Rykes word net nóg ryker

‘n Nuwe verslag oor ongelyke inkomste sonder Suid-Afrika saam met Brasilië en die Midde-Ooste uit as die drie ongelykste plekke ter wêreld.
Aldi Schoeman

Anders as in Brasilië en die Midde-Ooste, waar inkomste-ongelykheid die afgelope drie dekades afgeneem het, het ongelykheid in Suid-Afrika toegeneem. Thomas Piketty, ’n wêreldbekende Franse ekonoom, was een van die opstellers van dié verslag, wat gegrond is op die werk van meer as 100 navorsers wêreldwyd.

In Suid-Afrika verdien 10% van die mense sowat twee derdes van die geld wat in die land verdien word. Die boonste 1% verdien 20% van al die inkomste.

Luidens die verslag is die meeste van die rykste mense wit, ten spyte van hervormende beleid wat op arm mense gemik is.

Hoewel sommige swart mense se inkomste die afgelope drie dekades gestyg het en die inkomstegaping tussen rassegroepe nou kleiner is, het ongelykheid in die swart, bruin en Indiër-bevolking toegeneem. As gevolg hiervan is daar nie ’n afname in ongelykheid nie, lui die verslag.

Die idee van die opkoms van ’n middelklas in Suid-Afrika word selfs bevraagteken. Die opstellers van die verslag meen dis eerder ’n geval van die rykste Suid-Afrikaners wat dieselfde verdien as die rykste Europeërs, terwyl die armste Suid-Afrikaners dieselfde verdien as die armstes in Afrika.

In 2014 was die gemiddelde inkomste per volwassene van die rykste 10% vergelykbaar met dié van die rykste Franse, Spanjaarde of Italianers.

Oorsake

Navorsers skryf die mislukking om inkomste beter te versprei aan die volgende redes toe:

Meer swart mense is in geskoolde werk in diens geneem (insluitend die staatsdiens en ander goed betaalde staasposte) terwyl die gemiddelde salarisse vir dié werk ook toegeneem het.

Grond is nie suksesvol herverdeel nie.

Die opheffing van boikotte was waarskynlik tot groter voordeel vir mense met goeie opleiding en ryker mense wat uit die blootstelling aan internasionale markte kon voordeel trek.

Die beleid van groei, werkskepping en herverdeling (Gear), wat in 1996 ingestel is, het minstens op die kort termyn ook die rykstes bevoordeel en die armstes blootgestel.

Die vinnige groei in die 2000’s tot middel 2010’s is gedryf deur die styging in kommoditeitspryse, maar nie soveel werksgeleenthede as wat die regering gehoop het is geskep nie. In 2002 het die rykste 1% minder as 18% van die totale inkomste verdien. Dit het gegroei tot 21% in 2007 en afgeneem tot minder as 20% in 2012-2013. Dit weerspieël die beweging van kommoditeitspryse.

Wêreldwyd

Dit is egter nie net in Suid-Afrika waar ongelykheid toeneem nie. Trouens, dit is ’n wêreldwye tendens. Sedert 1980 het inkomste-ongelykheid toegeneem in Noord-Amerika, China, Indië en Rusland.

Luidens die verslag is dit wel duidelik dat beleid ’n verskil kan maak om ongelykheid te bekamp of te vererger. As daar byvoorbeeld gekyk word na China, Indië en Rusland, sien ’n mens die toename was skerp in Rusland, matig in China en relatief geleidelik in Indië. (Sien grafika.)

Nog ’n voorbeeld is die VSA teenoor Wes-Europa, waar ongelykheidsvlakke baie dieselfde was in 1980. In albei gebiede het die top-1% toe sowat 10% van die inkomste verdien. Daarteenoor het die top-1% van Wes-Europeërs in 2016 sowat 12% van die inkomste verdien, terwyl die top-1% van Amerikaners 20% van die inkomste verdien het. In die VSA het die armste 50% nog armer geword. In 1980 het hulle 20% van die inkomste verdien, en in 2016 het hulle net 13% van die inkomste verdien.

Dit kan toegeskryf word aan die VSA se ongelyke onderwysstelsel asook ’n belastingstelsel wat minder progressief geword het.

In Europa het die belastingstelsel nie soveel minder progressief geword nie en boonop is beleid opgestel om onderwys en beter lone vir meer mense te verseker.

Die middelklas

Nes in Suid-Afrika kry die middelklas wêreldwyd swaar.

Die armste helfte van die wêreld se bevolking se inkomste het noemenswaardig gestyg danksy groei in Asië, veral China en Indië.

Die wêreld se rykste 1% se inkomste het sedert 1980 twee keer meer gegroei as dié van die onderste 50%. Vir die inkomstegroep tussen die armste helfte en die rykste 1% – die middelklas – was inkomstegroei traag (kyk grafika.)

Indien die tendense soos in die VSA, Rusland, Indië en China voortgesit word, gaan ongelykheid net vererger, lui die verslag.

Swaai ongelykheid só om

Om die tendens van ongelykheid om te swaai, stel die navorsers die volgende voor:

Progressiewe belastingbeleid: Volgens die opstellers van die verslag verminder progressiewe belastingkoerse nie net ongelykheid nie, maar dit verminder ook die topverdieners se motivering om vir groter salarisse te beding. Verder is daar in ontwikkelende lande byna geen erfbelasting nie, wat “ruimte laat vir belangrike belastinghervorming” in hierdie lande.

Voorkoming van belastingontduiking: Belasting is ’n belangrike manier om ongelykheid te voorkom, maar belastingontduiking is ’n klip in die pad, lui die verslag. Sowat 10% van die wêreld se bruto binnelandse produk (BBP) is op die oomblik in sogenaamde “belastingskuilings”.

Beter toegang tot gehalte-onderrig en gehalte-werksgeleenthede: Die navorsers beveel aan dat deursigtige doelwitte gestel word en finansieringsmodelle in ryk en ontwikkelende lande verander word sodat meer mense toegang kan kry tot opvoeding. Minimumlone moet ook oorweeg word.

Investering deur die regering: Lande met hoë skuldvlakke moet dít verlaag sodat hulle kan belê in onderwys, gesondheid en die beskerming van die omgewing. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer