Rugbydeure in Europa open vir Namibiërs

Die onlangse uitvloei van Namibiese talent na oorsese markte duur onverpoos voort.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Die Spaanse rugbyklub Ampo Ordizia het aangekondig dat hy sy spelersgroep vir die nuwe seisoen met die Namibiese voorspeler Max Katjijeko versterk.

Die 26-jarige Katjijeko (1.96 meter, 99 kilogram) is ewe bedrywig as ’n flank of slot. Hy was ’n lid van die 2019 Wêreldbekerspan na Japan en het in die toetse teen Italië en die Springbokke gespeel.

Katjijeko het sy toetsdebuut in Julie 2017 op ’n toer na Tunisië gemaak, terwyl hy in Juliemaand in Ivoorkus in sy 17de toets – die oorwinning teen Madagaskar – in aksie was.

Die produk van Windhoek Hoërskool het hom as ’n staatmaker in die gedugte FNB Unam-klubspan bewys en het sy eerste professionele kontrak vroeg in 2020 vasgeknoop, hoewel Covid-19 uiteindelik die voorgenome Amerikaanse Superliga kortgeknip het.

“Ek was laasjaar vir so drie maande in Paraguay met die Olimpia Lions, so ek ken so paar woorde en ek kan nogals ’n sin of twee bymekaarsit,” skerts hy. “Maar die plan is om Spaans te leer, so ek sal klasse moet loop as ek kans kry.”

Katjijeko is ’n atletiese voorspeler met ’n hoë werkvermoë en goeie lynstaan- en balvaardighede.

Die Namibiër sal Ampo Ordizia se derde nuweling dié seisoen wees, ná die Ierse skrumskakel Elliot Ryan (Leinster en Ierland-sewes) en die voormalige SA Skole- en Blou Bulle-vleuel Andell Loubser.

Ampo Ordizia het in die vorige seisoen vierde uit die 12 spanne in die División de Honor de Rugby (Spanje se premierliga) klaargemaak. Hul seisoen het daarna in die kwarteindronde geëindig.

Katjijeko sê aanbiedinge uit Roemenië en ’n nie-professionele klub in Frankryk was ook op die tafel, voordat ’n agent van wie hy al vergeet het met die aanbod in Spanje na vore gekom het.

“Hulle liga begin op 3 Oktober, so ek sal seker binne die volgende dae vertrek sodra alles afgehandel is. Ek sien nogal uit om aan te sluit by ’n professionele opset en om in hul topliga te speel.”

PRINCE !GAOSEB

Die flank Prince !Gaoseb is een van die bekende aanwinste wat bevestig is vir die Tel Aviv Heat – Israel se eerste professionele rugby-franchise wat so onlangs as 7 Julie van stapel gestuur is.

Die klub se ambisie is om nuwe veld te wen deur in die debuutseisoen van die Rugby Europa Superbeker sy man te staan.

!Gaoseb, die gewese Namibiese o.20-kaptein en junior Blou Bul, se vorige klubloopbaan sluit FNB Unam asook Yorkshire Carnegie (Engeland) in. In sy vyf toetse sover, insluitend teen die All Blacks by die 2019 Wêreldbeker, het die geharde figuur van 104 kg en 1.85 m gewys dat hy – soos enige van die lang lys gedugte losvoorspelers waarvoor Namibië bekend is – vir geen uitdaging terugstaan nie.

Die klub se hoofafrigter Kevin Musikanth is ook Israel se nasionale afrigter en het tevore aan die stuur van Valsbaai en UCT Ikeys gewys wat hy met buiteperde kan regkry.

Ander Suid-Afrikaners wat in Tel Aviv gekontrakteer is, is die ervare Demetri Catrakilis as skopafrigter (oudlosskakel van die Stormers, WP, OP Kings, Montpellier en Harlequins) en die vleuel Xolisa Guma (Blou Bulle).

!Gaoseb sê: “Ek is bevoorreg en geëerd om hierdie geleentheid te kry. Ek beoog om dit met albei hande aan te gryp en my hart uit te speel.”

Musikanth praat ook met lof van die Namibiër en sê sy soort inklimspel is presies wat hy in sy spelersgroep wou hê vir hul komende uitdaging in Europa.

ELMARCO BEUKES, DION VENTER

Die Portugese rugby RC Montemor, wat in dié land se hoogste liga die Divisão de Honra meeding, het die dienste van twee agterspelers van FNB Wanderers vasgeknoop.

Dion Venter en Elmarco Beukes het albei ’n kontrak vir een jaar (“alles ingesluit”) onderteken.
Beide is produkte van Windhoek Hoërskool en kan ook Namibië Sewesspan op hul CV aanbring.

Beukes het reeds vanaf skoolvlak groot belofte getoon deur die o.18 Cravenweekspan te haal en ondanks sy jeugdigheid ook vir die Namibiese span na die Wêreldrugby Onder 20 Trofee-toernooi in Uruguay gekies te word.

Hy het sy man deeglik gestaan en hoewel hy nie fisiek die grootste is nie, het hy ook in die NRU premierliga sy vernuftige voetwerk uitgestal en homself as ’n betroubare verdediger bewys.

“Ons is op Wanderers se WhatsApp-groep ingelig dat die klub in Portugal in agterspelers belangstel. Ek het ook die klub direk geskakel, terwyl Elmarco via ons klubvoorsitter Willem van Zyl gewerk het om die skuif af te handel,” het Venter aan die koerant vertel.

Venter, wat ná skool kortstondig vir Trustco United gespeel het, het daarna die meeste van sy klubrugby by Wanderers gespeel.

Gedurende 2018 het hy ook ’n draai by Johannesburg se Wanderers-rugbyklub gaan maak, nadat hy in 2014 ook in die KZN premierliga vir Collegians van Pietermaritzburg uitgedraf het.

“Ek en Elmarco is beide van plan om naam te maak in Europa en om lank daar te bly en raakgesien te word om na groter klubs aan te beweeg; nie om sommer gou terug te kom nie. Ons albei hoop ook om op hierdie pad ons profiel te bou om eendag vir die Namibiese span in aanmerking te kom,” sê Venter, wie se ouer broer Tinus ook ’n Namibiese heelagter (nege toetse, 2003-2010) was.

Venter se vernaamste posisie is binnesenter, alternatiewelik losskakel, terwyl Beukes aangedui het dat sy Portugese klub hom as buitesenter, enige vleuelposisie of heelagter kan oorweeg.
[email protected]


FOTO
Dion Venter wil sy kans by ’n klub in Portugal gaan aangryp. Foto argief
Die vlugvoetige Elmarco Beukes was FNB Wanderers se sportman van die jaar in 2019. Foto Andrew Poolman
Max Katjijeko se profielfoto voor die 2019 Wêreldbeker in Japan. Foto World Rugby
Prince !Gaoseb gaan by ’n klub in Israel aansluit. Foto World Rugby

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!