RTA-wenners by NTE aangewys
RTA-wenners by NTE aangewys

RTA-wenners by NTE aangewys

Die wenners van die Verantwoordelike Toerisme-toekennings (RTA) word Woensdagaand tydens die amptelike opening van die Namibië Toerisme Ekspo (NTE) aangekondig.

Die finaliste van die RTA 2018 in die akkommodasie-kategorie is Grootberg Lodge, Wilderness Safaris Damaraland Camp en Gondwana Namib Desert Lodge. In die kategorie toeroperateurs is die finaliste Abenteuer Afrika Safaris, Ultimate Safaris en Wild Dog Safaris.

AKKOMMODASIE

Grootberg Lodge

Hulle sê die uitsig is altyd beter van bo af, en dit is presies wat Grootberg Lodge bied. Ná die Grootberg-pas gery is, vat die steil pad na die lodge jou reg na die bopunt van die Grootberg-plato. Dit is waar die lodge geleë is en waar gaste bederf word met die asemrowende uitsig op die Klipriviervallei dóér onder. Die lodge het alleeneienaarskap van die Khoadi //Hoas-bewaringsgebied in Damaraland en bied 'n verskeidenheid aktiwiteite soos spoorsny op soek na olifante en renosters. Reisigers wat eerder wil rus en ontspan, kan 'n massering of ander skoonheidsbederf geniet terwyl hulle die uitsig bewonder.

Damaraland Camp

Genestel in die antieke Damaraland-basaltrotse, bied Wilderness Safaris Damaraland Camp ekovriendelike luuksheid in die woestyn. Elk van sy grasdakeenhede is op so 'n manier gebou dat die koelte van die briesie 'n welkome verligting van die versengde woestynhitte bring. Een van die hoogtepunte van Damaraland Camp is die aandete in die boma waar gaste 'n ware Namibiese kampervaring kan geniet. 'n Verskeidenheid heerlike Namibiese disse kan onder die helder sterre geniet word waar personeel elke dis met humor aan gaste beskryf.

Namib Desert Lodge

Gondwana Collections se Namib Desert Lodge is 'n klein oase in die woestyn aan die voet van die versteende sandduine van die Namibwoestyn. Om soggens wakker te word waar die son die kleure van die duine speel-speel verander, is enige fotograaf se droom. Maak seker jy maak 'n rit teen sonop of sononder mee waartydens die formasie van die duine deur een van die vriendelike gidse verduidelik word. Tydens hierdie uitstappies sal gaste ook die geleentheid kry om die merkwaardige ekostelsel van akkedisse, insekte en die plante van die ruwe, sanderige omgewing te voet te verken.

TOEROPERATEURS

Abenteuer Afrika Safari

Abenteuer Afrika Safari glo om Namibië te besoek, is kos vir die siel. Dit is dié geheim wat jaarliks nie net nuwe toeriste lok nie, maar maak dat hulle keer op keer terugkom. Terwyl gaste daarop kan fokus om hierdie sielservaring te geniet, sal Abenteuer alles verder hanteer.

Of jy nou saam met ’n vriend of in ’n groep van 100 mense reis, ­Abenteuer kan jou hele reis van aankoms tot vertrek en alles tussenin met gemak organiseer - maak nie saak hoe in­gewikkeld nie.

Ultimate Safaris

Ultimate Safaris doen sy naam gestand en bied besoekers aan Namibië die ­allerbeste safari-ervaring ooit.

Vir die bewaringsbewustes het ­Ultimate Safaris se safari’s twee bewaringstemas - een wat op die groot katte fokus en die ander een op ­kameelperde. Die toer sluit drie nagte in die veld in saam met navorsers wat ­eerstehandse ondervinding van die werk verskaf wat hulle op hul gebiede doen.

Toeriste word aangeraai om ’n paar nagte by hul //Huab- mobiele kamp in Damaraland te bestee. Dit bied nie net eksklusiwiteit nie, maar ook die ­geleentheid om saam met plaaslike renosterwagters spoor te sny op soek na renosters in die woestyn.

Wild Dog Safaris

Wild Dog Safaris spesialiseer in kampeertoere en bied die meer avontuurlustiges die beste manier om Namibië te sien. Met 20 jaar se ondervinding kan toeriste verseker wees hul besoek aan Namibië sal ’n onvergeetlike ervaring wees. ’n Uitstekende manier om die land te sien, is om een of meer van die toere te bespreek wat aangebied word. Besoek van die beste wat Namibië kan bied deur ’n ervare gids se kundige sorg.

Indien jy verkies om nie in ’n groep te reis nie, sal Wild Dog Safaris ’n private reis ontwerp om by jou belangstellings en behoeftes te pas.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!