Rus in vrede, Namibië se vroue-Madiba

Catherine Sasman
Catherine Sasman



Sy was 'n ma, vryheidsvegter, kampvegter vir menseregte, gemeenskapsaktivis en vegter vir geslagsgelykheid, opvoeder met 'n intense passie vir vroeë onderwys en het die vaste oortuiging gehad dat almal – volwassenes én kinders – gelyke regte het.

Me. Otillie Abrahams was 'n formidabele vrou wat in deelnemende demokrasie en kritiese denke geglo het en dit nagestreef het.

Sy was 'n belese en bevryde vrou, 'n visionerê politikus wat Namibië en die wêreld 'n beter plek wou maak en wat respek vir haar medemens en die omgewing gehad het en al as Namibië se eie vroulike weergawe van Madiba beskryf is.

Die ontslape Abrahams het almal met wie sy kontak gehad het se lewens geraak.

Mense wat haar geken het, het vertel hoe sy altyd mense bo alles – geld, status, posisie, politiek en party – gestel het.

'n Mense-mens wat reeds voor onafhanklikwording vir die bemagtiging van die onderdruktes geveg het.

Só is Abrahams, oftewel Tillie, soos baie haar genoem het, Vrydag tydens 'n spesiale gedenkdiens in huldeblyke onthou.

Abrahams was die stigter en hoof van die Jacob Marengo Tutorial College (JMTC) en was ook aan die stuur van baie ander burgerlike bewegings.

Dit sluit in die Namibiese Vrouevereniging (NAWA), die Namibian Nationhood Trust en ook die KBV-burgervereniging wat die BV Play Centre begin het.

Sy was ook 'n stigterslid van die People's Primary School in Katutura, asook die hulpbronnesentrum by die JMTC wat na wees- en weerlose kinders omgesien het.

“Sy was 'n voortdurende teenwoordigheid in die Namibiese opvoedingsektor. Sy het die Namibiese kind met sjarme, respek en op 'n omvattende en inklusiewe manier behandel. Sy het kinders die geleentheid gebied om nie net akademies uit te blink nie, maar om ook belangrike lewensvaardighede soos geduld, skeppendheid, empatie en deursettingsvermoë te ontwikkel,” het die permanente sekretaris van onderwys, kuns en kultuur, me. Sanet Steenkamp, namens minister Katrina Hanse-Himarwa gesê.

Abrahams het die kinderbeweging in Namibië begin, eers met meisies en later ook met seuns. Dié kinderbeweging het ook na Suid-Afrika uitgekring waar dit nou in elke provisie 'n tak het.

“Ons sal nooit weet hoeveel mense se lewens sy geraak het nie,” het 'n organiseerder van die Suid-Afrikaanse kinderbeweging, me. Josephine de Klerk, gesê.

“Sy was 'n wonderlike vrou en 'n liewe vriendin,” het De Klerk gesê.

Die uitvoerende raadslid van die Namibia Nationhood Trust, me. Jennifer Coerecius, sê Abrahams was baie gesog onder plaaslike en internasionale borge, want sy het geen geduld met korrupsie gehad nie.

'n Verteenwoordiger van die Vereniging van Voormalige Angolese studente van JMTC, mnr. Garbiel Lopes, het gesê Abrahams was die brug tussen die hopelose situasie van vlugtelinge in die land en 'n plek van veiligheid waar hulle kon leer en floreer.

“Sy was die moederloses se ma,” het Lopes gesê.

Abrahams se neef, mnr. Brian Black, het gesê dit is betreurenswaardig dat die regering haar nie 'n heldeafskeid gegun het nie.

Sy is deur die wêreldgemeen­skap as 'n heldin erken met 'n toekenning deur Rotary International wat deur die Verenigde Nasies as die wêreld se grootste nieregeringsorganisasie beskryf is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!