Rust se saak weer eens uitgestel
Jacqueline Louw – Die verhoor van die Okahandja-boer wat daarvan beskuldig word dat hy ’n vermeende wildstroper op sy familieplaas geskiet het, kon vandag nie in Windhoek se streekhof uit die blokke kom nie.
Die rede vir die vertraging was dat die saakdossier nie betyds van die Okahandja-landdroshof af by die aanklaer in Windhoek aangekom het nie. Landdros Alexis Diergaardt het die saak vir ’n week uitgestel sodat alle administratiewe probleme uitgestryk kan word.
Mnr. Kai Rust (44), wat die uitspraak van sy tweede borgtogaansoek vroeër vandeesmaand in die Okahandja-landdroshof sou aanhoor, is in daardie hof meegedeel dat sy verhoor na die streekhof in Windhoek oorgeplaas word en dat uitspraak nie gelewer kon word nie, weens landdros Khaepriums Swartz se ongesteldheid.
Rust is steeds in aanhouding sedert sy inhegtenisname aan die einde van Januarie verlede jaar, ondanks twee borgtogaansoeke en ’n appèl in Windhoek se hoërhof in Junie verlede jaar nadat sy eerste borgtogaansoek nie geslaag het nie.
Rust staan tereg op ’n klag van moord en drie klagte van poging tot moord. Hy is op 27 Januarie verlede jaar in hegtenis geneem in verband met die dood van ’n vermeende stroper, Andreas Ukandanga (41), ná ’n skietvoorval op die Rust-familieplaas in die Okahandja-omgewing.
Rust het onskuldig op al die klagte teen hom gepleit. In ’n pleitverduideliking aan die hof het hy gesê hy was nie van voorneme om Ukandanga of enige ander mens te beseer of dood te maak nie. Hy het ook ontken dat hy op enige wyse nalatig opgetree het of dat dit tot Ukandanga se dood kon lei.
Gedurende sy tweede borgtogaansoek in die Okahandja-landdroshof in Februarie verlede jaar het Rust die hof meegedeel dat die skietvoorval plaasgevind het ná hy en ’n plaaswerker die geblaf van honde by ’n veepos op die plaas ondersoek het.
Rust sal weer op 24 April in Windhoek se streekhof verskyn.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie