Rusland kap terug, gooi 23 Britte uit, en nou ...
Brittanje sal nooit toelaat dat die lewe van Britse burgers en ander mense op Britse grondgebied bedreig word deur die Russiese regering nie.
Rusland het 23 diplomate van Brittanje uit die land gegooi in reaksie op die Britte wat vroeër Russiese diplomate ’n week gegee het om die land te verlaat.
Rusland het ook die Britse Raad in die land gesluit in die groter wordende diplomatieke draaikolk nadat ’n gewese dubbele spioen vir die twee lande en sy dogter met ’n senumiddel aangeval is, het The Guardian berig.
Die Britse Raad is ’n organisasie wat vir groter begrip vir Engels as taal en Brittanje as land in Rusland gewerk het.
In antwoord hierop het Theresa May, die Britse premier, gesê hulle het so ’n stap verwag en sal nou weer op hul beurt besin oor “volgende stappe saam met ons bondgenote en vennote”.
Sy het gesê Brittanje sal nooit toelaat dat die lewe van Britse burgers en ander mense op Britse grondgebied bedreig word deur die Russiese regering nie.
Brittanje het vroeër reeds gesê hulle het planne reg vir ingeval die Russe sou reageer op die aanvanklike strafmaatreëls, berig The Guardian.
Laurie Bristow, die Britse ambassadeur in Rusland, is Saterdag deur die Russe ingeroep en opdrag gegee dat 23 diplomate die land moet verlaat.
May sal nou moet besluit of sy met nóg strafmaatreëls wil begin.
Tom Tugendhat, voorsitter van die buitelandse sake-komitee van die konserwatiewe party in Brittanje, het gewaarsku teen verdere diplomatieke strafmaatreëls. Hy het gesê Wladimir Poetin se Achielles-hiel is blootstelling van sy persoonlike rykdom.
Hy het voorgestel dat die Britte eerder die lewe van Poetin se bondgenote moeilik moet maak wat betref hul eiendom in Londen, berig die BBC.
Hy het op die program Today gesê die uitsetting van Britse diplomate is simbolies. “Geeneen van hulle het senugas gebruik om spioene in Rusland te probeer vermoor nie. Geeneen van hulle het honderde mense se lewe in die gevaar gestel om aaklig te sterf nie”.
Die Kremlin het vroeër gesê dit is “onvergeeflik” dat die Britte gesê het Poetin het opdrag gegee vir die aanval op die spioen.
Intussen berig Erica Gibson die senugas wat gebruik is om die voormalige Russiese dubbele spioen vir die Britse buitelandse spioenasiediens MI6 en sy dogter te vergiftig, is waarskynlik deur ’n verbyganger aan hul velle gesmeer.
“As hulle dit ingeasem het, was hulle oombliklik dood. Dit neem langer om die gas deur die vel te absorbeer,” het ’n Suid-Afrikaanse chemiese kenner, wat weens sy professionele status anoniem wil bly, aan Rapport verduidelik.
Hy sê verder dat enige chemiese spesialis met toegang tot ’n behoorlik toegeruste laboratorium só ’n gas in Brittanje kan vervaardig. “Ek twyfel sterk of dit nodig sou wees om dit van Rusland af of waar ook al oor die grens te bring,” sê hy.
Sergei Skripal (66) en sy dogter, Yulia (33), is twee weke gelede op ’n parkbankie in Salisbury gevind waar hulle in ’n bewustelose toestand gesit het.
Die polisieman wat eerste op die toneel was om hulle te probeer help, is steeds in ’n kritieke toestand in die hospitaal.
Skripal en sy dogter is ook steeds in die waakeenheid. Presies hoe goed of hoe sleg dit met hulle gaan, word tans dig gehou.
“Die feit dat die polisieman ook aangetas is, strook met my vermoede dat die middel aan hul velle gesmeer is, want só sou hy direk daarmee in aanraking gekom het. Dit sou so maklik wees as om die middel in ’n gewone spuitnaald of spuitbotteltjie te sit en in die verbygaan op die teikens te spuit. Hulle het dit waarskynlik nie eens gevoel nie.
“Slegs ’n teelepel of twee is nodig. Minder as dit kan ’n mens doodmaak as jy dit inasem.”
Die chemiese aanval in die hartjie van ’n stil klein stadjie het sedertdien tot ’n ernstige diplomatieke uitval tussen die Britse en Russiese regerings gelei. Rusland ontken ten sterkste dat enige van sy agente vir die aanval verantwoordelik was, of selfs dat die senugas novichok, ’n dodelike middel wat in die 1970’s reeds in Rusland ontwikkel is, in die aanval gebruik is.
Die Russiese weermag het destyds novichok as een van sy meer gevorderde senugasse ontwikkel. Tot tyd en wyl minstens die houer van die middel in Brittanje opgespoor is, sal die oorsprong daarvan waarskynlik nie bepaal kan word nie. Van die Russiese gasse is as twee aparte en oënskynlik skadelose middels in dié land se chemiese arsenaal gestoor. Wanneer die middels egter gemeng word, word dit ’n dodelike chemiese wapen.
“In die tipiese wêreld van chemiese aanvalle soos dié moet mens die groter politieke prentjie ook in ag neem. Dit pas Brittanje om nou die blaam op Rusland te plaas, maar dit kon net sowel ’n Brit gewees het wat voorheen deur Skripal verraai is,” sê Rapport se kenner.
Skripal was ’n dubbele agent en ’n senior oudoffisier in die Russiese militêre intelligensiediens GRU, wat jare gelede dié land se geheime aan MI6 uitgelap het – en vermoedelik ook MI6 s’n aan Rusland. In die proses het hy etlike van sy kollegas aan albei kante verraai. Hy is in Rusland tot 13 jaar tronkstraf gevonnis, waarna hy toegelaat is om hom in Brittanje te vestig.
Die vraag oor waarom hy nou vergiftig is nadat hy reeds sy straf in Rusland uitgedien het, bly onbeantwoord. – Netwerk24 (Bykomende inligting: BBC)

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie