Russiese gesante verlaat VSA
Russiese gesante verlaat VSA

Russiese gesante verlaat VSA

Ronelle Rademeyer
'n Topassistent van verkose pres. Donald Trump het Sondag gesê Amerika het oneweredig opgetree toe hy besluit het om 35 Russiese diplomate uit die VSA te skop.

'n Vliegtuig met 35 Russiese diplomate en hul families het Washington Sondag verlaat en is op pad na Rusland.

Pres. Barack Obama het dié diplomate uit die land geskop uit protes teen Rusland se beweerde inmenging in die Amerikaanse presidentsverkiesing.

Sean Spicer, Trump se nuwe Withuis-woordvoerder, het aan ABC gesê hy gaan moeilike vrae aan Amerikaanse spioene vra.

Obama se stap om die Russiese diplomate uit te skop, volg ná 'n ondersoek deur die CIA, die Amerikaanse geheime diens, en die FBI, die speurdiens.

Trump vergader vandeesweek met die intelligensiedienste.

Hy het die laaste tyd bewerings deur Amerikaanse intelligensieagentskappe dat Rusland die Amerikaanse presidentsverkiesing met kuberkrakery wou beïnvloed, van die tafel gevee.

Spicer sê toe kuberkrakers van China in 2015 op die Amerikaanse regering se rekenaarstelsels toegeslaan en die persoonlike inligting van vier miljoen huidige en voormalige federale werknemers gesteel het, was daar geen openbare optrede nie.

“So 'n mens kan vra of daar hierdie keer politieke vergelding was eerder as 'n diplomatieke reaksie,” sê Spicer.

Die diplomate het 72 uur gehad om die land te verlaat.

Die CIA en die FBI het in hul ondersoek tot die gevolgtrekking gekom dat die Russe herhaaldelik in die presidentsverkiesing ingemeng en skadelike inligting gelek het om die verkiesing te ondermyn en om Trump se kanse te verbeter.

The Washington Post het Vrydag­oggend berig Trump kan Obamba se besluit herroep wanneer hy president word.

Die aangewese president het in sy reaksie op Obama se aankondiging gesê dit is tyd dat die VSA aanbeweeg “na groter en beter dinge”.

Die betrekkinge tussen die Obama-­administrasie en Rusland is baie stram, maar die verwagting is dat dit kan verbeter wanneer Trump in die Withuis by Obama oorneem.

In die laaste paar weke het verskeie lede van die Amerikaanse kongres en die huis van verteenwoordigers gevra stappe moet teen Rusland gedoen word. Dit het verskeie Republikeine – Trump se party – ingesluit.

The Guardian in Londen berig Trump is voor die aankondiging oor Obama se besluit ingelig.

Volgens dié koerant het die Russiese owerhede reeds opdrag gegee dat die Anglo-Amerikaanse skool in Moskou gesluit word waar die kinders van Amerikaanse, Britse en Kanadese diplomate skoolgaan.

Dit kan verreikende gevolge vir Westerse diplomate in die Russiese hoofstad inhou.

–Netwerk24/News24/Reuters/AFP

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!