Só beroerd is sake by Eskom

Eskom, wat tans sowat 95% van Suid-Afrika se elektrisiteit opwek, is meer as R440 miljard in die rooi.
Bloomberg - Tito Mboweni, minister van finansies, het in sy begrotingsrede in Februarie beloof die staat gaan R230 miljard oor die volgende tien jaar aan Eskom toewys om dié sukkelende kragreus weer op dreef te kry. Dié bedrag sal egter volgens Bloomberg nie naastenby genoeg wees om Eskom uit sy huidige verknorsing te red nie – ’n verknorsing wat na verwagting oor die volgende dekade net gaan vererger. Eskom, wat tans sowat 95% van Suid-Afrika se elektrisiteit opwek, is meer as R440 miljard in die rooi.

Dit is R250 miljard méér as wat die kragreus kan bekostig om terug te betaal, sê Jabu Mabuza, voorsitter. Dit beteken die staat se reddingsboei gaan hoofsaaklik verswelg word deur ’n groeiende skuldlas, terwyl bedryfskoste ook aanhou toeneem. Die elektrisiteitsverskaffer het minstens R25 miljard in die laaste jaar tot einde Maart verloor en genereer nie genoeg van ’n inkomste om sy skuld – of die rente daarop – te betaal nie. Pres. Cyril Ramaphosa het in Desember – te midde van ’n landwye kragkrisis waartydens beurtkrag herhaaldelik toegepas moes word – ’n spesiale taakspan aangewys om Eskom te red.

Die staatsinstelling, wat na verwagting vandeesmaand nog sy jongste resultate uitreik, gaan reeds jare lank gebuk onder ernstige wanbestuur en wanbesteding. Afgesien van stygende bedryfskoste by sy bestaande kragstasies, moet Eskom nóg miljarde aan die oprig van nuwe geriewe belê om aan Suid-Afrika se toekomstige kragbehoeftes te voldoen. Dit sluit in verskeie verouderde kragstasies wat vervang moet word. Terselfdertyd moet Eskom ook sy vrystelling van gevaarlike koolstofgasse verlaag om internasionale teikens teen 2025 te behaal, iets waarvoor hy nie naastenby genoeg begroot het nie. Volgens Eskom is hy besig om met die regering te vergader om die pad vorentoe te bespreek, insluitende hoe die reddingsboei van R230 miljard uiteindelik aangewend gaan word.

Toe Eskom in 2018 bakhand voor die nasionale energiereguleerder (Nersa) gestaan het vir ’n tariefverhoging, het hy aangedui hy benodig minstens R711 miljard oor die volgende vyf jaar net om elektrisiteit op te wek.

Dit is net om koste soos steenkool, diesel, water en verrykte uraan te dek wat nodig is om krag op te wek. Eskom verwag die prys van steenkool alleen sal oor die volgende paar jaar met minstens 50% styg.

Afgesien daarvan, begroot Eskom minstens R60 miljard per jaar om sy lopende bedryfskoste, insluitende salarisse, te dek.

Nersa het Eskom toestemming gegee om kragtariewe met ’n gemiddeld van 7,6% oor die volgende drie jaar tot Maart 2022 op te stoot.

Dit is net meer as die helfte van die eintlike verhoging waarop Eskom gehoop het. Die prys van krag styg reeds die afgelope dekade met meer as inflasie, maar steeds kan Eskom nie sy lopende koste uit die verkoop van krag verhaal nie. Weens die laer verhoging wat Nersa toegestaan het, sal Eskom minstens R101 miljard minder oor die volgende drie jaar verdien as waarop hy gehoop het.

Eskom het steeds meer mense in diens as wat hy kan bekostig. Die kragverskaffer het nou 48 600 werknemers, 16 000 meer as ’n dekade gelede. Eskom erken ’n groot hoeveelheid van dié werkers is oorbodig. ’n Studie deur die Wêreldbank het in 2016 gereken 66% van Eskom se werkmag is eintlik onnodig. Afleggings is egter nie noodwendig ’n opsie nie weens sterk teenkanting van al die vernaamste vakbonde wat danksy politieke bande beskerming geniet. – Bloomberg, bygewerk

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!