Rus in vrede, Hidipo

Huldeblyke stroom in vir ontslape leier
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn

“Kameraad HH is nie meer met ons nie.”

Met dié woorde isRepublikein gisteroggend ingelig oor die dood van ’n politikus wat vir meer as ’n halfeeu diep spore op die Namibiese politieke landskap getrap het.

Volgens sy seun, Linekela Hamutenya, is sy pa tussen 04:00 en 05:00 Donderdag in die ouderdom van 77 jaar in die Lady Pohamba-hospitaal in Windhoek oorlede. Hamutenya se gesondheid was die afgelope jare nie goed nie en hy is onlangs in Ongwe­diva gehospitaliseer nadat hy by ’n troue in die Noorde ineengestort het. Hy is later na Windhoek vir behandeling oorgeplaas.

Vriende, kennisse, politici en familie het gisteroggend by die Hamutenya-woning in Olympia byeengekom om meegevoel met die naasbestaandes te betoon en vir ’n oomblik te vertoef asook ’n boek van herinnering te onderteken.

Van regeringskant was die visepresident, dr.Nickey Iyambo, die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, die minister van presidensiële sake, mnr. Frans Kapofi, en die adjunkminister van internasionale betrekkinge en samewerking, dr. Peya Pushilenga, gestuur om namens die regering bystand te verleen.

“Die president is ook die doodstyding meegedeel. Ons wag net dat hy terug is in die land om die finale begrafnisreëlings te tref,” het Hamutenya (jr.) gesê.

“My pa was ’n openbare figuur en daardie lewe was veel anders as wat hy by die huis en sy familie was. Ek sal hom onthou vir sy intellek, sy goedhartigheid, sy nederigheid en sy liefde vir sy land.”

“Hy was ’n man van die mense en hy wou baie graag sien dat Namibië onafhanklikheid bereik. Dit het hy in sy leeftyd ervaar. Ek voel geëerd om hom as pa te kon hê en om in sy teenwoordigheid te kon gewees het. Ek sal die oomblikke wat ons saam deurgebring het, vir altyd koester,” het Hamutenya (jr.) gesê.

Eer betoon

Met die opening van die Nasionale Vergadering gistermiddag het die speaker, prof. Peter Katja­vivi, hulde aan die ontslape politikus gebring.

Hy sê Hamutenya was toegewyd en verbind tot die bevryding van Namibië. Hy sê Hamutenya het selfs na die vorming van die Rally for Democracy and Progress (RDP) voortgegaan om ’n betekenisvolle bydrae tot die politieke bedeling in die land te lewer, voordat hy na Swapo teruggekeer het.

Lede van die huis het opgestaan vir ’n minuut stilte ter nagedagtenis aan Hamautenya.

Die president van die DTA, mnr. McHenry Venaani, het Hamutenya in ’n verklaring as “een van Namibië se dapperste seuns” in sy hulde­blyk beskryf.

Hy sê Hamutenya was ’n Namibiese ikoon en dat sy nalatenskap en op­offeringe nooit vergeet sal word nie.

“My enigste berou is dat hierdie erfenis van hom nooit herdenk is terwyl hy met ons was nie. Laat dit vir ons ’n les wees om die lewende legendes en ikone wat nog met ons is te herdenk, sodat hulle hul stories met ons kan deel,” het Venaani gesê.

Hy het ook die DTA se meegevoel met die Hamutenya-familie, die gemeenskap van Odibo, sy broers en susters in Swapo en die RDP en die Namibiese nasie betuig en gesê die DTA staan in hierdie donker tyd in solidariteit met almal.

Trotse geskiedenis

Hamutenya is op 17 Junie 1939 op Odibo in die Ohangwena-streek gebore.

Sy pa, Aaron Hamutenya, was ’n stigterslid van Swapo.

Hamutenya het tussen 1959 en 1961 aan die Augustineum Kollege op Okahandja studeer voordat hy in ballingskap gegaan het. Hy het joernalistiek aan die Sofia Universiteit in Bulgarye studeer voordat hy na Amerika verhuis het waar hy ’n BA-graad in politieke wetenskap en geskiedenis aan die Lincoln Universiteit in Pennsilvanië en ’n nagraadse diploma in ontwikkelingstudies aan die Syracuse Universiteit in 1969 behaal het. In 1971 behaal hy ’n meestersgraad aan die McGill Universiteit in Montreal, Kanada.

Met sy terugkeer na Namibië in 1989 was hy een van die vurigste kampvegters vir Swapo en is tot lid van die grondwetskrywende vergadering verkies. Hy was ook een van die lede van die grondwetskrywende komitee wat Namibië se grondwet onder voorsitterskap van pres. Hage Geingob opgestel het.

In 1990 is hy aangewys as die eerste minister van inligting en uitsaaiwese. Tot 2004 het hy ver­skeie kabinetsportefeuljes, waaronder handel en nywerheid en buitelandse sake, beklee.

In 2004, ná ’n onsuksesvolle veldtog om die Swapo-presidentskap en nadat hy deur oudpres. Sam Nujoma afgedank is as minister, het hy uit Swapo bedank en in 2007 die RDP gestig, wat in die daaropvolgende verkiesing die amptelike opposisieparty geword het.

Hy het as leier van die amptelike opposisie na die Nasionale Vergadering teruggekeer. Hy het op 28 Februarie 2015 die tuig as president van die RDP neergelê en op 28 Augustus 2015 weer by Swapo aangesluit.

Hamutenya laat sy vrou, Nangula, seuns Sheefeni, Erkki en Linekela en dogter, Ndeipala, asook sy susters Lucia, Alma en Selma na.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!