Ryan Peterson oor beter seleksie, winsgewendheid

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – ’n Gedugte span sprekers het op Donderdag 6 Augustus, ‘n beesinligtingsdag op die plaas Neu-Otjisauona van Diethelm Metzger in die Seeis-omgewing gehou. Sowat 130 mense het vir die geleentheid opgedaag, onder wie derdejaarstudente in dierkunde aan die Universiteit van Namibië.
Die sprekers was die Amerikaner Ryan Peterson, verkoopsbestuurder van Leachman Cattle in Colorado, Metzger self as eienaar van die Kamabstoet, prof. Frikkie Neser van die Universiteit van die Vrystaat en Kobus Bester, voorsitter van die Simmentaler/Simbra Stoettelersvereniging van Suider-Afrika.
Peterson het onder meer gepraat oor hoe moderne stoettelers die winsgewendheid van kommersiële boerderye kan verbeter en hoe om die regte bul en verse te selekteer en te ontwikkel. Neser het oor die ekonomie van genetiese verbetering gesels, terwyl Bester gepraat het oor wat die telergenootskap doen om die Simmentaler en Simbra se genetika te verbeter en sodoende die kommersiële produsent se winste te verbeter. Metzger het besoekers meer oor sy stoetelery Kamab Simbra vertel en ‘n praktiese demonstrasie is ook aangebied.
Lees hier hoe moderne stoetboere volgens Peterson in Amerika te werk gaan om die kommersiële landbouprodusent se winsgewendheid te verbeter.


Leachman Cattle
Leachman Cattle is reeds vir bykans 40 jaar in die bulbedryf en gebruik Angus-, Rooi Angus- en Stabilizer-koeie. Hy sê die Stabilizer is oorspronklik deur die Amerikaanse regering as ‘n eksperimentele ras uit die Angus- (rooi en swart), Simmentaler-, Gelbvieh- en South Devonbeesras ontwikkel. Leachman Cattle het dit verder tot ‘n ras in eie reg ontwikkel.
Leachman maak ook van Charolais vir kruisings gebruik.
“Ons teel bulle in ‘n netwerk van 35 medewerkers. Dit gee ons toegang tot 7 000 koeie vir embrio-oorplasings en teeldoeleindes,” het Peterson gesê.
Leachman teel jaarliks sowat 1 350 bulle en het sedert 2004 meer as 12 000 bulle bemark. Hulle voer semen en embrio’s na Engeland,
Nieu-Seeland, Australië en Suid-Amerika uit.


Kruiskrag vir perfekte koeie
“Ons streef altyd daarna om die perfekte koei te teel. Jy kan ‘n perfekte koei oor baie jare deur gedissiplineerde genetiese seleksie onder een beesras teel, of in een jaar deur versigtige kruisteling. Ons is ten gunste van kruisteling."
Peterson sê jy kan kruisteling só gebruik dat jou koei in haar omgewing aangepas is en terselfdertyd seker maak jy teel ‘n bees wat vleis gaan lewer wat die mark of verbruiker wil hê.
Leachman sê kruiskrag in hul kudde lei tot ‘n 23% verhoging in speengewig, 30% verbetering in leeftydproduksie (lifetime production), dat koeie 15% langer leef en eindelik 23% meer wins lewer.


Beesvleisproduksie in Amerika
Amerika het net minder as drie miljoen koeie wat vir vleisproduksie gebruik word. Volgens Peterson is dit die laagste wat die syfer in die afgelope sestig jaar was.
“Ons het jaar na jaar ‘n stelselmatige daling in die getal gesien, te wyte aan die groeiende koste van boerdery, die hoeveelheid kapitaal wat belê moet word, die prys van brandstof en hoe deuur arbeid geword het.”
Die Amerikaanse vleisbedryf het ‘n omset van sowat US$44 miljard per jaar. Die gemiddelde kuddegrootte is egter net sowat 40 beeste.
“Vir baie vleisprodusente is boerdery nie hul hoofbron van inkomste nie. Dit is ‘n passie, ‘n stokperdjie. Die gemiddelde ouderdom van produsente is ook 58 jaar,” het Peterson gesê.
Amerika voer vleis ter waarde van sowat US$5,7 miljard na Kanada, Japan, Meksiko en Suid-Korea uit. Die gemiddelde handelsprys vir beeste is US$5,29 per pond.
Amerika slag sowat 31,9 miljoen beeste per jaar. Dit is hoër as die aantal koeie in die land omdat van die beeste nog uit vorige jare oorgehou is.
Koei-kalf-produsente laat hul koeie in die lente of herfs kalf en verkoop die kalwers op die ouderdom van sowat ses maande. Die finale prys word vasgestel volgens gewig en faktore soos of hul gesondheid verseker kan word, hulle hul inentings gekry het, of die ouderdom en herkoms nagespoor kan word en of hulle op natuurlike weiding grootgeword het of nie.


Waardeketting
Amerika se waardeketting is baie soortgelyk aan dié van die Namibiese vleisbedryf. Dit begin by die stoetteler en beweeg na die
koei-kalf-produsent, dan na die voerkraal en die slagpale en uiteindelik na die verbruiker.
Peterson sê egter faktore wat wins maak, verskil in elke segment. Leachman is verbruikersgeoriënteerd en probeer dus sy produk volgens die mark en verbruiker se vereistes aanpas.
Karkasspesifikasies word deur slagpale gebruik om ‘n konsekwente produk aan die verbruiker te lewer. Dit behels dus die karkasgewig en die marmering. Marmering word direk met verbruikers se tevredenheid met hul produk verbind, want dit verbeter die sappigheid, sagtheid en geur van die vleis.
“Hierdie karkasspesifikasies dryf baie van ons besluite in ons telery, want dit verbeter ons winsgewendheid, asook die verbruiker en die koei-kalf-produsent se tevredenheid,” sê Peterson.


Amerikaanse stoettelersbedryf
Die Amerikaanse stoettelersbedryf is in elite stoettelers, stoetteler-vermenigvuldigers en kommersiële produsente ingedeel.
“Eersgenoemde kom met nuwe idees vorendag en teel die goeie bulle. Sommige skou hul diere, maar meestal verkoop hulle direk aan die verbruiker. Die vermenigvuldigers gebruik die bulle en verkoop onder mekaar. Hulle neem dikwels beeste skou toe en vir hulle is stoettelery ‘n belangstelling en ‘n stokperdjie,” verduidelik Peterson.
“Die elite stoettelers se werk is om die beste gene te bied en ook om toenemend beter kliëntediens te lewer. Dit sluit in na-verkopediens en sluit waarborge, na-verkope opvolge, hulp met die seleksie en aankoop van bulle, genetiese konsultasie en hulp met die bemarking van voerkraaldiere in.”
Peterson gebruik ook ‘n aanhaling van Harlan Ritchie van die Michigan Staatsuniversiteit om dit verder te verduidelik: “Kommersiële boere verwag voortdurend meer van genetiese verskaffers. Stoettelers wat hul eie voortbestaan in die toekoms wil verseker, moet daarna streef om eenstopdiens genetiese verskaffers te word.”
Volgens Peterson beteken dit dat stoettelers dienste moet lewer soos aangepaste seleksie-indekse, semen van elite kuddevaars beskikbaar stel, saam met ander belanghebbendes in die vleisbedryf saamwerk, die genetika van voerkraalkalwers beskikbaar stel, verse ontwikkel, en om DNS-toetse as vervanging vir versseleksie aanbied asook die geskatte teelwaardes van kommersiële kuddemoeders beskikbaar te stel.
“Stoettelers moet genetiese seleksie of seleksie-indekse vir die koper vereenvoudig. Ons het data oor geskatte teelwaardes, prestasie-inligting en genetiese tendense en moet dit op ‘n eenvoudige wyse verstrek, sodat die koper makliker ‘n besluit kan neem.”


Groter nie altyd beter
Volgens Peterson is groter beeste wat beter groei moontlik nie die winsgewendste vir vleisboerdery nie. “Navorsing het bewys voortplanting is die belangrikste faktor wat geld in ‘n vleisprodusent se sak bring. Dit beteken ‘n vers moet vinnig dragtig kan raak, sy moet elke jaar kalf en in die kudde bly. Koste soos hoeveel sy eet, moet laag gehou word. Haar kalwers se speengewig is ook belangrik vir geld in die produsent se sak.”
Volgens Peterson soek produsente na maksimum uitsette. Hulle gebruik geskatte teelwaardes om die beeste te identifiseer wat die vinnigste groei en koeie wat die meeste melk gee.
“As ons dit doen, eindig ons egter met kalwers wat vinniger groei, verse wat groter en groter raak, koeie wat al meer begin weeg en meer melk gee.
“Dit kan veroorsaak dat ons kudde se vrugbaarheid daal, dit moeilik raak om die beeste in ‘n goeie kondisie te hou en dat hulle minder kalwers lewer. Groter is dus nie altyd beter nie.”
Peterson sê diere wat beter groei, bereik ‘n swaarder gewig teen ‘n gegewe ouderdom. “Hierdie beeste vreet nie dieselfde as ligter beeste en groei dan beter nie. Gewoonlik vreet hulle meer en groei dan meer. Dit kos jou geld om hulle genoeg te laat vreet.
“Geskatte teelwaardes ignoreer die koste wat met groter groei gepaardgaan. Koeie met ‘n swaarder volwasse gewig, is dikwels minder vrugbaar.”
Peterson het na ‘n studie verwys deur dr. Shane Gadberry aan die Universiteit van Arkansas, waar speengewig en koeie se volwasse gewig vergelyk is. Ligter koeie van sowat 500 kg. tot 600 kg. was meer geneig om ‘n kalf te speen wat tussen 45% en 50% van haar gewig was. Swaarder koeie van sowat 700 kg. was geneig om ‘n baie laer speengewig te lewer.
“Verbeter jou uitset, maar maak seker jy het ‘n baie goeie begrip watter grootte koei die beste in jou omgewing gaan aanpas.”


Voedselinname
Twee beeste kan dieselfde hoeveelheid kos vreet, terwyl een baie gewig optel en die ander minder. Peterson het verwys na twee bulle wat uit dieselfde kudde gekom het. Albei is in die lente van 2012 gebore, die een het eindelik sowat 600 kg geweeg, die ander 620 kg.
Die een bul het sowat 7,7 kg. kos per dag gevreet, die ander 19 kg. Dit is ‘n verskil van 4 139 kg. per jaar. Op die oog af kon jy nie vasstel watter een van die bulle die groter vreter was nie, maar die een se voeromsetverhouding was 4:1 en die ander 10:1.
“Navorsing het bewys voedselinname is ‘n 40% oorerflike eienskap. Die bul met die kleiner voedselinname, sal dus dogters teel waarvan 112 op ‘n gegewe stuk weiding kan loop. Die ander een sal dogters teel waarvan net 75 op dieselfde gegewe weiding kan loop,” het Peterson gesê.
“Dieselfde hoeveelheid gras, maar omdat die een groep geneties aangepas is om minder te vreet, kan meer van hulle op dieselfde weiding geplaas word. Dit beteken jy het dertig meer koeie om te verkoop, eerder as net een of twee meer kilogram per koei.”
Peterson sê Leachman selekteer reeds vir 14 jaar lank vir diere wat minder vreet en meer groei. “Ons is tans die toonaangewende telers in Amerika wat dit betref. Tot 90% van die gene wat in die kudde voorkom, kom van die bulle wat jy die afgelope tien jaar gebruik het.”


Winsdrywers vir voerkrale
Peterson sê volgens opnames wat Leachman gemaak het, kan sommige diere in die voerkraal teen 320 kg. die voerkraal US$1 175 in die sak bring, terwyl ander wat dieselfde weeg, die voerkraal eindelik net US$550 in die sak bring.
Hy het ook ‘n tabel van ‘n voerkraal gewys wat Leachman op grond van die diere se omskakeling van kos na gewig opgestel het.
“Ons het diere gehad wat min of meer dieselfde hoeveelheid kos gevreet het, maar baie verskillend gewig opgetel het. Ander het weer dieselfde hoeveelheid gewig opgetel, maar baie verskillend gevreet. Ons soek ideaal na die diere wat minder vreet, maar meer gewig optel.
“Daar bestaan groot verskille in die opsig onder diere en jy moet daarvoor selekteer.”
Behalwe vir gewig, is vleis se vetinhoud ook een van die beste geldmakers vir voerkrale omdat dit met die gehalte van die vleis verband hou.
Peterson sê hulle het ook gevind dat verbruikers se tevredenheid met hul vleis direk met die gehalte daarvan verband hou. “Dit beteken dat ons moet selekteer vir beter gehalte vleis.”


Selekteer vir wins
Peterson sê vleisprodusente moet vir wins selekteer. Die belangrikste eienskappe vir die teler om voor te selekteer is vrugbaarheid, gemak met kalwing, kalfgroei, die koei se voedselinname en -grootte.
Vir die voerkraal word volgens karkasgewig en -gehalte, die doeltreffende omskakeling van voedsel in gewig en vir daaglikse gewigstoename geselekteer.
Hoe selekteer ‘n mens tegelykertyd vir al hierdie eienskappe? Peterson sê hulle doen dit deur van ‘n seleksie-indeks gebruik te maak wat al dié faktore wetenskaplik balanseer.
“Vleis-, melk- en varkvleisprodusente maak almal van seleksie-indekse gebruik. Indien nie, is hul boerderye binne vier tot vyf jaar nie meer winsgewend nie, want hulle kan nie meer geneties meeding nie,” sê Peterson.
“Watter eienskappe beteken dus ‘n beter inkomste vir die beesprodusent? Dit is koeie wat gemaklik en gereeld kalf, vrugbaarheid, karkasgewig en marmering. Dinge soos koeie se volwasse gewig, haar voedselinname en hoe doeltreffend sy kos in gewig omsit, tel as onkoste. Dit wat oorbly nadat die onkoste afgetrek is, is jou wins.”


Winsindekse
Leachman maak van drie verskillende indekse gebruik op elke bul wat hulle verkoop: Hul US$-teel-indeks, wat selekteer vir vrugbaarheid; die hoeveelheid melk wat ‘n koei kan produseer; volwasse koeigewig asook hoeveel kos die koei vreet. Die tweede US$-voerkraalindeks selekteer vir die doeltreffende omskakeling van kos na gewig, karkasgehalte en -gewig. Die US$-winsindeks is die somtotaal van die vorige twee indekse.
“Sommige mense sê omdat ons op ‘n indeks selekteer, gaan ons diere minder aantreklik voorkom. My baas het egter gesê hy gee nie om of die beeste pers is nie. Solank dit ‘n wins maak en hoog op ons winsindeks is, sal hy hulle teel.”
Peterson het weer na die “topdollar bul” verwys wie se voeromsetverhouding 4:1 was. Hy is nommer een op hul winsindeks, asook van die boonste 0,1% op die voerkraalindeks. Sy karkaseienskappe is uitstekend en sy temperament baie rustig.
“Hy is een van die winsgewendste kuddevaars wat ons ooit geteel het. Die bul se waarde is US$17 138 op ons winsindeks.”
Die bul word nie vir US$17 138 verkoop nie, maar die getal word soos volg gebruik: As jy hom met ‘n bul vergelyk waarvan die waarde US$15 000 is, is die verskil tussen hulle sowat N$2 000. Jy maak die aanname dat die bul 100 kalwers sal lewer en deel dan die N$2 000 deur 100. Die verskil tussen die bulle is dus US$20 per kalf. Dit gee jou ‘n indeks van watter dier se kalwers die meeste werd gaan wees.


Produsente steun op tegnologie
Peterson sê Leachman se indekse help produsente om koeie te teel wat onder 566 kg. weeg, minder as 10,4 kg. droë voer per dag vreet, 92% van hulle skenk elke jaar geboorte en op 205 dae weeg die kalf weeg meer as 45% van die koei se gewig.
“In die voerkraal tel die beeste meer as 1,3 kg. gewig per dag met die indeks op, dit is ‘n voeromsetverhouding van 5:1. Die karkasgewig is meer as 419 kg. en die vleis val in die boonste kategorieë van gehalte,” sê Peterson.
Leachman maak gebruik van dataprogramme soos onder meer Cow Sense, Zoetis, Verified Beef en Genemax om produsente met rekordhouding, seleksie en die aankoop van beeste te help. Dit dien as gereedskap vir produsente om die beste bestuursbesluite oor hul kuddes te neem. Dit help ook om data in die bedryf te ruil. Voorts bied dit ook aan die produsent verskeie hulpmiddels om die beste bestuursbesluite oor hul kuddes te maak.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!