Rugbyspan moet altyd u2019n bron van nasionale trots bly
Rugbyspan moet altyd u2019n bron van nasionale trots bly

Rugbyspan moet altyd ’n bron van nasionale trots bly

Andrew Poolman
Om die braaivleisvure en oral waar rugby gepraat word, word die teorie al hoe meer gereeld gehoor – beide van die direkte betrokkenes met binnekennis én die toevallige naweekkykers en koerantlesers.

Die bewyse word toenemend meer ooglopend dat ’n sameswering wel aan die gang is om te verseker dat enige ander Afrika-span vir volgende jaar se Wêreldbeker kwalifiseer, eerder as Namibië, wie se houvas op die kontinentale posisie sedert 1999 ondanks ’n paar rakelingse vloekskote solied gebly het.

Dit was, en is steeds, vreemd dat Wêreldrugby aangekondig het dat die oorblywende topagt Afrika-spanne in die wedloop na Frankryk 2023 vir die eerste keer in die geskiedenis nie hul beslissende uitdunwedstryde op dié vasteland gaan speel nie, maar wel in Frankryk, komende Juliemaand.

Die hoop is klaarblyklik om vir Namibië ’n gat te grawe ten gunste van die spanne wat die mees waarskynlik in sy pad staan – Kenia en Zimbabwe. (Behoede ons van die skandes as ons teëstanders dit regkry om enige van Afrika se Franssprekende rugbylande, van wie Senegal of Ivoorkus tans die beste geplaas is, tot in die Wêreldbeker voor te stoot.)

Met die soms onsubtiele medewerking van ’n Franssprekende skeidsregter is sulke scenario’s geensins ondenkbaar nie. Praat maar met enige lid van die toerspan wat in Julie 2021 in Abidjan was vir die frustrerende en vernederende glips teen die Ivoriane, oor hoe die Namibiërs in die opbou na dié wedstryd behandel (of mishandel) is.

Laas November in ’n vierhoekige toernooi op Stellenbosch was kaptein Johan Deysel en sy manne egter nader aan voltallig en het behoorlik ingeklim en 40-plus punte in oortuigende oorwinnings teen beide Kenia en Zimbabwe opgestapel. Die span se samestelling en organisering was op ’n uitmuntende vlak en voorspel groot moeilikheid vir sy kwalifiserende uitdagers.

Nogtans sal die plaaslike rugby-administrateurs vir enige sukses by die 2023 WB en vir die daaropvolgende WB-siklus na 2027 baie strategies te werk moet gaan om die ernstige lekplekke te herstel in die pyplyn waarin ons spelerstalent optimaal ontwikkel moet word.

Dis algemene kennis dat, hoofsaaklik weens Covid-19, bitter min betekenisvolle skolerugby óf klubrugby die afgelope twee jare hier gespeel is.

Ewe onrusbarend is dat die volgende vlakke van kompetisie ook weggeval het – Suid-Afrika het ons nasionale skolespan in 2016 eensydig uit die o.18 Cravenweek geskop; die o.20-span het vir twee jaar nie in die Afrika-toernooi óf die junior wêreldtoernooi meegeding nie, terwyl die Welwitschias se deelname aan die Curriebeker- of soortgelyke provinsiale reekse ook weens geldelike oorwegings reeds in die eerste helfte van 2018 opgedroog het.

Die bloedneuse en kneusplekke wat teen Suid-Afrika se professionele franchises opgedoen word, dien inderdaad ’n belangrike doel om Namibië se vlakke noodwendig hoër te lig – eerder as om in ’n kokon en ’n droomwêreld vasgevang te bly oor hoe sterk ons werklik is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!