u2018Russe kaap verkiesingu2019
u2018Russe kaap verkiesingu2019

‘Russe kaap verkiesing’

Rusland en selfs pro-Trump-groepe uit Amerika word in dié stadium deur die jong Fransman se party verdink.
Emmanuel Macron, die voorloper in gister se Franse presidentsverkiesing, was die slagoffer van ’n “massiewe” internet-aanval deur magte wat sy opmars na die Élysée-paleis wil stuit.

Rusland en selfs pro-Trump-groepe uit Amerika word in dié stadium deur die jong Fransman se party verdink.

Die aanval het die aanlyn beskikbaarstelling behels van ’n magdom vertroulike dokumente, waaronder e-posboodskappe uit die hart van Macron se veldtog.

Die publikasie van die dokumente ure voordat ’n verbod op mediadekking van die presidentsveldtog van krag geword het, het dit baie moeilik gemaak vir Macron se span om behoorlik te reageer.

Peilings toon Macron sou gister waarskynlik tussen 62% en 63% van die stemme wen teenoor die 37% tot 38% van sy teenstander, Marine Le Pen. Peilings voor die vorige ronde van die verkiesing, op 23 April, was baie akkuraat.

Macron se En Marche!-beweging het in ’n verklaring die kuberinbraak bevestig en gesê dit was ’n duidelike poging om Macron te probeer ondermyn in die belangrikste Franse verkiesing in dekades.

Le Pen wil Frankryk uit die eurosone lei en die Europese Unie (EU) verlaat, terwyl ­Macron, ’n bankier, pro-EU is en nie hervormings in Frank­ryk se immigrasiebeleid teenstaan nie aangesien hy sê daar in elk geval nie iets is soos “Franse kultuur” nie – Frank­ryk het eerder ’n kultuur van “diversiteit”.

Die Franse verkiesingskommissie het Saterdag volgens die AFP-nuusagentskap gewaarsku dat enigiemand wat inligting uit die lekkasie sou publiseer, ’n misdryf sou pleeg omdat die egtheid daarvan onbevestig is.

Hillary Clinton

Die kuberaanval op Macron het sterk ooreenkomste getoon met aanvalle op die Amerikaanse Demokratiese Party se presidentskandidaat Hillary Clinton se veldtog verlede jaar, wat volgens die FBI deur Rusland gepleeg is.

Amerikaanse intelligensie-agentskappe het in Januarie vanjaar gesê pres. Wladimir Poetin van Rusland het die opdrag gegee dat Clinton se e-posstelsel onderskep word om haar teenstander, pres. ­Donald Trump, te bevoordeel.

Luidens die Britse koerant The Telegraph was die APT 28-kuberintelligensiegroep, wat bande met die Russiese militêre intelligensieagentskap het, vir die onderskepping van Clinton se dokumente verantwoordelik.

Macron se verkiesingspan het reeds in Januarie gekla oor pogings om by hul rekenaarstelsels in te breek. Benjamin Griveaux, Macron se woordvoerder, het in Februarie die Kremlin daarvan beskuldig dat dié besig is met ’n smeerveldtog teen Macron en dat hy die Russiese staatsmedia daarvoor inspan. Die Macron-lekkasie is boonop eerste deur Jack Posobiec, ’n verregse pro-Trump aktivis, in sosiale media bekend gemaak.

Macron en Le Pen het die afgelope week koppe gestamp in ’n televisiedebat, waarna Macron se vertoning in die peilings verder verbeter het. Le Pen is tydens ’n besoek aan ’n katedraal in Reims in die noorde van Frankryk deur tientalle protesgangers uitgejou.

In ’n verklaring het Macron se party gesê die kuberkrakers het egte en vervalste dokumente gemeng “om twyfel en verwarring te saai”.

“Om in die laaste ure van die amptelike veldtog in te meng is duidelik ’n kwessie van demokratiese destabilisering soos ons gesien het in die Verenigde State,” het Macron gesê.

Ook Le Pen se veldtogspan het vroeër Vrydag gesê haar webblad is tydens die veldtog “dikwels” aangeval. – Netwerk24/Reuters/The New York Times/Le Monde.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!