Rwanda slaan u2019n nuwe blaadjie om
Rwanda slaan u2019n nuwe blaadjie om

Rwanda slaan ’n nuwe blaadjie om

Daar was nog altyd net een groot probleem met Rwanda: Dit is nie ’n demokrasie nie.
Liesl Louw-Vaudran

Baie mense beskou Rwanda as ’n pragtige groen landjie waar ’n mens veilig kan rondreis en die laaste paar berggorillas van naby af kan beskou.

Ekonome is ook gaande oor die feit dat Rwanda daarin slaag om beleggings te lok, infrastruktuur te bou en vinnige internet aan sy mense verskaf.

Verder het pres. Paul Kagame vir homself ’n reputasie as ’n moderne denker met versiende opvattings oor Afrika se ontwikkeling opgebou. Hy verrig wondere by die Afrika-unie (AU) – of probeer altans – as leier van ’n span wat die organisasie meer doeltreffend wil maak.

Daar was nog altyd net een groot probleem met Rwanda: Dit is nie ’n demokrasie nie. Enigeen wat waag om Kagame teen te staan word summier in die tronk gestop. Joernaliste wat enigsins iets “ongewens” sê of skryf, word in die bek geruk en die meeste van hulle het landuit gevlug.

Internasionale hulporganisasies word ten beste net verdra en maak seker hulle meng geensins by die politiek van die land in nie.

Soos deesdae die mode onder sommige Afrikaleiers is, is die verduideliking hiervoor dat Afrika eers behoorlik moet ontwikkel voordat ware veelparty-demokrasie kan posvat. Demokrasie is morsig en kan ontwikkeling stuit.

Kyk maar na plekke soos Lesotho waar die gedurige gekibbel onder die politici almal se tyd en energie mors. Hulle speel letterlik “musical chairs” en spring van die een koalisie na die ander.

Kagame se argument is dat hy Rwanda in ’n Singapoer van Afrika wil omskep. ’n Land van groot geleenthede en vooruitgang, maar met net ’n skyn van demokrasie.

Ongelukkig werk dit eenvoudig net nie op die lange duur nie.

Afrika is nie Singapoer nie. Ook nie China nie.

Aan die een kant is lande wat uit jare lange koloniale onderontwikkeling kom, nog baie afhanklik van buitelandse hulp, in hierdie stadium (selfs al belowe die Chinese sakke vol geld) meestal afkomstig van Europa en die VSA.

Tweedens is Afrika se inwoners klaarblyklik nie so maklik om te paai nie. Die oorgrote meerderheid van hulle weet van opposisiepolitiek, kyk na internasionale nuus op hul selfone en kan die lewe vir hul outokratiese leiers baie moeilik maak.

Hoe die leiers ook al probeer om hulle met geweld stil te maak (of hoeveel hulle deur volksmoord soos in Rwanda getraumatiseer is), gee iets die een of ander tyd mee. En Kagame besef dit blykbaar.

WOU KAGAME SY BEELD VERBETER?

Verlede naweek het die byna ondenkbare gebeur. Kagame het laatnag aangekondig dat 2 140 politieke gevangenes, onder wie die opposisielid Victoire Ingabire, vrygelaat word.

Dit was roerend om haar storie te hoor.

Ná agt jaar in die tronk omdat sy gedurf waag het om as presidentskandidaat in 2010 se verkiesing teen Kagame te staan, het die 49-jarige Ingabire laatnag in haar tronksel die nuus oor die radio gehoor.

Waarom het Kagame dit gedoen?

Baie bespiegel dat dit as gevolg van buitelandse druk – óf van Frankryk óf van die VSA – was.

Rwanda is die kandidaat om volgende maand die leierskap van die Internasionale Organisasie van die Francophonie, wat 58 Franssprekende lande verenig, oor te neem.

Kagame wedywer hiervoor met Kanada se kandidaat.

* Liesl Louw-Vaudran is ’n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies. – Netwerk24/Berig verkort

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!