Rugbyspelers seëvier in besparingsplan
Rugby
Stephen Nell – Presies hoe erg die Covid-19-pandemie Suid-Afrikaners raak, is Sondagaand briljant en onthutsend op die TV-program Carte Blanche uitgebeeld.
As jy nog nie gesien het hoe ’n ma lyk wat vertel dat sy nie weet waar haar kind se volgende maaltyd vandaan gaan kom nie, weet jy nou. En in Suid-Afrika is dit allermins die uitsondering op die reël.
Wat my bring by die kwessie van die salarisverminderinge wat Suid-Afrika se rugbyspelers pas aanvaar het. Die oorgrote meerderheid het die hou op die ken gevat, maar daar’s ook ’n paar wat daaroor mor (of is dit eintlik maar hul agente wat suur is oor die kommissie wat hulle gaan inboet?).
Inderwaarheid het die Suid-Afrikaanse Rugbyspelersvereniging (Sarpa) se raad – met verteenwoordigers van die franchise-spanne – briljant gedoen deur op ’n kollektiewe benadering vir onderhandelinge met werkgewers te besluit.
MyPlayers, die oorkoepelende liggaam wat beroepspelers verteenwoordig, kon daarom met ’n ferm mandaat onderhandel en het uiteindelik ooreengekom op verminderinge wat kos in spelers en hul gesinne se mond sal hou.
Die bedryfsgemiddeld met die besparingsplan was ’n salarisvermindering van 25% en met die opsie op pensioenvakansies, daal dit tot 14%. Dít ondanks die feit dat spelers tans géén diens lewer nie.
Daar is baie mense met bitter min simpatie vir spelers wat voel hulle behoort selfs meer in te boet. As Covid-19 die meeste van ons by die punt bring waar ons nie meer ’n diens kan lewer nie, kan ons werkgewers immers seker aanvoer dat daar geen rede is om ons heeltyds in diens te hou nie.
Terselfdertyd is dit belangrik om te begryp dat die oorgrote meerderheid van die spelers nie miljoene verdien nie. Jou deursneespeler is een wat, indien hy nie ’n kwalifikasie agter sy naam het nie, deeltyds behoort te studeer sodat hy met sy uittrede die arbeidsmag kan betree.
Wat agente betref, is daar dié wat hul spelers se belange opreg op die hart dra en ander wat hulle as ’n paspoort tot ’n dik beursie beskou.
Op sy beurt is MyPlayers geskep om die spelers se kollektiewe belange op ’n verantwoordelike manier op die hart te dra, sonder om die bedryf op sy knieë te dwing.
Die ooreenkoms met werkgewers dat spelers hul kontrak in Suid-Afrika binne 21 dae mag opskeur, is ’n voorbeeld van hoe doeltreffend daar na hul belange omgesien is. Daardeur is spelers, en ironies genoeg hul agente, die moeite gespaar om versoeke te rig om uit hul kontrakte vrygestel te word indien hulle goeie aanbiedinge van oorsee ontvang.
Baie afrigters is heel verstaanbaar erg bekommerd hieroor, want dit beteken dat van hul top-Bokke sommer oornag kan besluit om in Engeland of Frankryk te gaan speel. Daar sal ook naels gekou word oor die moontlikheid dat uiters talentvolle jong spelers in die komende weke van hierdie klousule gebruik gaan maak.
Dit kan wel in unies se guns werk deurdat dit ’n finansiële las verlig en ruimte in spelerbegrotings skep.
Jake White, die Bulle se afrigter, sal byvoorbeeld nie krokodiltrane huil oor Johnny Kotze se besluit om die Bulle te verlaat nie. Met unies wat slegs 45 spelers mag kontrakteer en perke op begrotings het, kan een of selfs ’n paar spelers in die pad daarvan staan vir ’n afrigter om dié te kontrakteer wat hy graag wil hê. Kotze skep daardie soort ruimte.
Origens is dit egter ’n klousule wat spelers op ’n ongekende vlak bemagtig en verbaas dit my dat provinsiale unies daartoe ingestem het. ’n Gees van gee en neem het egter by die onderhandelingstafel geseëvier en in die proses het die spelers die beste daarvan afgekom. Geen speler lewer tans ’n diens nie, maar geen speler het ook sy werk verloor nie.
Was dit maar nie elke Suid-Afrikaner se voorland te midde van die verwoestende ekonomiese impak van Covid-19 nie. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie