Russe, verregses saai vrees voor Europese verkiesing
Russe, verregses saai vrees voor Europese verkiesing

Russe, verregses saai vrees voor Europese verkiesing

Rusland werk saam met verregse politieke partye in Europa om vrees te saai in aanloop tot die Europese parlementêre verkiesing, wat van 23 tot 26 Mei plaasvind.

The Daily Beast berig dat die Russe webblaaie gebruik om vrese oor migrasie en oor-regulasie deur Brussel aan te blaas. Die parlementêre verkiesing is deurslaggewend in dié tydstip van Brexit omdat leiers nuwe immigrasieregulasies en Russiese sanksies sal toepas, twee kwessies wat die magsblok verdeel.

Disinformasie word op webblaaie gebruik wat dit vir Europeërs moeilik maak om tussen Russiese propaganda, disinformasie deur die verregses en werklike politiese debatvoering te onderskei.

Volgens die New York Times is ondersoekers van die Europese Unie, akademici en burgerregtegroepe dit eens dat dieselfde taktiek deur die Russe in die Kremlin se inmenging met die Amerikaanse verkiesing in 2016 gebruik is.

Ten spyte van pogings deur Amerikaanse tegnologiemaatskappye om disinformasie op die wêreldwye web hok te slaan, bly dit steeds maklik om valse inligting te versprei.

VERSKEIE NABOOTSERS

Rusland is nie die enigste dryfkrag agter dié taktiek nie. Navorsers het ook op verskeie nabootsers, veral onder verregse groepe, afgekom. Ondersoekers vermoed dat sosialemediaplatforms soos Facebook, Twitter, webblaaie en WhatsApp-groepe gebruik word om valse inligting oor die Europese Unie, Navo en die immigrantekwessie te versprei.

Die brand vandeesmaand by die Notre Dame in Frankryk word byvoorbeeld voorgehou as die handewerk van Islamitiese terroriste, ’n spioenasiediens of ’n geheime agentskap wat die wêreld wil verwoes. Menigmaal is dié valse boodskappe direk van die Russiese nuusmedia afkomstig en word dit deur ander webblaaie nageboots.

Volgens The Independent gebruik populistiese leiers wat simpatiek staan teenoor Rusland hul invloed om onmin in Europa te saai en onsekerheid in demokratiese instellings te bewerkstellig om alles af te breek wat sedert die Tweede Wêreldoorlog tot stand gebring is. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer