Ruacana: 'n Heldedaad in die oorlogsjare (Deel 3)
JACQUES WEILBACH SKRYF:
Wat het daardie dag by die uitkeerwal gebeur?
Die Bell Jetranger kon, met min brandstof aan boord, vier passasiers vervoer oor 'n kort afstand. John Langford, Andre Prinsloo en nog twee ander het saam ingeklim met Migeotte. Die vliegtyd van die kragstasie na die uitkeerwal was maar so drie minute. JM het die terrein versigtig benader en geland voor die sluisbeheergebou. Hy het nie die enjin afgeskakel nie, indien hulle skielik moes vertrek.
Die span het uitgespring en vinnig rondgekyk, maar niks verdags opgemerk nie. Die plek was so verlate soos die kontrakteurs dit vier jaar vantevore gelaat het. Ongelooflik – geen skade nie.
John en Andre het die slingers gesien en begin draai, maar aanvanklik het dit gelyk asof niks beweeg nie. Toe besef hulle die geweldige ratverhouding is so groot dat die slinger baie moes draai voordat die sluis merkbaar beweeg het. Die manne het op hulle voete gedink.
John het uitgehardloop na Migeotte, met die enjin steeds aan die gang. “Gaan haal nog vier manne en water, want hier is baie werk.”
JM is soos blits daar weg, terwyl hierdie groepie helde aan die werk gespring het in 'n temperatuur naby die 40 grade en hoë humiditeit. Ek weet nie wat in hulle gedagtes aangegaan het nie, maar hulle het nie besef wat die geweldige positiewe ekonomiese implikasies sou wees van hierdie dade nie.
JM het die dag 'n paar maal heen en weer met kos, water en mannekrag gevlieg. Teen laat namiddag was een sluis toe en die ander een op 'n skrefie van so 20 cm oopgelaat om water te verskaf aan Waterwese vir Ruacana-dorp.
John het baie wysheid aan die dag gelê deur albei slingers af te skroef en saam te bring, sodat niemand met die sluise sou peuter nie.
Die manne was pootuit na die dag se werk en dankbaar dat alles veilig afgeloop het. Dit was die dag toe Ruacana amptelik begin het om krag te lewer aan Suidwes-Afrika.
DIE STOF GAAN LÊ
'n Maand het verbygegaan en die stof het redelik gaan lê, behalwe vir Smittie se Observer wat gereeld artikels geplaas het oor die “Ace Pilot”, Jacques Migeotte; 'n status wat hy in my oë verdien het. Onverskrokke en koelkop onder druk.
Daar was geen toename in militêre bedrywighede by die uitkeerwal nie. Dit was asof niks gebeur het nie, behalwe dat die water nie meer net oor die valle geloop het nie, maar deur die turbines gevloei het.
Die een sluis was egter nie heeltemaal toe nie. Na skatting het die water wat weggeloop het genoeg energie bevat om 'n derde van Windhoek te voorsien. Ek het baie nagte en dae daaraan gedink.
Die kragstasie was soos 'n miernes met kontrakteurs en personeel wat opgelei moes word. Daar was twee vlugte per week met JTK en JM.
So drie maaande na die insident met die sluise, in Maart 1980, het die rivier se natuurlike vloei begin daal aan die einde van die reënseisoen. Ek het besef as daardie sluis nie heeltemaal toe is nie, sal baie water in die droë seisoen verlore gaan.
Tydens 'n oornagbesoek het ek, John en Migeotte die saak bespreek. Ek het die verantwoordelikheid op my geneem om die volgende oggend die sluis heeltemal te gaan toemaak.
MET 'SPOOK' OOR DIE GRENS
Ons (Migeotte het bestuur) het Swawek se “spook” (landmynvoertuig) geneem en met twee helpers en 'n slinger doodluiters oor die onbemande grens gery. Alles was nog net soos hulle dit gelaat het met hulle laaste besoek.
Binne twee uur was die sluis toe en het ons teruggery met die wete dat Ruacana nou die volle vloei sou kon benut. Niemand het enige vrae gevra nie en maande later was die insidente op die agtergrond.
Waterwese het hulle pompe aangeskakel en die dorp voorsien, soos oorspronklik beplan. Dis moeilik om te glo, maar vir die volgende nege jaar, tot in April 1989, het geen Swawek-werknemer of siviele persoon die uitkeerwal ooit weer besoek nie.
Gedurende 1987 het Kubaanse troepe die uitkeerwal beset, maar nooit 'n poging aangewend om iets te saboteur of die sluise oop te maak nie.
Die oorlog het 'n ernstige wending ingeneem. Fidel Castro het gedreig om die infrastruktuur van Ruacana met vliegtuie aan te val, maar die naaste wat hulle daaraan gekom het, was in Oktober 1988 toe bomme op die Calueque-dam, 30 km stroomop van Ruacana, gegooi is. Agt SA troepe is in die aanval dood.
Na April 1989 met die koms van Untag en vredesluiting, het ons direk met die Kubane op die grens by die uitkeerwal samesprekings gehad. Dit was eers in 1990, na onafhanklikheid, dat Swawek-personeel weer oor die grens kon gaan en die kragtoevoer herstel.
Niemand sal ooit weet watter scenario's sou kon plaasvind in die jare tot en met vredesluiting, as 'n paar dapper manne nie die historiese geleentheid aangegryp het op 3 Januarie 1980 nie. As Ruacana eers in 1990, na onafhanklikheid, voltooi kon word, sou miljarde rande se krag deur die jare vermors gewees het.
Ek salueer die wat betrokke was en die nagedagtenis van hulle wat reeds ontslape is. Ruacana is vir hulle 'n lewende monument. Ek was bevoorreg om deel te wees van hierdie historiese geleentheid.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie