Russe het dalk antwoord op water-, kragkrisis
Russe het dalk antwoord op water-, kragkrisis

Russe het dalk antwoord op water-, kragkrisis

Comsar waarborg hul belegging sal water, elektrisiteit en petroleumprodukte teen goedkoper pryse kan lewer.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Die Russiese maatskappy Comsar sê hy gaan N$21,9 miljard (US$1,5 miljard) in 'n geïntegreerde olieraffinadery, elektrisiteit- en waterontsoutingsaanleg op Walvisbaai belê.

Die olieraffinadery sal glo ligte petro­leumprodukte, maar ook swaar brandstofolie produseer wat gebruik sal word om 600 MW se elektrisiteit op te wek.

Van dié opgewekte krag sal 'n ontsoutingsaanleg aandryf, wat tussen 30 000 m³ en 100 000 m³ water per dag sal kan lewer.

Me. Liudmila Raymonds, die uitvoerende direkteur vir die Comsar-beleggingsprojek in Namibië, het verlede Donderdag in 'n voorlegging by die Ekonomiese Groeiberaad gesê Comsar hoop om teen die eerste kwartaal van 2024 reeds die eerste produkte aan Namibië te lewer.

“Ons waarborg die pryse van ons produkte sal laer wees as die pryse van sommige produkte wat tans deur Namibië ingevoer word,” het Raymonds gesê.

Comsar se belegging sal glo nie net Windhoek en Walvisbaai se waternood oplos nie, maar kan ook van Namibië 'n uitvoerder van ligte petroleumprodukte en elektrisiteit maak.

Raymonds het gesê die olieraffinadery sal na verwagting sowat 1,6 miljoen ton ligte ­petroleumprodukte per jaar produseer en sal volgens die beste internasionale standaarde gebou word.

Sy het gesê die geïntegreerde aanleg moet eerstens ­olieprodukte en ­elektrisiteit eksklusief aan die ­Namibiese mark voorsien, waarná oortollige produkte na die wyer streek uitgevoer kan word.

“Dit is 'n wen-wen belegging vir beide Namibië en die maatskappy,” het Raymonds gesê.

“Boonop meng ons nie in met ­bestaande produksie nie, ons skep net 'n groter kapasiteit en gaan invoere vervang.”

Raymonds het gesê die aanleg is tans nog in die ­voorbereidingstadium en sal deur 'n haalbaarheidstudie ­opgevolg word, wat sowat ses maande gaan neem.

Hierna sal bouwerk ongeveer 40 maande neem.

“Teen die einde van 2023 moet konstruksiewerk voltooi wees,” het sy gesê.

Volgens haar sal die boufase werk aan sowat duisend mense lewer, terwyl die aanleg daarna sowat 800 permanente werksgeleenthede sal bied.

“Ons is in gesprek met plaaslike universiteite om mense met gepaste vaardighede op te lei,” het sy gesê.

Die Russiese oligarg en ­grondbaron, mnr. Rashid Sardarov, is die voorsitter van Comsar Energy Group se direkteursraad – dieselfde man wat verlede jaar in die nuus was toe hy vier Nami­biese plase gekoop het, dit aan die ­regering geskenk het en toe 99 jaar se huurregte daarop gekry het.

Voor dié grondtransaksie het hy reeds 28 000 ha grond by ­Dordabis besit wat as Marula Game Ranch bekend gestaan het.

Raymonds se Linked-In-profiel sê sy is ook Marula Game Ranch se ­finansiële direkteur.

Comsar het reeds talle energie­opwekkingsprojekte en -aanlegte in suidoostelike Europa gebou.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!