• Tuisblad
  • Sake
  • Rössing: Chinese belowe plaaslike werkers bly
Ru00f6ssing: Chinese belowe plaaslike werkers bly
Ru00f6ssing: Chinese belowe plaaslike werkers bly

Rössing: Chinese belowe plaaslike werkers bly

Adolf Kaure
Adolf Kaure – Die Namibiese Mededingingskommissie (NaCC) het Donderdag ’n bespreking van China National Uranium Corporation (CNUC) se beplande oorname van Rio Tinto Namibia se aandeel in Rössing Uranium op Swakopmund gehou.

Die hoofdoel van die besprekingsessie was om belanghebbendes van die oorname in te lig en die samesmeltende partye die geleentheid te gee om kwessies te bespreek wat kommer mag wek.

Die voorgestelde transaksie behels dat CNUC 100% van Rio Tinto Namibian Holdings Limited se aandeel van 68, 62% in Rössing sal oorneem, en ook beheer oor Rössing Uranium Limited sal kry.

Mnr. Li Youliang, CNUC se visepresident, het by die geleentheid gesê hy voorsien nie dat Namibiese werknemers met buitelanders vervang sal word sodra die NaCC dié plan goedgekeur het nie.

“CNUC verstaan die belang van plaaslike indiensneming vir alle belanghebbendes – veral vir Rössing Uranium se werknemers. Daar is geen bedoeling om plaaslike werknemers met buitelanders te vervang alleenlik op grond van hierdie transaksie nie. Trouens, CNUC is sterk daaraan toegewy om die huidige vlak van plaaslike werknemers te handhaaf,” het Youliang gesê.

Hy het bygevoeg CNUC sal arbeidswette en regulasies gehoorsaam sodra die myn oorgeneem is.

“Die transaksie en CNUC se langtermynplanne vir Rössing Uranium sal vir jare lank in die toekoms tot die voortgesette bedryf van die besigheid bydra, en sodoende die werksmag se langtermynaanstelling verseker, asook groter voordele vir die gemeenskap.

“CNUC kan bevestig Rössing sal ná die oorname die arbeidswet, die regstellende aksie-wet en alle ander arbeidswette en -regulasies steeds bly gehoorsaam,” het hy gesê.

Volgens mnr. Johannes Ashipala, die NaCC se direkteur van samesmelting en verkryging, is daar vier faktore wat die sukses van ’n samesmelting of verkryging bepaal.

“Dit sluit in of die samesmelting mededinging in die toepaslike markte betekenisvol voorkom of verminder, of dit ’n sterker of dominante posisie beteken, of daar enige voordele in terme van tegnologie, doeltreffendheid en vernuwing is, en of dit in die openbare belang is,” het Ashipala gesê.

Ander kwessies sluit in prospekteerdery en die opwekking van kernkrag, of CNUC van buitelandse verkryging gebruik gaan maak, en of die onderneming nóg mynlisensies in die Erongostreek gaan bekom.

Die NaCC sal ’n verslag oor al dié kwessies saamstel en aan sy raad van gevolmagtigdes oorhandig.

Die raad sal dan ’n besluit oor die implementering van die oorname neem.

Die voorwaardes wat daarvoor sal geld, sal deur openbare belang of mededingers se voorwaardes bepaal word.

Sodra die oorname goedgekeur is, sal dit in die Staatskoerant gepubliseer word en as dit afgekeur word, sal die myn in Junie 2020 sluit.

Die NaCC het 30 dae om ’n besluit te neem.

Rössing Uranium hou veelsydige voordele vir die ekonomie in, met paaslike verkryging van N$2,49 miljard en 78% Namibies geregistreerde verskaffers, dra meer as N$130 miljoen tot belasting by, N$78 miljoen in tantième, en verskaf werk aan 923 werknemers.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!