Ryers in die saal vir veiligheid
Ryers in die saal vir veiligheid

Ryers in die saal vir veiligheid

Fietsry
Des Erasmus
Des Erasmus - 'n Veldtog vir die bevei­liging van fietsryers op Namibiese paaie is besig om landwyd uit te kring ná 'n onlangse botsing by die weegbrug net noord van Walvisbaai op die hoofweg na Swakopmund.

Be Seen, Be Safe, noem ­die Walvisbaaise organiseerders die plan wat lewens kan red.

Walvisbaaise fietsryers het spontaan met die veldtog begin ná die botsing op die teerpad waarin verskeie fietsryers beseer is.

“Ons doel is die beveiliging van alle fietsryers in Namibië,” het Bones Kuhn, self 'n fietsryer en een van die organiseerders van Be Seen, Be Safe, aan Republikein gesê. “Ons streef na groter respek tussen motorryers en fietsryers.”

In die veldtog gaan helder baniere, skadutente, vlug­skrifte, plakkers en pamflette in helder kleure gebruik word. Met die wegtrek word 'n bewusmaking van fietsryers tydens byeenkomste van die sentrale kus nagestreef. Linte met slagspreuke oor veiligheid word selfs rondom dromme aangebring wat gebruik word om die roetes van die fietsryers aan te dui.

Inligtingsbyeenkomste sal ook by skole en ook met taxibestuurders gehou word. Die reklamemateriaal in belang van veiligheid word ook op dromme op die roete om die Walvisbaaise strandmeer, roetes van die sentrale kus, by parkeergebiede, op Hentiesbaai, by Nonidas buite Swakopmund, Duin 7 en by padblokkades aangebring.

Tydens vakansietye sal die veldtog verskerp word. Van die reklamemateriaal sal ook langs die B2-hoofweg tussen die kus en die binneland aangebring word.

Kommentaar

Republikein 2025-04-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer