Só boer jy in 'n woestyn

Die woestynboer lei sy olyfboord met soutwater nat, terwyl hy tot 750 komkommers per week aan kusdorpe lewer.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Hentiesbaai se Cloetes is 'n bewys dat jy selfs suksesvol in 'n woestyn kan boer. Hulle boer net buite die kusdorpie by hul Green Grow-boerdery met sowat 4 000 olyfbome en agt tonnels komkommers.

Die Cloetes het in 2014 hul eerste tonnel hier opgerig.

“Ons het eers net die olywe gehad, maar toe besluit om met groente ook te eksperimenteer,” het Stiaan aan AgriMonitor tydens 'n onlangse besoek aan sy boerdery vertel.

Hy sê hulle het besluit om dit te doen omdat daar nie baie vars groente op die dorp te koop was nie.

“Ons het aanvanklik 'n klomp groente daarin vir ons self gekweek, nie vir die dorp nie. Naderhand het ons meer kommersieel begin raak,” het hy vertel.

KOMKOMMERS

Stiaan sê hulle maak hul eie komkommersaailinge, wat uitgeplant word sodra dit twee blare het. Die saad word op die plaaslike mark gekoop. Elke komkommerplant het 'n leeftyd van sowat drie maande. Dan word die tonnel gesteriliseer voordat nuwe saailinge gekweek word.

Tans kweek hulle net komkommers, maar hy het al met tamaties, soetrissies en groenboontjies geëksperimenteer om te kyk of dit werk, vir ingeval hy naderhand moet diversifiseer.

“Vir nou boer ons net met komkommers. Ek het eerste daarmee begin, want 'n mens moet jou werkers oplei – wat moeiliker is as jy byvoorbeeld reeds met vier verskillende soorte groentes boer.

“Doen eerder een ding behoorlik, dan het jy ook genoeg volume vir jou mark. Handelaars wil nie hoor dat jy een dag voorraad het en die volgende dag nie. Sodra ons die mark versadig, wat ek dink binnekort gaan gebeur omdat baie mense nuut tot die bedryf toegetree het, sal ons diversifiseer,” het hy gesê.

Stiaan sê hy oes sowat 750 komkommers per week per tonnel onder ideale toestande, terwyl oeste in die winter met sowat 30% verlaag. Produsente word enigiets tussen N$3 tot N$7 per komkommer betaal.

Hy het heeltyd ses van sy agt tonnels in produksie en bestuur dit twee-twee, as 'n eenheid.

Stiaan se komkommers kan oral aan die kus gekoop word.

Hy sê sy planne is om vanjaar verder uit te brei deur dalk groente soos tamaties en soetrissies te begin kweek, wat sy aanbod vir die kosmandjie kan verbeter en ook met die verspreiding van sy produkte kan help.

Hy sê omdat daar minder mense langs die kus is as byvoorbeeld in Windhoek, kan jy nie té groot met 'n enkele gewas gaan nie en is diversifisering belangrik.



KLIMAAT

Stiaan sê by Hentiesbaai moet jy in 'n tonnel boer, omdat die klimaat te koud is. Dit help met die hitte wat die plante nodig het om te groei.

“Anders as byvoorbeeld boere op Tsumeb wat buite boer, moet ons in tonnels boer. Ons het net nie genoeg sonskyn nie en die tonnel help met lig en hitte. Die tonnels is egter meer gespesialiseer vir rankplante, soos onder meer komkommers, soetrissies, tamaties en groenboontjies.

“Ek dink nie dit maak sin om iets te plant wat net op die grond groei nie, jy het volume nodig, want 'n tonnel is 'n baie duur struktuur.”

Hy sê tydens die wintermaande bied die kus se warm oosweer 'n uitdaging, wat die plante heeltemal kan verskroei. Hulle het reeds 'n nat muur geïnstalleer om die winterwind vogtiger te maak.

Hulle probeer om 'n temperatuur van 26 grade Celsius in die tonnel te handhaaf, asook 'n humiditeitsvlak van 60% tot 65%.

“In Hentiesbaai is die humiditeit buite meestal 'n konstante 85% en in die tonnel, waar dit warmer is, daal dit tot 60% of 65%.”

Stiaan sê hulle reguleer die temperatuur deur van die natuurlike wind gebruik te maak wat bykans elke dag vanaf die see waai. Hy sê dit is een van die voordele om langs die kus te boer, om nie onkostes aan te gaan vir verkoeling of verhitting nie.

Die tonnels het seile wat oopgemaak kan word en het ook 'n misprogram wat benut kan word, sou die humiditeit laag raak.

“As dit te warm raak, moet ons ook van ons missproeiers gebruik maak.”



WATER

Stiaan sê hy maak gebruik van 'n hidroponiese stelsel. Die plante groei in kokosturf en word met druppertjies natgemaak. Die stelsel word deur 'n rekenaar beheer wat sorg dat die plant elke uur water kry.

“Soos die temperatuur wissel, pas ons die besproeiing egter aan,” vertel hy. Plantvoeding word ook in tenks aangemaak en hoe groter die plant, hoe meer voeding kry dit.

Elke tonnel gebruik sowat 1 m³ water per dag. Hulle gebruik dorpswater, maar “jou somme klop nog steeds want jy het 'n hoëwaarde gewas wat jy verbou,” sê hy.



OLYFBOORD

Stiaan het altesaam sowat 4 000 olyfbome geplant, waarvan die oudstes sowat sewe jaar oud is.

“Ons maak net olyfolie daarvan wat landswyd te koop is. Dit word onder die naam No. 50 Olyfolie verkoop.”

Hy verduidelik hulle het die naam gekies omdat die olie helfte-helfte van die twee olyfboomvariëteite gemaak word wat in hul boord geplant is, terwyl hulle ook op die 50 myl merk vanaf Swakopmund geleë is.

Stiaan sê hy het besluit om aanvanklik met olyfbome te boer nadat hy wingerd- en wynkunde studeer het.

“Uit die aard van die saak kon ek nie lekker wyn hier maak nie. Daarom het ons in die plante ingegaan en vir my was olyfbome die naaste aan 'n wynboerdery.”

Die bome word natgelei met brakwater uit 'n boorgat, wat andersins nie vir menslike gebruik geskik sou wees nie.

“Dit kan wel vir die bome gebruik word. Die sanderige grond waarin hulle geplant is, help dat ek daarmee kan wegkom om hulle met die souterige water nat te lei,” het hy vertel.

Hy sê sy olyfbome blom tans en dan word daar in April of Mei geoes. Hy het die bome teen 'n super hoë digtheid geplant en as hulle dit oes, word dit soos 'n laning geoes.

“Olyfbome is baie klimaatsgebonde, jy moet seker maak jy kies die regte variëteit vir die regte gebied. Hulle het nie werklik baie peste nie en selfs die voëls eet dit nie graag nie.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer