Ruach Elohim – God se Asem
Sy het altyd geweet sy het ‘n uitsonderlike en buitengewone liefde vir babas, maar nooit het sy gedink dit kan haar roeping wees nie.
Henriette Lamprecht - Die eerste gewaarwording van die gedagte aan ‘n baba op haar voorstoep was toe sy vyf jaar oud was, die jaar voor sy skool toe is.
Sy was op pad na die voordeur om dit vir haar pa oop te maak wat van die werk af teruggekeer het. Terwyl sy die voordeur oopsluit en die deurknop draai, skiet die gedagte haar binne “wat as ek die deur oopmaak en daar is ‘n baba in ‘n mandjie voor ons deur?”
Telkemale daarna sou dieselfde gedagte onverwags by haar opduik as sy na ‘n voordeur toe gestap het. “Ek het altyd besef ek het ‘n uitsonderlike en buitengewone liefde vir babas, maar ek het nooit besef dit kan my roeping wees nie,” vertel Ronel Peters.
“Ek was so moeg om te werk vir iets wat geen sin maak nie. Ek wou ‘n verskil maak in iemand se lewe, iemand soos ‘n weerlose baba wat niks vir homself kan doen nie.”
In 2000 het sy een nag ‘n baie duidelike droom gehad waarin sy ‘n huis vol babas het.
“Toe ek die oggend opstaan, het ek vir Dick, my man, gesê ek moet ‘n huis vir ongewenste en weggooibabas oopmaak.”
Deur die jare het sy verskeie babahuise in Suid-Afrika besoek en het dié begeerte mettertyd al hoe sterker in haar gegroei.
“Dié babas kan niks vir hulself doen nie. Hulle het net ons genade en as ons nie genade vir hulle het nie, is daar vir hulle geen hoop nie. As ons ‘n genadelose volk geword het, wat bly dan oor?”
Afdraaie en klippe in haar pad om haar droom te verwesenlik, was daar baie.
“Dit was so moeilik omdat ek ‘n voltydse werk gehad het en ek ons kinders grootgemaak het. Ek wou dit so graag doen, maar kon nie bekostig om op te hou werk nie, ” vertel Ronel.
Elke keer sou haar hart breek wanneer nog ‘n baba weggegooi is of dood gevind word. Selfs toe sy as farmaseutiese verteenwoordiger gewerk het, het sy gereeld oor haar etensuur ‘n hospitaal besoek. Hier het sy met nuwe mammas gesels en “seker gemaak hulle wil regtig die babas hê en gaan hulle nie weggooi nie”.
Einde 2017, en danksy die “volgehoue en ongelooflike steun” van Dick, besluit die egpaar om alles te verkoop en Swakopmund toe te trek.
Ronel sou ophou werk en uiteindelik beskikbaar wees om voltyds na ongewenste en weerlose babas om te sien. Met die hulp en leiding van die ministerie van geslagsgelykheid en kinderwelsyn op Swakopmund is Ronel en Dick se huis amptelik as ‘n individuele plek van veiligheid verklaar.
Dit beteken hulle kan op enige tydstip na tot ses babas op ‘n slag omsien. In so ’n geval het Ronel hulp nodig en moet helpers hiervoor aanstel; daarom het hulle aansoek gedoen om as ‘n welsynsorganisasie te registreer om geld in te samel vir die geweldige uitgawes wat hiermee gepaard gaan. Die egpaar het ook ‘n vrywillige organisasie gestig met ‘n volledige grondwet en sewe lede wat deel van alle besluitnemings oor die veilige hawe vir babas vorm.
Nie lank daarna nie het hulle die eerste baba gekry om na om te sien. Dit was toe dat die besef deurdring: Haar jare lange droom en passie het uiteindelik vlerke gekry.
“Toe ons die eerste baba gekry het, het ek besef dit kan ‘n moontlikheid word. Dat daar tog ‘n behoefte bestaan vir ‘n plek waar hierdie babas versorging, liefde en volgehoue aandag kan kry. Ek het altyd gedink as ek net een baba kan red van ‘n asdromdood of ‘n droë rivierloop, dan was alles die moeite werd.”
Ronel en Dick wou aanvanklik ‘n aparte huis bekom waar die babas tydelik gehuisves kan word, maar het besluit om eers hul eie huis hiervoor te gebruik.
“Namate en indien die behoefte groei, sal ons kyk na ‘n groter, aparte plek wat ons kan gebruik vir die versorging van die babas.”
Dis vir hulle uiters belangrik om elke mamma te help wat nie haar baba wil hê of na hom of haar kan omsien nie, totdat die baba aangeneem kan word. Tans werk hulle in die verband nou saam met maatskaplike werkers in die Erongostreek.
Tot op hede het Ronel en Dick na vier babas tussen die ouderdom van 0 en 18 maande omgesien.
“Ons huis is slegs ‘n tydelike opsie totdat alle wetlike prosesse afgehandel en die babas aangeneem of herenig word met hul ouers of familie.”
Met baie water wat in die see moes loop voordat hulle hul huis vir die weerloosste in die samelewing kon oopstel, erken Ronel hulle moes deur die jare eers ‘n pad stap om te kom waar hulle nou is.
“Die Here het my ‘n hart vir babas gegee. Al wat ek ooit wou doen, was om weerlose babas te red en aan hulle liefde te gee.”
Sy erken sy en Dick het baie lewenslesse geleer en soms ook baie seergekry. Tog het die Here hulle as gesin deur die omstandighede van elke baba so baie geleer.
“Ons het deur ons lewe altyd babas in ons huis op een of ander manier gehad en daardeur leer jy elke dag. Elke baba en omstandigheid verskil en die Here het ons as gesin ontsaglike empatie en deernis geleer. Hy het absoluut die liefde in ons harte gesit en ook die geleentheid gegee om nou te kan doen wat ons doen.”
Die naam wat hulle vir hul veilige hawe gekies het, Ruach Elohim, lê haar baie na aan die hart, sê Ronel.
“Ek het verskriklik baie en baie lank oor die naam gebid. Ek het gevoel ek is nie waardig om ‘n naam vir so ‘n groot roeping te kies nie. Baie mense het voorstelle gemaak, maar in my hart het ek die Here gevra Hy moet dit self vir my gee. Dit sal in my hart vasslaan as ek dit hoor.”
Mense wat haar ken, weet sy luister nie radio nie, veral nie in haar motor nie, sê Ronel.
Maar op ‘n dag klim sy in haar motor, skakel haar radio aan en hoor iemand praat oor Ruach Elohim, Hebreeus vir God se Asem.
“Dit het so diep in my gees vasgeslaan en ek het dadelik geweet dis die regte naam. Want wat anders is ‘n klein babatjie as die Here se asem? As die Here nie die asem in hom blaas nie, is daar nie lewe nie.”
Vanjaar is reeds 20 babas weggegooi, met twee pasgebore babas wat binne twee dae in rivierlope gevind is. Iets wat Ronel laat besef het daar is nie genoeg bewusmaking in die land oor die onderwerp nie.
“Desperate mammas weet nie wat om te doen as hulle geen hoop of hulp het nie.”
Sy en haar swaer Henry Peters het haar motor vol pamflette en plakkate gepak en die lang pad Noorde toe aangepak waar hulle op tien dorpe hul boodskap van hoop gedeel het.
In elke dorp is hospitale, klinieke, polisiekantore, maatskaplike werkers, dokters en ook nuwe mammas besoek en gesels oor ander en beter opsies as om ‘n baba weg te gooi.
Die reaksie was oorweldigend en baie positief, vertel Ronel.
“Ek het geweldig baie telefoniese navrae en baie positiewe aanmoediging gekry en mense wat van oraloor hulp aanbied. Ons wil graag na die res van die land ook uitreik, maar hiervoor benodig ons die nodige fondse en ondersteuning van Namibiërs.”
Haar boodskap aan desperate mammas wat voel hulle moet eerder hul babas weggooi, is eenvoudig, sê Ronel.
Elkeen moet weet daar is ‘n ander en ‘n beter uitweg as om ‘n baba op ‘n onveilige plek te los of dood te maak. Daar is altyd hoop en hulp beskikbaar.
“Sy kan enige maatskaplike werker in haar omgewing of vir my kontak wat haar met die regte mense in verbinding sal bring. Ek wil hê sy moet weet ek is hier en bereid om na haar baba om te sien totdat alle regsprosesse afgehandel is en haar baba ‘n nuwe tuiste kan kry. Sy hoef nie met skuldgevoelens rond te loop vir die res van haar lewe omdat sy haar baba doodgemaak het nie.”
In Februarie vanjaar is die Namibiese kinderwet verander en maak nou voorsiening dat ‘n mamma haar baba anoniem op ‘n veilige plek mag laat sonder om vervolging in die gesig te staar. Dít mits die baba ongedeerd en dit ‘n veilige plek is. Veilige plekke sluit in hospitale, polisiekantore en amptelike plekke van veiligheid soos Ruach Elohim.
Sy sou niks van haar droom kon bereik sonder die “ongelooflike, emosionele en finansiële ondersteuning” van haar man wat met sy “hele hart” deel van die reis is nie, sê Ronel.
“Hy is opgewonde oor elke babatjie wat kom, en is saam met my hartseer oor elke babatjie wat weer gaan ook. Hy help met alles, soos bottels maak, en bied selfs aan om snags na die baba te kyk sodat ek kan slaap, maar ek weier. Hy doen al klaar soveel vir my.”
Deur die jare en met al die babas wat die Peterse in hul huis versorg het, het hul kinders ook nog altyd bankvas agter hul ouers gestaan, elke keer opgewonde as ‘n nuwe lyfie versorg moes word.
“Vandag is al drie al uit die huis, maar ondersteun ons steeds met hul hele hart.”
Ruach Elohim maak staat op skenkings en bydraes van die Namibiese publiek en instellings. Daarsonder sal hulle nie hul werk kan voorsit nie, sê Ronel. Skenkings kan op Pay Today aan Ruach Elohim gemaak word wat hier geregistreer is. Betalings kan ook aan die stigting se rekening by Ruach Elohim Foundation gemaak word. Vir meer inligting kan Ronel by 081 242 6396 gekontak word of besoek hul Facebookblad Ruach Elohim Foundation.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie