Rukoro dreig met hofgeding
Meatco se geskorste grootbaas gaan die direksie en betrokke ministers hof te sleep oor die “onregmatige optrede” teen hom.
Ronelle Rademeyer - Die regsverteenwoordiger van die geskorste hoof uitvoerende beampte van Meatco, adv. Vekuii Rukoro, het die vleisverwerkingsmaatskappy se direksie tot vandag kans gegee om sy skorsing onvoorwaardelik op te skort.
Mnr. Zefta Tjitemisa, sy prokureur, dreig in geen onduidelike taal nie dat sou die direksie nie gehoor gee nie, die hof gevra sal word om die besluit te hersien en ter syde te stel.
In ’n brief wat hy Vrydag aan die direksie asook die ministers van landbou, water en bosbou en staatsbeheerde ondernemings, mnre. John Mutorwa en Leon Jooste, gestuur het, voer Tjitemisa aan die optrede teen Rukoro is onregmatig. Volgens hom is dit ook ’n verbreking van die Wet op die Vleiskorporasie van Namibië.
Hy sê in die brief indien Rukoro nie teen vandag toegelaat word om sy pligte as hoof uitvoerende beampte te hervat nie, sy kliënt hom tot die hoërhof sal wend vir ’n dringende bevel wat dié optrede teen hom ter syde stel.
Nuus oor die skorsing het bekend geword toe produsente verlede week deur middel van ’n omsendbrief van Rukoro se tydelike skorsing in kennis gestel is.
“Meatco se direksie het tydens ’n vergadering wat op 9 Mei 2017 gehou is, eenparig besluit om die maatskappy se hoof uitvoerende beampte, adv. Vekuii Rukoro, tot verdere kennisgewing op administratiewe verlof te plaas terwyl op die uitkoms van ondersoeke gewag word,” lui die maatskappy se kennisgewing aan sy lede.
Die direksie se besluit volg glo op ’n forensiese ondersoek deur die ouditeursfirma Ernst & Young ná die verlies van 1 440 beeste in 2014.
Rukoro het gister by navraag aan Republikein gesê die direksie voer ’n “politieke heksejag” teen hom. “Daar is nie ’n enkele bevinding of aanbeveling in die forensiese verslag wat hul (die direksie) optrede regverdig nie,” sê hy.
Dit is geen geheim nie dat die verhouding tussen Rukoro en die direksie reeds geruime tyd gespanne is.
Mnr. Ingo Schneider, hoof finansiële beampte, neem tans in Rukoro se plek waar.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie