Rykes en aandele-beleggers ergste getref
‘n Nuwe belastingkerf vir superrykes is ingestel wat meer as R1,5 miljoen per jaar verdien.
Francois Williams - Rykes en aandelebeleggers word die ergste getref in Pravin Gordhan se begroting van 2017.
’n Nuwe belastingkerf vir superrykes wat meer as R1,5 miljoen per jaar verdien, is ingestel. Hulle gaan belasting betaal teen ’n koers van 45% vir elke rand wat hulle meer as R1,5 miljoen verdien, benewens die basisbedrag van R533 625.
Dividendbelasting word van 15% tot 20% verhoog, wat sleg is vir mense wat staatmaak op die dividende op hul aandelebeleggings om hul aftreegeld te laat groei of vir afgetredenes wat reeds swaar steun op enige dividendinkomste.
Saam met die gewone verhogings in belasting op brandstof, tabak en drank, en ’n kleiner aanpassing van belastingkerwe wat nie volledig vir inflasie voorsiening maak nie, gaan dit R28 miljard se bykomende belastinginkomste vir die staatskas bring.
Die minister van finansies het egter nie veel van ’n keuse gehad nie, want staatskuld staan nou op R2 200 miljard, oftewel ’n allemintige 50,7% van die bruto binnelandse produk (BBP).
Die tesourie sal vanjaar R149 miljard moet leen – 3,1% van die BBP – om die begroting te laat klop. Hy sal R169 miljard net aan rente moet betaal. Die mikpunt is om die staatskuld oor die volgende drie jaar weer tot onder 50% te kry, op sowat 48%.
Gordhan het nietemin ’n sterk pleidooi tot Suid-Afrikaners gerig om te verenig agter pres. Jacob Zuma se visie van radikale ekonomiese transformasie. Transformasie is nodig om te kan groei, maar sonder groei kan daar ook nie getransformeer word nie.
Ontwikkeling
Hy het verwys na die Nasionale Ontwikkelingsplan deur te sê Suid-Afrika hét ’n plan vir ’n inklusiewer gedeelde ekonomie – die inwerkingstelling daarvan kort net groter dringendheid en doeltreffende samewerking van alle belanghebbendes.
In ’n verskuilde stekie na kringe in die regering en die EFF wat dreig met grondonteiening sonder vergoeding en ander radikale, populistiese uitsprake, het Gordhan gesê transformasie moenie bereik word deur oorname, konflik of afpersing soos in die verlede nie.
“Ons wil nie die rasse-oorheersing herhaal wat apartheid-nasionalisme gekenmerk het nie. Ons transformasie sal gebou word deur ekonomiese deelname, vennootskappe en die mobilisering van al ons vermoëns. Dit is ’n transformasie wat Suid-Afrikaners moet verenig, nie verdeel nie.”
Die herverspreiding van hulpbronne om onderwys, gesondheidsdienste en munisipale dienste in landelike gebiede te steun, is steeds die hoofrigting van die regering se bestedingsprogramme, sê Gordhan.
Die regering gaan verder belê daarin om munisipaliteite se geldbestuur op te knap. ’n Nuwe standaard vir rekeningstate vir munisipaliteite gaan op 1 Julie vanjaar in werking gestel word om groter deursigtigheid en konsekwentheid in munisipale finansies te verseker. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie