Ru00f6ssing hou die blink kant bo
Ru00f6ssing hou die blink kant bo

Rössing hou die blink kant bo

Augetto Graig
Augetto Graig - Rössing Uranium het in 2016 sy produksie met 48% verhoog en sodoende vir 'n wins van N$107 miljoen in die sak van moedermaatskappy Rio Tinto gesorg.

Dit is 'n merkwaardige verbetering op die verlies van N$385 miljoen in 2015.

Werner Duvenhage, besturende direkteur van Rössing, sê produksie het begin styg toe die myn teen die einde van 2015 na 'n vierskofrooster teruggekeer het en geskeduleerde bedrywighede sewe dae elke week hervat is.

“Ons het 24,4 miljoen ton rots gemyn, waarvan 8 miljoen ton uraan bevat het, asook 16,5% afvalrots uit die oopgroef. Ons het ook 1,2 miljoen ton van ons uraanrotsvoorraad bygevoeg,” het Duvenhage vroeër vandeesweek tydens die bekendmaking van Rössing se resultate gesê.

Dié poging, tesame met die hervatting van 24/7-produksie, het tot 'n groter vloei deur die meule aanleiding gegee. Die produksie van uraanoksied het gevolglik met 48% van 1 245 ton in 2015 tot 1 850 ton verlede jaar gestyg.

Rössing se omset het in die jaar onder oorsig met bykans 67% tot N$3 miljard toegeneem.

Dié beter vertoning was ondanks die ineenstorting van die internasionale uraanmark in 2016, waartydens pryse met 50% tussen Januarie en November verlede jaar getuimel het. Ná 2015, opsigself 'n uitdagende jaar, het 2016 werklik Rössing se “uithouvermoë en vasberadenheid getoets om te oorleef”, aldus Duvenhage.

In 2015 was die uraanprys nog in die omgewing van US$35 per pond en het kenners gemeen dit sou nie laer daal nie. Voor die einde van verlede jaar was dit egter ongeveer US$20 per pond. Die gemiddelde prys vir 2016 was US$25,64 per pond.



Plaaslike impak

Ondanks dié omstandighede het Rössing se inkomste met 67% gestyg.

'n Gunstige wisselkoers vir die ­grootste gedeelte van die jaar het die myn in staat gestel om baie te vermag, sê Duvenhage.

Tantième van N$80,4 miljoen is aan die regering betaal, asook N$50,8 miljoen in dividende. Die regering besit 3,38% van Rössing. Aan staatsondernemings soos NamWater en NamPower is N$392,7 miljoen betaal, insluitende N$5,6 miljoen vir die opleidingsheffing (VET).

Die myn het N$506,7 miljoen op vergoeding en salarisse bestee, waarvan N$107,2 miljoen as persoonlike inkomstebelasting (PAYE) aan die regering oorbetaal is. Sowat N$15,4 miljoen is onder meer deur die Rössing-stigting bestee om omliggende­ gemeenskappe te bevorder. Van die N$2,4 miljard wat verlede jaar op goedere en dienste uitgegee is, is 76,7% of bykans N$1,8 miljard op ­Namibiese verskaffers bestee.

“Ondanks die uitdagings wat ons in die gesig gestaar het, is ons veral trots op ons werkers wie se stamina, toewyding en kreatiwiteit gehelp het om die moeilike tye te deurstaan. Ons kyk verby die huidige moeilike tye en bly positief oor die toekoms van ons bedryf,” het Duvenhage gesê.

Hy sê Rössing spog nog met 'n goeie voorraad uraanerts in sy oopgroefput en die leeftyd van die myn is tans tot 2025 verseker. Geen eksplorasie word tans beplan nie. Die fokus vir die res van die jaar sal op beter waterverbruik bly, terwyl aandag aan infrastruktuur, kragverskaffing, vervoerskakels en voortgesette, goeie verhoudinge met omliggende gemeenskappe geskenk sal word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!