Rundu se kraamsaal bars uit sy nate

Ondanks die nuwe multimiljoendollar kraamsaal se inwydingseremonie verlede jaar bly dié eenheid steeds onbeset.
Kenya Kambowe
Kenya Kambowe op Rundu – Vroue in Rundu se oorvol kraamsaal slaap op gedeelde matrasse op die gangvloere, terwyl 'n nuwe kraamsaal leeg staan.

Die nuwe eenheid het sowat N$53 miljoen gekos en is net voor verlede jaar se verkiesings in November deur die minister van gesondheid en maat­skaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, ingewy.

Die nuwe kraamsaal bestaan uit twee teaters, voor- en nageboortesorgsale, 'n neonatale (pasgebore) eenheid, 'n isolasie-eenheid, kamers vir die ma's, kantore en spreekkamers.

Die huidige kraamsaal het slegs 30 beddens, maar huisves dikwels dubbel die aantal vrouens.

Gesondheidsorgwerkers en vroue wat onlangs in die hospitaal geboorte geskenk het, beweer die situasie is ondraaglik.

“Wat by die kraamsaal aan die gang is, is nie reg nie. Die situasie is al jare lank so en niks verander nie. Dit is noodsaaklik vir ons dat die nuwe kraamsaal so gou moontlik operasioneel moet wees,” het 'n verpleegster op voorwaarde van anonimiteit gesê.

“Dit is nou reeds winter en stel jou voor dat iemand wat kraam, ook nog die koue moet verduur.”



GEEN SUURSTOF

Ons susterkoerant Namibian Sun het in April berig die nuwe kraamsaal is nog nie operasioneel nie.

Shangula het gesê dit is as gevolg van 'n tekort aan mediese suurstof in die eenheid.

“Die eenheid het tydelik pasiënte gehuisves, maar hulle het probleme met die mediese suurstof ondervind en die pasiënte moes teruggeneem word,” het hy gesê.

Volgens Shangula was die aanvanklike plan om van suurstofsilinders gebruik te maak, maar dit was onsuksesvol gewees.

“'n Kontrak is aan 'n maatskappy toegeken om 'n mediese suurstofopwekker op die perseel te installeer, maar dit is nog nie gedoen nie,” het hy gesê.

Die uitvoerende direkteur van gesondheid en maatskaplike dienste, mnr. Ben Nangombe, het verlede week gesê die ministerie verwag dit sal teen volgende maand afgehandel wees.

“Die kontrakteurs het aangedui hulle sal die taak kan voltooi. Die suurstofproduksie-eenheid word volgens spesifikasies vervaardig. Daar was enkele probleme as gevolg van Covid-19, soos die beskikbaarheid van materiaal vir die vervaardiging van suurstof, wat tans in groot aanvraag is, en dit het die vertraging veroorsaak.

“Hulle het wel gesê die eenhede sal in Junie afgegee word,” het Nangombe verduidelik.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!