RP ‘geen wit party’

Dr. Panduleni Itula kan enige hoop dat die Republikeinse Party met hom sal saamwerk op sy maag skryf.
Denver Kisting
Denver Kisting

Die president van die Republikeinse Party (RP), mnr. Henk Mudge, sê sy party is nie eksklusief bestem vir wit Namibiërs nie.

Volgens hom is meer as 90% van hul lede swart. “Ons word as ’n wit party gebrandmerk. Ons is nie ’n wit party nie. Ek is tot RP-president verkies deur swart mense – ek is geëer.”

Boonop is hulle daartoe verbind om alle mense op voetsoolvlak te bemagtig, sê Mudge.

OOR ITULA

Hy het geen bedenkinge dat dr. Panduleni Itula, hoofpatriot van die Independent Patriots for Change (IPC), ’n intelligente man is nie.

Maar, meen Mudge, Itula – eertydse Swapo-lid en presidensiële kandidaat – het die land verkeerd gelees.

Om daardie rede kan Itula daarvan vergeet dat hy wat Mudge is en die RP kragte met die IPC sal saamsnoer in die komende verkiesings op 25 November, het Mudge gisteroggend op ’n nuuskonferensie in die hoofstad gesê.

Boonop, sê Mudge, het Itula as ’n nuwelingparty geen enkele setel in die Nasionale Vergadering (NV) in dié stadium nie.

Hy wonder dus wat Itula kan vermag – selfs al smaak die tandheelkundige in sommige kiesafdelings ’n oorwinning.

Mudge sê die RP is veral gegrief daardeur dat Itula van mense van wie hy samewerking verwag, vereis om uit hul politieke partye te bedank en by die IPC aan te sluit. “Ek kan nie vir dr. Itula en die IPC ondersteun nie. Ek weet nie hoe hy en die IPC enige verskil kan maak nie – hulle het geen LP’s (in die NV) nie.”

Itula en kie het volgens Mudge die “verkeerde keuse” uitgeoefen deur nie te wil saamwerk met ander politieke partye nie.

Mudge het ook verwys na ’n WhatsApp-stemaantekening aan ’n vriend van hom waarin hy onder meer weergee Itula is nie ’n egte karakter nie. “Ek kon ander woorde gebruik het wat dieselfde ding beteken. Ek is jammer. Ek het niks persoonliks teen dr. Itula nie. Ek dink hy is baie intelligent.”

Itula het gistermiddag by navraag gesê dit is “skokkend dat die IPC die fokus is van ander politieke partye se nuuskonferensies. Ons het geen saak met wat ander politieke partye sê oor ons nie, of wat hulle nie met ons sal doen nie.”

Hy en die IPC het ten doel om die waardigheid van mense te herstel, sê hy. “Ons sal met al ons mense saamwerk om hulle te bemagtig en uit armoede te lig.”

Itula sê hulle het geen plan om hul veldtog te skoei op wat ander politieke partye aanvang nie. “Ons sal altyd die waardigheid van alle mense respekteer, insluitend ander politieke partye.”

CORNELIUS NOU RP-LID

Me. Brunhilde Cornelius, die oud-sekretaris-generaal van die Rally for Democracy and Progress (RDP), sal in die komende verkiesing om die Windhoek-Oos-kiesafdeling meeding, het Mudge gister gesê.

Sy was nie teenwoordig nie omdat sy weens stresverwante oorsake gehospitaliseer is, sê Mudge.

Hy is egter vol vertroue sy sal betyds herstel om haar verantwoordelikhede aan te pak, sou sy verkies word.

Mnr. Mike Kavekotora, president van die RDP, het gister bevestig Cornelius het op 9 Oktober uit die RDP bedank om by die RP aan te sluit.

Sy was onlangs in die nuus toe sy grootskaalse beweerde korrupsie by die Windhoek-munisipaliteit, waar sy ’n raadslid was, aan die kaak gestel het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer