Rubens-skildery verkoop
Rubens-skildery verkoop

Rubens-skildery verkoop

Dit gons nog behoorlik in kunskringe oor die ontdekking van ’n Rubens-skildery in Suid-Afrika.

Talle kunsversamelaars is jaloers op die nuwe eienaars – wie ook al hulle mag wees.

“Dit is ’n uitsonderlike fonds gewees en plaas Suid-Afrika weer bietjie in die kollig wat betref die kunste,” merk Johan Myburg, kunskenner, op. Hy was voorheen kunsredakteur by Beeld en lei ook die visuele kunsprogram by die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees.

Portret van ’n heer deur die ou Vlaamse meester Peter Paul Rubens (1577 tot 1640) is in September verlede jaar in ’n Gautengse huis opgespoor.

’n Johannesburgse gesin wat anoniem wil bly, het die afslaers Stephan Welz genader om die skildery te waardeer.

Ná ’n pynlik tydsame proses om te verseker dat die portret nie vervals is nie, het die maatskappy dit bekend gestel en op ’n aanlyn veiling verkoop.

STORIE VAN PORTRET

Dit is nie net die skildery van die ou heer wat mense aangegryp het nie, maar ook die storie van hoe sy portret in Suid-Afrika beland het.

Volgens Stephan Welz se kunskenner, Luke Crossley, is die portret na raming 420 jaar oud en gewaardeer vir sowat R8 miljoen. Skilderye van dié kaliber word amper uitsluitlik in private versamelings of museums gesien.

Sover daar vasgestel kon word, is dié Rubens vir die eerste keer in 1740 op ’n veiling in België verkoop. Dit is in 1925 deur ’n Joodse kinderdokter van Duitsland by die Kunsthandel Komter-veiling in Amsterdam gekoop.

Sy vriende het hom gewaarsku om uit Duitsland pad te gee. Die dokter het in die vroeë 1930’s na Suid-Afrika geëmigreer en die skildery is sedertdien in sy familie se besit.

Myburg was net soos die Stephan Welz-afslaers in vervoering oor die portret.

“Dit is ’n sensitiewe portret, eintlik intiem as mens kyk na die sagte verfhale wat Rubens gebruik het. Die menslikheid van die skildery word weerspieël deur die onderwerp se oë,” sê Myburg.

Hy het ook gegis dat Rubens dalk die persoon baie goed geken het. Crossley het vroeër aan Netwerk24 gesê daar word bespiegel dat die man in die portret moontlik Pieter Bruegel, medeskilder en vriend van Rubens, is.

Die aanlyn veiling van die heer het verlede Vrydag tot ’n einde gekom en daar word in spanning gewag op Stephan Welz-afslaers om bekend te maak wat die nuwe eienaar vir hom betaal het.

In 2002 is een van Peter Paul Rubens se skilderye, Die slagting van die onskuldiges, in die gang van ’n Oostenrykse klooster ontdek en vir R76,7 miljoen op ’n Sotheby-veiling in Londen verkoop.- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!