Rykste mens in Afrika al ’n derde ‘armer’ in 2016
Hanlie Stadler - Die rykste mens in Afrika het vanjaar al amper ’n derde van sy fortuin “verloor”, maar die tweede rykste word net al hoe ryker.
Aliko Dangote se netto batewaarde in dollar het tot 6 September met 31,7% tot US$10,4 miljard gedaal, volgens Bloomberg se miljardêrsindeks, wat daagliks bygewerk word.
Dit beteken die Nigeriese magnaat het nagenoeg US$4,8 miljard “armer” geword. Dangote, wat nr. 116 op Bloomberg se lys is, voel darem nie al dié pyn aan sy bas nie. ’n Groot deel daarvan kan toegeskryf word aan die devaluasie van die Nigeriese naira in Junie.
Sedert Januarie 2014 het hy 62% van sy netto batewaarde weens die daling in hulpbronpryse verloor.
Dangote het sy fortuin uit suiker, meel en sement gemaak, maar die Dangote-groep het vandag filiale in die vervoer-, olie-en-gas-, telekommunikasie-, bank- en eiendomsektor. Die maatskappy het meer as 11 000 werknemers in Wes-Afrika. Die tweede rykste mens in Afrika is Christo Wiese, wat vanjaar al 11,4% ryker geword het en nou in US$7,1 miljard werd is, volgens Bloomberg se indeks. Hy is nr. 185 op die lys.
Wiese is die hoofaandeelhouer van die meubel- en klerekleinhandelreus Steinhoff en ook van die beleggingsbeheerfirma Brait, wat onder meer die meerderheid van Virgin Active besit. Bloomberg se raming van mense se netto batewaarde verskil van Forbes se lys, wat ook sy indeks van rykste mense daagliks bywerk.
Volgens Forbes is Dangote nr. 87 in die wêreld en US$12,5 miljard werd en Wiese nr. 203 en US$6,8 miljard werd.
Die verskille hang af watter bates ingesluit word en watter nié, asook van beraamde eiendomswaardasies en belange in ongenoteerde eiendomme. Quartz en ander webwerwe het al voorheen berig oor omstredenheid oor die metodologie wat Bloomberg en Forbes gebruik om hul syfers te bereken. Die bedrae moet dus met ’n knippie sout geneem word.
- Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie