegtenis geneem nadat dagga ter waarde van N$3 750 in sy besit gevind is.

Hy het glo 50 gram dagga aan 'n geheime polisiebeampte verkoop en 25 gram daggaplante is ook by sy huis gevind.

• Twee verdagtes, beide 19-jarige Namibiese mans, is Vrydag op Arandis in hegtenis geneem nadat 50 gram dagga en Mandrax-tablette ter waarde van N$2 950 tydens 'n polisiesoektog in hul besit gevind is.

• 'n Namibiese man (26) is Vrydag omstreeks 15:00 in die Mondesa-woonbuurt op Swakopmund in hegtenis geneem ná die polisie 10 eenhede kokaïen en een Mandrax-tablet ter waarde van N$1 120 in sy besit gevind het.



SELFDOOD

Drie selfdood-voorvalle is die afgelope naweek aangemeld. Die voorvalle het in Windhoek, die Okalongo-kiesafdeling en die Ongha-nedersetting plaasgevind en die drie mans was 31, 38 en 33 jaar oud.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!