Ru00f6ssing: Streng reu00ebls vir Chinese koper
Ru00f6ssing: Streng reu00ebls vir Chinese koper

Rössing: Streng reëls vir Chinese koper

’n Chinese uraanreus het die groen lig gekry om die beherende aandeel in die Rössing-uraanmyn te koop.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - China National Uranium Corporation (CNUC) mag as die nuwe beherende aandeelhouer van die Rössing-uraanmyn vir ’n tydperk van twee jaar geen werknemers aflê nie.

Verder moet ten minste 95% van die personeellede en bestuurslui by die myn Namibiese burgers wees. Buitelanders mag net op ’n vaste kontrakbasis van twee jaar as bestuurders aangestel word.

Dit is van die streng voorwaardes wat die Namibiese Mededigingskommissie (NCC) gestel het met die goedkeuring van die kooptransaksie tussen CNUC en Rio Tinto Overseas Holdings Limited, wat tans die beherende aandeel in Rössing Uranium Limited het.

CNUC en sy moedermaatskappy is een van die groot internasionale belanghebbendes in die kernkragbedryf.

Rio Tinto het in November verlede jaar aangekondig hy gaan sy aandeel van 68,62% in die Rössing-uraanmyn vir US$106,5 miljoen aan CNUC verkoop.

Mnr. Vitalis Ndalikokule, uitvoerende hoof en sekretaris van die Mededigingskommissie, sê dit is onwaarskynlik dat die voorgenome transaksie medediging in die uraanmark sal beïnvloed. Maar, sê hy, die kommissie is bang die transaksie kan “tot openbare vrese oor indiensneming, die bundeling van tenders vir die uitkontraktering van goedere, dienste en/of produkte, die oordrag van kostes en dominansie in die plaaslike uraansektor lei”.

Om indiensneming, verkryging en die voordele uit belastings en tantieme te beskerm, het die kommissie streng voorwaardes aan die transaksie gekoppel, sê Ndalikokule.

Benewens die voorwaardes oor die werknemers en die indiensneming van buitelanders, mag die nuwe aandeelhouer nie Rössing Uranium se verkrygingsbeleid van 30 Julie 2013 verander indien die veranderinge minder gunstig vir plaaslike verskaffers is nie.

Plaaslike klein en mediumgrootte ondernemings (SME’s) moet baat by die verkryging van dienste, goedere en produkte waarvan die waarde minder as N$250 000 is.

Op groter transaksies moet 80% van alle dienste, goedere en produkte wat bekom en aangeskaf word, afkomstig wees van maatskappye waarvan die beherende aandeel Namibies is en waarvan ten minste 75% van die werknemers Namibiërs is.

Nog ’n voorwaarde is alle transaksies met ’n verbonde persoon moet op die sogenaamde “armlengte-beginsel” en in ooreenstemming van artikel 95A van die Inkomstebelastingwet geskied.

Laastens moet enige belanghebbende by CNUC wat belangstel om ’n beherende aandeel in ’n eksklusiewe prospekteerlisensie (EPL) of mynlisensie te bekom, die kommissie daarvan in kennis stel – selfs al is die transaksiewaarde laer as die drumpelwaarde wat deur die Mededigingswet gestel word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!