• Tuisblad
  • Sport
  • Rössing staan ferm agter wêreldklas hardlopers
Ru00f6ssing staan ferm agter wu00eareldklas hardlopers
Ru00f6ssing staan ferm agter wu00eareldklas hardlopers

Rössing staan ferm agter wêreldklas hardlopers

Die jaarlikse kusmarathon is 'n vrugbare teelaarde vir atlete wat na internasionale vlak vorder.
Andrew Poolman
Al vyf Namibiese atlete wat laas Sondag aan die IAAF wêreldkampioenskap deelgeneem het, is vorige wenners by die Rössing nasionale marathonkampioenskap.

Paulus Iiyambo en Helalia Johannes (2017, marathon), Lavinia Haitope (2017, 10 km), Reonard Namupala (2016 marathon) en Beata Naigambo (2016, 10 km) was almal onlangs kampioene by die jaarlikse kuswedlope.

Selfs die atlete se afrigter, Robert Kaxuxuena, het tevore (in 2003) die Rössing-marathon gewen.

As deel van die Rio Tinto Rössing uraanmyn se strewe om gesonde, veilige en omgewingsverantwoordelike leefstyl by sy belanghebbendes te bevorder, is die Rössing Marathon ontwikkelingsbonus ter waarde van N$40 000 aan die twee huidige Rössing nasionale marathonkampioene toegeken. Die oorhandiging is in Windhoek aan Paulus Iyambo en Helalia Johannes gedoen.

Die bonus is vir die eerste keer in 2011 bekendgestel met 'n totale bedrag van N$280 000, bo en behalwe die kompetisie se prysgelde, wat sedertdien reeds bygedra het tot die ontwikkeling van die loopbane van langafstandatlete in Namibië.

Tydens die oorhandigingsgeleentheid voordat die atlete na die IAAF-wêreldkampioenskap in Londen vertrek het, het Rössing se ­maatskappysekretaresse, Glynis Labuschagne, die twee kampioenhardlopers gelukgewens en voorspoed toegewens.

Labuschagne het gesê: “Finansiering deur middel van hierdie bonus is bedoel om die loopbane van die twee Rössing Marathon-wenners in die jaar ná die verowering van hul nasionale titels te ondersteun.

“Dit is steun wat bo en behalwe die kontantpryse van die marathonkampioenskap verskaf word, om Namibiese sporttalent te help ontwikkel en hul voorbereidings vir kompetisies in die buiteland aan te help.

“Ons hoop dat dit ons kampioene 'n goeie platform vir suksesvolle deelname aan toekomstige gebeure sal gee. Ons sal hul prestasies deurgaans in die loop van die jaar volg.”

Albei hardlopers het die afgelope naweek in Londen goed gevaar, waar Johannes in die vrouewedloop die algehele 19de plek (uit 92 wat weggespring het en 78 voltooiers) behaal het – die voorste vrou uit Sentraal- en Suidelike Afrika.

By die mans was Iyambo 37ste.

Iyambo en Johannes het hul dank vir die ondersteuning van die myn uitgespreek. Paulus het gesê: “Een voordeel van die ontwikkelingsbonus is dat dit ons in staat stel om spesiale toerusting en uitrusting vir oefening en kompetisie te bekom.



HERSTELPROSES

“Sommige klere en toerusting word wetenskaplik vervaardig om ondersteuning te gee en oefening en kompetisie meer gemaklik te maak. Byvoorbeeld kleefbroeke en baadjies wat jou liggaam toelaat om koel te bly terwyl jy hardloop, sportbra's vir die vroue of sporthorlosies wat help om jou hartklop aan te dui.

“Ek waardeer veral dat die Rössing-borgskap my toegang gee tot andersins moeilik bekostigbare aanvullings om verlore voedingstowwe in my liggaam te vervang. Vir marathon-hardlopers is dit baie nuttig vir ons om gesond te bly en spoediger te herstel vir die volgende geleentheid.”

Johannes het bygevoeg: “Om mededingend te wees, gaan alles oor die gesondheid van my liggaam. Ons begin minstens vier maande vooraf vir 'n marathon oefen. Die eerste twee maande fokus ons net op uithouvermoë. Spoedwerk word vir die laaste twee maande by die uithou-oefeninge gevoeg.

“Met so 'n strawwe oefenprogram benodig ons elke twee tot drie maande nuwe oefenskoene, en nuwe skoene vir elke tweede kompetisie – anders kan ons ernstige beserings opdoen deur skoene te dra wat onvoldoende steun aan jou liggaam bied.

“'n Paar goeie hardloopskoene kan maklik tot N$3 000 kos. Rössing se ontwikkelingsbonus stel ons in staat om die nodige uitrusting te kry om ons vry van beserings te te hou en op ons beste te help presteer.”

Reonard Namupala het Sondag in Londen die 35ste posisie vir Namibië in die marathon behaal, terwyl Beata Naigambo en Lavinia Haitope onderskeidelik in die 30ste en 50ste plek in die vroue-wedloop klaargemaak het.

As alles vlot loop, sal die Namibiese marathonkampioene voortaan selfs beter rekenskap van hulself kan gee, te danke aan die Rössing Marathon ontwikkelingsbonus.

Helalia Johannes is die verdedigende kampioen in die Dublin-marathon wat weer in Oktober plaasvind en plaaslik is daar ook nog 'n paar groot byeenkomste voor die einde van die jaar.

Rössing Uraan se bestuur en personeel wens dié sportambassadeurs alle voorspoed en gesondheid toe en hoop om die bestes weer terug by die Rössing nasionale marathonkampioenskap op Swakopmund in Februarie 2018 te sien.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!