Rukoro tevrede met NY-hofverrigtinge
Rukoro tevrede met NY-hofverrigtinge

Rukoro tevrede met NY-hofverrigtinge

Die Herero- en Nama-afvaardiging is opgewonde oor hul saak se vordering.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn

Opperhoof Vekuii Rukoro van die Ovaherero het sy tevredenheid met die hofverskyning van ‘n regsgeleerde, wat Duitsland in die volksmoordsaak verteenwoordig, in die distrikshof in New York uitgespreek.

Hy het tydens ‘n nuuskonferensie verlede week gesê die verskyning bots direk met mnr. Christian Schlaga, Duitsland se ambassadeur in Namibië, se verklaring dat Duitsland ‘n soewereine land is en derhalwe nie in Amerika voor die hof gedaag kan word nie.

“Ek het ’n redelike groot afvaardiging vir die voorverhoor teen Duitsland na New York gelei.

“Die regsverteenwoordiger wat namens Duitsland opgetree het, het homself aan die hof voorgestel. Ons het intussen ons regspan vergroot. Dit sluit nou ook ‘n professor in die regte en ‘n kenner op die gebied van internasionale reg en menseregte in, wat meer as 40 jaar se ervaring het.

"Die hofverrigtinge was kort. Regter Laura Taylor Swain is ‘n ervare regter wat al die skuiwergate wil toemaak en Duitsland die geleentheid wil bied om hul saak te stel. Duitsland wil die saak op grond van ‘n gebrek aan jurisdiksie van die rol geskrap hê. Ons het tot 14 Februarie om ons aanvanklike klag te wysig en op Duitsland se posisie te reageer en teenargumente aan te bied.

“Dit is vir ons maklik - veral noudat ons ons regspan versterk het,” het Rukoro gesê.

Die volgende hofsitting vind op 3 Mei vanjaar plaas.

“Dan sal die geveg in alle erns begin,” het hy bygevoeg.

“Ons én ons regsgeleerders is verheug. In die soort saak waar gewone mense, soos ons, ‘n magtige land soos Duitsland hof toe neem, het geen ander saak so ver soos ons s’n gevorder nie. Ons het ‘n rekord gebreek.

“Ons sal voortbou op die sterk grondslag waarop hierdie geskiedkundige regsoorwinning gebaseer sal wees, omdat die regmatigheid van die saak nie geïgnoreer kan word nie,” het hy op ‘n nuuskonferensie in die Kommandosaal in Windhoek gesê.

Volgens Rukoro skreeu die saak om “regstellende geregtigheid”.

“Al wat Duitsland kan doen, is om regstaktiek te gebruik om die proses te probeer vertraag. Die dag van rekenskap wink,” het Rukoro gesê.

Die besoek aan New York het volgens hom aan al die verwagtinge voldoen en “die groot leuen dat ons ons tyd mors, verkeerd bewys”.

“Ons is gereed om teen die groot ouens in die groot liga te speel,” het hy gesê.

Hy sê Duitsland doen vreemde goed wat onverstaanbaar is.

“Hulle is slim mense met slim regsgeleerdes wat weet dat sulke wette bestaan, maar hulle gee voor dit is nie daar nie. Nou weet hulle,” het Rukoro gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!