Rusland raap JP Nel op in WB-jaar

Die gewag vir antwoorde oor die pad vorentoe eis sy tol.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die skielike vertrek van JP Nel om ’n klub in Rusland te gaan afrig, plaas die kollig opnuut skerp op die voortslepende onsekerheid wat in die topvlakke van Namibiese rugby-administrasie heers.

Nel, die hulpafrigter van die senior nasionale span in 2018, het ’n tweejaarkontrak aanvaar om as hoofafrigter van die Russiese klub Kazan Arrows aangestel te word.

Die Arrows se ambisie om in die nasionale liga die topspanne van Moskou die stryd aan te sê, het hulle op die spoor gebring van die voormalige Blou Bul-senter wat sedert 2015 by die afrigting van FNB Wanderers en later die Namibiese nasionale spanne betrokke geraak het.

Nel se vertrek laat ’n leemte in die afrigtingstruktuur van beide die Welwitschias, wat vir deelname aan die provinsiale SuperSport uitdaagreeks deelneem, en die nasionale span wat minder as agt maande het voordat die 2019 Wêreldbekertoernooi in Japan aanbreek.

Gedurende die tweede helfte van 2018 – ná Namibië se dominerende vertonings vir WB-kwalifikasie – het Nel hom eensklaps in die spervuur bevind toe die Namibiese Rugbymaatskappy (NRL) hom as afrigter vir die Welwitschias in die Curriebeker eerste liga aangestel het, terwyl die Namibië Rugby-unie se president, mnr. Corrie Mensah, vir Johan Diergaardt in dieselfde pos aangestel het.

’n Middeweg is later gevind, maar te midde van die onsmaaklike rugbypolitiek wat die onderhandeling met borge laat misluk het, moes die Welwitschias noodgedwonge uit die Curriebeker onttrek word, terwyl ’n toetswedstryd in Kenia ook deur die mat geval het.

Republikein het gister aan Phil Davies, die nasionale afrigter en direkteur van rugby, gevra of hy lig kan werp op die proses om ’n afrigter/s vir die provinsiale kompetisie aan te stel.

Davies se antwoord was: “Jammer, ek het geen idee nie. Niemand van die NRU het sedert Augustus met my gekommunikeer nie en die Maatskappy weet ook nie wat aangaan nie. Ek wag op nuus net soos julle. Sodra ek weet, sal ek jou kan inlig.

“Al wat ek weet, is dat die spelers reeds hard aan die oefen is sonder dat hulle kontrakte het – só is die vlak van hul verbintenis tot Namibiese rugby en hul ywer om die nasie trots te maak.”

Die ganse afrigting- en mediese span, tesame met die nasionale spelersgroep wat sedert 8 Januarie op die oefenveld en in die gimnasium aan die spook is, bevind hulle sonder kontrakte.

Die NRU is steeds met Wêreldrugby aan die onderhandel oor die pad vorentoe, waar Mensah die gesag oor die aanstelling van die nasionale afrigters terug in die NRU se hande wil sien.

By die NRU-kantoor, waar Werner Jeffery verlede maand vir Christo Alexander as waarnemende uitvoerende hoof vervang het, lyk sake maar beroerd en is daar geen aanduiding dat die liggaam binnekort in staat sal wees om enige verpligtinge teenoor die nasionale groep na te kom nie.

Die Unie is platsak en het aan die einde van verlede jaar agter geraak om sy handjie vol kantoorpersoneel se salarisse te betaal, terwyl werk ook met tye onderbreek word wanneer daar nie elektrisiteit of internettoegang in die kantoor is nie.

Op ’n politieke vlak het die NRU die stryd gewen deur hoofsaaklik uit te wys dat die Maatskappy binne die raamwerk van die land se Sportwet nie kan voortgaan nie.

Tot dusver is dit egter vir Mensah-hulle ’n klassieke Griekse Pyrrhus-oorwinning, wat vir die wenner ’n potensieel ewe dodelike verlies as die verloorder gebring het.

Sedert sy totstandkoming aan die begin van verlede jaar het die NRL Wêreldrugby se hoëprestasieprogram in Namibië geadministreer, waarvan die koste vir 2018 en 2019 ’n geraamde N$11 miljoen per jaar beloop en waarvan die toekoms steeds uitgeklaar moet word.

Dié program omsluit die rolle van Namibiese en buitelandse spesialiste soos Phil Davies, Peter Harding (bestuurder van die HP-program), Roger Thompson (bestuurder van die HP-akademie), Irvin Newman (nasionale spanbestuurder), Sam Pickford (video-ontleder), Dominic le Roux (rehabilitasie en monitor-spesialis), Sergio de la Harpe (assistent vir krag en kondisionering), dr. Vernon Morkel (hoof van die mediese span), Jaco Engels (skrumkonsultant), Wayne Proctor (hoof van krag en kondisionering), Innis Erasmus (fisioterapeut) en Daniella Filipovic (mediaskakeling en kommunikasie).

Die direksielede van die NRL is mnre. Bradley Basson (voorsitter), Mervin Green (uitvoerende hoof), Hendrik Grové (finansies), Peter Harding (verteenwoordiger van Wêreldrugby), Namene Kalili (verteenwoordiger van FNB Namibië), Corné Powell (spelersverteenwoordiger), Divan Serfontein (verteenwoordiger van die Namibië Brouerye) en Petrie Theron (regsadviseur).

BORG OOK IN DUISTER

Mnr. Wessie van der Westhuizen, besturende direkteur van die Namibië Brouerye (NBL), het gister by navraak soos volg gereageer: “Wêreldrugby en Rugby Afrika se delegasie verteenwoordigers het gedurende Desember verskeie sessies met die verskillende rolspelers gehad in ’n poging om ’n middeweg te vind wat vir alle partye werk.

“My verstandhouding is dat hulle steeds in samesprekings met die NRU is om ’n aanvaarbare uitweg te vind. As hoofborg van die nasionale rugbyspan en in ’n Wêreldbekerjaar is ons natuurlik baie teleurgesteld met dié stand van sake en die feit dat daar steeds nie ’n uitweg gevind is nie.

“As hoofborg en ek glo as Namibiërs, is ons grootste vrees dat in die afwesigheid van ’n oplossing, Namibië die risiko loop om van die toernooi te moet onttrek of selfs uit die Wêreldbekertoernooi Japan gediskwalifiseer kan word. Dit sou ’n patetiese refleksie gee van Namibië en ons leierskap.

“Ek is steeds vol vertroue dat daar wel binnekort ’n uitweg gevind sal word.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!