Rugbyklubs kom in beweging vir 2022

Die rugbygemeenskap hoop op 'n seisoen met momentum wat minder deur Covid-19 belemmer word as wat verlede jaar of in 2020 die geval was.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Oor die land heen begin die meeste rugbyklubs vanaf vandag met hul eerste oefensessies vir die nuwe jaar.

Nuwe lede is reeds benoem vir die Namibië Rugby-unie (NRU) se kompetisiekomitee wie se termyn verstryk het. Sodra die aanstellings bevestig is, sal die komitee van klubverteenwoordigers waarskynlik reeds dié week begin saamwerk om die wedstrydskedule vir die komende seisoen saam te stel, met wedstryde in die NRU premierliga, reserweliga en eerste liga wat na verwagting in Maart sal afskop.



UNITED

Trustco United nooi alle huidige en voornemende spelers na 'n informele ontmoeting vanaand halfsewe, voor die oefensessies môre om 18:00 hervat. Die Filistyne verwelkom Robbie Dickson, die afrigter van hul 2019-premierligasukses, terug nadat sy betrokkenheid by die nasionale span tot 'n einde gekom het.

United het ook die naweek van 4 en 5 Februarie bevestig as die datum vir sy tradisionele tienmantoernooi wat jaarliks een van die eerste kompeterende rugbygeleenthede vir die nuwe seisoen aankondig.



SUBURBS

FNB Western Suburbs is ook reg om nuwe en bestaande spelers vandag 18:00 by Suburbspark in Khomasdal te verwelkom. Lorenzo Kloppers tree as die tussentydse hoofafrigter op, terwyl die voorsitter mnr. Keith Allies gesê het die klub sal binnekort adverteer om die soeknet na afrigterstalent wyer te span.



WANDERERS

FNB Wanderers hervat ook vandag om 18:00. Die bestaande afrigterspan van Rohan Kitshoff (hoofafrigter), Shaun du Preez, Dirk Human en Pieter Rossouw bly in plek, terwyl Darryl de la Harpe ook as 'n byvoeging as tegniese assistent vir die agterlyn en verdediging geoormerk is.

Die Wit Hingste het in die afseisoen aangekondig dat mnr. Herman Davin die nuwe president van die rugbyklub is, ná die afsterwe van sy jarelange voorganger mnr. Neels Dodds.

Die klubvoorsitter Willem van Zyl bly aan, net soos die twee ondervoorsitters André Visser (rugbysake) en Attie Samuelson (bestuursake) en die beskermheer mnr. Liefa van Wyk.

Die gewese Namibiese stut en eerstespankaptein Quintin Esterhuizen, asook gewese klubflank en nasionale sewesspeler Dirk de Meyer is ook byvoegings en sluit as komiteelede by Christiaan Jacobie en De Wet Jacobs aan.



UNAM

FNB Universiteit van Namibië, wenner van die 2021-eindstryd teen Suburbs, het bekend gemaak dat sy eerste oefenbyeenkoms komende Donderdag sal wees. Die klub begin 'n nuwe era met David Philander as hoofafrigter ná die uittrede van Johan Diergaardt.

GROOTFONTEIN

FNB Grootfontein se eerste oefendag is môre, met oefensessies op Maandae, Dinsdae en Donderdae, soos by die meeste klubs die gebruik is. Vir navrae kan Wikus Jacobs (081 141 4107) of Louis Grobbelaar (081 705 7196) geskakel word.



REHOBOTH

By die Rooi Bulle, wat verlede jaar naelskraap in die semifinaal uitgeskakel is, sal Johann Wohler voortgaan in sy tweede seisoen as afrigter. Die voormalige losvoorspeler behoort binnekort ook sy hulpafrigter aan te wys.

“Ons oefeninge begin Dinsdag. Ons algemene jaarvergadering sal voor einde Januarie gehou word. Ons beplan ook 'n sewestoernooi op 28 Februarie indien Covid dit sal toelaat. Rayno Benjamin (jarelange Cheetahs-vleuel en gewese Blitsbok) sal ons gas uit Suid-Afrika wees, weereens indien Covid dit toelaat,” sê die klubadministrateur mnr. Marschell Diergaardt.



REHO FALCON

Ronaldo Pedro en Deon Mouton gaan voort as afrigters van FNB Reho Falcon, wie se eerste oefening vir vanaand om seweuur by Hoërskool Dr. Lemmer se veld bestem is. Die klub sal sy algemene jaarvergadering in Februarie hou.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!